Monthly Archives: November 2019


Vrugte wat sal hou!

Jesus sê vir sy dissipels in Joh 15:16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.”

God se sending is bedoel vir almal wat aan Hom behoort. Hy het ons gekies om uit te gaan en vrugte te dra. Daar is nie genoeg sendelinge in die wêreld om God se missie te vervul nie. Daarom wil Hy vir my en jou ook gebruik waar ons woon en werk. Ons is ook sy sendelinge wat vrugte sal dra.

Vrugte is ‘n metafoor vir ‘n suksesvolle, groeiende, florerende, produktiewe lewe. Jesus wil hê dat ons vrugte sal dra wat sal hou. Hier teen die einde van die jaar word ons moeg, uitgeput en oorlaai. Ons is nie altyd lus om vrugte te dra nie, ons wil nou net die werksjaar eindig dat alles klaarkom en ons kan gaan rus. Nee, Jesus gee vir ons vrugte wat sal hou – deur elke tyd van ons lewens. Ook wanneer ons met vakansie gaan, gaan ons nogsteeds goeie vrugte dra wat sal hou.

Meeste van dit wat ons doen sal nie hou nie. Dit sal ook nie vir altyd onthou word deur ander nie. Niemand sal na tien jaar vanaf my afsterwe die meeste dinge onthou van wat ek gedoen het nie. Hulle sal nie omgee vir die flieks wat ek gesien het, die boeke wat ek gelees het, die vakansies wat ek geniet het nie. Dit sal alles vergete wees. Jesus wil egter hê dat ek iets sal doen wat sal hou en wat vir altyd onthou sal word.  Daar is twee dinge wat regtig sal hou: die waarheid en mense.

Dink aan die volgende situasie: iemand kom na jou toe eendag in die hemel:

“Ek wil net vir jou baie dankie sê!” 

“Vir my dankie sê?”  “Ek ken jou nie eers nie?”

 “Jy’s reg, jy ken my nie, maar jy was betrokke by ‘n bediening, ‘n uitreik- of noodsorgprojek by jou kerk. Jy het iets gedoen wat my moed gegee het, jy het my help glo in God,  dat ek Hom beter kon leer ken. Ek is in die hemel as gevolg van jou! Ek is vir altyd jou vriend, jou broer en suster in Christus!”

Niks wat jy doen is meer belangrik as om mense te help om die bestemming van hulle lewe te bereik nie. Dit is vrugte wat sal hou! William James het gesê: “The greatest use of your life is to invest it in that which outlasts it.”  Niks wat jy doen is meer belangriker as om mense te help om die ewige lewe te ontvang. Met jou lewe gaan jy hulle aanraak en inspireer om hulle verhouding met God reg te maak. Wat ‘n onuitspreeklike voorreg!

Jy mag dalk ‘n onderwyser wees, ‘n boekhouer, ‘n tuisteskepper, afgetree, ‘n nutsman. Jou grootste roeping is om die gawes wat God vir jou gegee het te gebruik om ander mense te help om hulle harte oop te maak vir God se nuwe lewe. So dra jy vrugte wat sal hou.


Vyf Kernwaarhede wat jou sal vry maak!

Die gebeure in ons erediens op doopsondag, het my opnuut laat nadink oor die vyf kernwaarhede wat die Franciskaanse teoloog Richard Rohr ‘n tyd gelede gedeel het. Wanneer ons hierdie waarhede aanvaar, bring dit ongekende vrede en vryheid. Ons leef in ‘n selfgesentreerde tyd waar mense al meer op hulself fokus. Hierdie waarhede is goeie medisyne ten opsigte van meer realistiese verwagtinge in ‘n beperkte en onvolmaakte wêreld. Dink goed na oor die volgende:

  1. Die lewe is hard

Ons lewe in baie gemaklike tye met baie geriewe rondom ons. Ons hou nie van ongerief en lyding nie. Ons voorouers het verstaan dat lyding deel van hul lewens was. Wanneer ek besef en aanvaar dat die lewe soms hard kan wees, berei dit my voor om swaartye met grasie te hanteer. Dit bring ‘n vreemde soort vrede. Ons word vry van onrealistiese verwagtinge. Ons word dankbaar vir die vreugdes wat ons beleef (Joh 16:33).

  • Jou lewe gaan nie oor jou nie.

As jy God wil laat glimlag, vertel Hom van jou planne. Hy het dalk ander planne vir jou. Soms dink ons dat ons lewens net gaan oor dit wat ons wil doen. My lewe raak ook God – en ander mense om my. Ware geluk kom nie wanneer ek begin kry wat ek wil hê nie, maar wanneer ek die Here begin vra wat Hy wil hê. Ek volg nie my eie ster nie, maar vir God. Dis waar ware vrede te vinde is. Dit sal goed wees om uit te vind hoe pas ek by God se plan in, nie waar pas Hy by my planne in nie (Matt 6:33).

  • Jy is nie in beheer nie.

