Swakheid kan ‘n goeie ding wees!

Die psalmdigter sê in Ps 84:6 “Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind.” Is jy moeg?  As jy saans by die huis kom –  is jy uitgeteer, sonder krag en energie. Die rede hoekom dit so is, is baie eenvoudig. Jy is ‘n gewone mens. Jou krag het beperkinge. God se krag is onbeperk, maar jou krag het limiete. Jou kragte is uitputlik, maar God se krag is onuitputlik. God se energie hou nooit op nie. Hy word nooit moeg nie. As jy wil aanhou en volhard, sal jy moet staatmaak op God se krag (Ps 84:6). Daarin vind ons ook baie seën. Een van die merkwaardige christene van die negentiende eeu was ‘n man met die naam van Hudson Taylor. Hy was ‘n sendeling in Sjina, ‘n geestelike reus. Op sy oudag het hy sy gesondheid verloor en het hy baie verswak. Hy het in ‘n brief aan ‘n vriend die volgende geskryf:  “I am so weak I can no longer work. I am so weak I can no longer study. I am so weak I can no longer read my Bible. I cannot even pray. I can only lie still in the arms of God like a little child in trust.” Op ‘n gegewe tyd in jou lewe gaan jy so swak wees dat jy nie eers kan bid of Bybel lees nie, of ‘n Groeigroep bywoon, werk of enigiets doen nie. Wat doen jy in daardie oomblikke? Jy rus in die Here, in sy arms soos ‘n klein kindjie en jy vertrou Hom! Swakheid kan eintlik ‘n goeie ding in jou lewe wees indien dit jou daartoe lei om op die Here te vertrou en jou krag in Hom te soek en vind. Paulus het in sy lewe ontdek dat God se genade in sulke tye vir hom oorgenoeg is – dat God se krag juis in menslike swakheid na vore kom. Hy het ontdek dat wanneer hy swak is, hy dan juis swak is, dat God se krag juis deur ons swakhede tot openbaring kom (2 Kor 12:8-10). Dit is die paradoks van ‘n lewe wat in afhanklikheid van God geleef word. Hoe swakker jy is, hoe meer vertrou jy op Hom. Hoe meer jy op Hom vertrou, hoe sterker word jy in die Here! Kom ons onthou hierdie woorde as ons die derde kwartaal tegemoet gaan. Mag dit ‘n geseënde tyd vir jou wees!

Recommended Posts