Beheer is ‘n illusie. Ek mag dink ek is in beheer, maar dis nie waar nie. More mag nooit kom nie. Ons pogings om te beheer en uitkomste te manipuleer is komies en dikwels skadelik. Beheer bring maar net meer angs en woede. Dit bring ‘n vreemde rustigheid wanneer jy besef jy kan nie alles beheer nie. Dit maak jou ‘n slaaf wanneer jy kommer oor onvoorspelbare dinge. Om te te laat gaan, is bevrydend (Jak 4:13-16).

  • Jy is nie so belangrik nie.

Ek het gedink die hele wêreld draai om my. Ek het gedink dis net my gevoelens en gerief wat saak maak. Natuurlik het God my besonders lief, maar ek moet besef dat Hy ander ook net so liefhet. Daarom moet ek hulle respekteer. Die harde waarheid is dat ander mense soms belangriker is as ek. Hulle het my aandag en liefde intens nodig. Ek staan terug en dien hulle met Jesus se liefde. Die wêreld is nie daar net vir my nie. Wanneer ek dit verstaan en aanvaar, bring dit ongekende vrede en vryheid. Nou kan ek ook ander mense se belangrikheid vier (Fil 2:3).

  • Jy gaan sterwe.

Dis hard, maar waar! Gaan stap vir ‘n slag deur die begraafplaas. Hulle wat daar te ruste gelê is was ook almal, soos ek en jy,  opgewerk oor wat die lewe na hulle gegooi het. Hulle stryde is nou verby! Indien hulle getrou was, sal hulle nou by God wees. Hulle besef nou dat swaar tye nie vir altyd hou nie. Dus, maak gereed om God te ontmoet. Dis is my dringendste prioriteit. Dit maak ons vry van die oordrewe en teenstrydige eise van die wêreld om ons. Ons fokus op die één ding wat ons moet doen. My lewe word eenvoudiger en ek neem die lewe nie so ernstig op nie. Dit alles sal verbygaan.

Dink na oor hierdie waarhede. Trek hulle weer nader wanneer die lewe hard en vinnig na jou toe kom met sy agenda van beheer, self-belangrikheid, leë beloftes en perfekte gerief op die aarde. ‘n Eenvoudige, sober, nederige en gefokusde lewe bring vrede en vryheid.


DIE DAG TOE DIE HERE OUMA LIEFIE KOM HAAL HET..

Laas sondag het die Here ‘n besondere afspraak met ons gemeente gehad – ook met die doopfamilie Giesing. Niemand het verwag dat so iets sou gebeur nie. Ons het beplan vir feesvieringe en vreugde, maar dit was van korte duur, want skok en hartseer het die plek daarvan ingeneem. Die Here het haar kom haal in ons liturgiese ruimte, aan die begin van ons oggenddiens. So kom die dood dikwels na ons, onverwags en skielik. Soms gee die dood ons nie kans om alles eers gereed te kry sodat dit so gemaklik as moontlik gebeur nie. As jou tyd daar is, is dit daar!

Al was dit vir ons almal ‘n skokkende en onverwagse ervaring, is daar so baie goeie dinge wat ons op grond daarvan saam met ons kan neem. Ouma Liefie het die Here geken en gedien – sy was ‘n jarelange kerkganger in Delareyville, haar tuisdorp. Sy was gesond en lewendig, met bykans geen gesondheidsprobleme nie. Sy was baie geliefd onder haar familie en vriende. Sy het baie uitgesien na klein Leander se doop en spesiaal met familie na Pretoria gereis om hierdie besondere geleentheid mee te maak. Sy sou dit vir niks misloop nie. Min het sy en enige van ons geweet wat God intussen vir haar beplan het verlede sondag.

Wanneer ons ouer word, word hierdie familiegeleenthede al hoe belangriker. Familiebande word vir ons belangriker. Daarom word sulke geleenthede gekoester. Sy wou hier wees om dit alles te aanskou. Die oomblik was vir haar te groot – sy kon nie die geleentheid end-uit meemaak nie. Sy het haar laaste asem uitgeblaas aan die begin van die doopgeleentheid. Dit was vir haar goed om by ons te wees – by haar dierbares, by Leander. Sy het nie ‘n siekbed gehad nie, maar haar aardse lewe het geëindig op ‘n hoogtepunt,  op ‘n vreugde-oomblik, by die doop van haar agter-kleinseun. Boonop was sy in die kerk, by die Here se mense, by al haar familie. Geruisloos, sonder enige geluid het sy rustig inmekaar gesak, tevrede, terwyl sy haar aardse lewe oorgegee het aan haar Skepper.

Ons was hartseer en geskok, maar as ons na die groter prentjie kyk, voel ons bevoorreg dat ons kon sien hoe een van die Here se eie by die wenstreep uitkom. Die wenstreep was vir haar in die liturgiese sentrum van Garsfontein Gemeente. Sy het haar laaste offer van lof en aanbidding aan die Here gebring – die oorgee van haar laaste stukkie asem en krag aan haar Skepper. Ouma Liefie is nie dood nie, sy lewe by God. Sy het oorgegaan van die lewe na die ewige lewe. Sy het haar plek nou ingeneem saam met die baie ander wat ons aanmoedig om te volhard in die wedloop van die geloof. Ons eer haar nagedagtenis en bid vir die familie – dat hulle ryke vertroosting sal ervaar in hierdie tyd van verlies.