ONS HOOP OP GOD SE GOEDHEID

Vir almal van ons was die afgelope weke vol onsekerheid en stres. Ons is bekommerd oor hierdie ongenaakbare siekte. Ons het ‘n goeie vriend in Engeland wat dit opgedoen het. Hy het by die dood omgedraai. Die wonderwerk is dat sy vrou wat hom versorg het dit nie opgedoen het nie. Ons is ook bekommerd oor die ekonomiese uitdagings wat hierdie pandemie inhou. Ons is bekommerd oor die wysheid en sin van die staat se eindelose mikro-bestuur benadering in hierdie tyd. Indien ons die hoogtepunt eers in September gaan bereik, wag daar vir ons ‘n moeisame tyd vorentoe. 

In hierdie tyd is dit belangrik om goeie sielsorg toe te pas sodat ons innerlik kan oorleef. Die stryd woed veral in die gedagtes, wat weer ‘n invloed het op ons emosies. Daarom is dit so belangrik dat ons in hierdie tyd nie sal vergeet van die goedheid van die Here nie. Wanneer ons van sy goedheid vergeet, styg die vlakke van stres sommer hemelhoog. As God nie goed was nie, is daar geen logiese rede waarom ons hoopvol kan wees nie. Daarom hou ons vas aan Jer 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” Ons dien ‘n goeie God wat net goeie planne het vir ons lewens, selfs in die middel van die pandemie.

Psalm 23 gee vir ons ‘n hele paar voordele van God se goedheid – redes waarom ons hoop kan koester, maak nie saak wat tans gebeur rondom Covid-19 nie. 

God sal in jou behoeftes voorsien wanneer jy bekommerd is

“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.”  (Ps 23:1). Omdat God goed is, hoef  jy nie bekommerd te wees oor enige van jou behoeftes nie. Hy het belowe dat jy niks sal kortkom nie.

God sal jou leer om te ontspan te midde van stresvolle tye

“Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is” (Ps 23:2). God sal jou lei na ‘n plek van vrede. Hy sal jou leer hoe om te ontspan wanneer jy stres ervaar.

God sal vir jou nuwe krag gee wanneer jou tenk leeg is

“Hy gee my nuwe krag” (Ps 23:3). “Hy verkwik my siel” (Ou vertaling). Jou motor is dalk nog vol petrol want jy het min rondgery, maar jou eie emosionele tenk is leeg van al die gebeurlikhede. God belowe dat Hy vir jou die veerkragtigheid sal gee vir elke probleem wat vandag en more oor jou pad sal kom.

God sal jou begelei wanneer jy verward is

“Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam” (Ps 23:3). Onsekerheid en gepaardgaande besluiteloosheid is stresvol, maar God belowe om jou te lei. Jy hoef nie bekommerd te wees oor more se uitdagings nie, want God is daar vir jou.

God sal saam met jou stap in jou donker en angsvolle dae

“Selfs al gaan ek deur die donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my”  (Ps 23:4). Die afgelope paar weke was ‘n donker tyd vir baie deur die wêreld. Brittanje sit tans met byna 30 000 sterftes. Dis ‘n groot verlies van dierbares. Maar God het ons nie gelos nie. Ons sal dalk deur nog donker tye gaan, maar God sal saam met ons deur dit alles stap. As God vir ons is, maak dit nie saak wie is teen ons nie. 

God sal jou beskerm wanneer jy onveilig voel

“In u hande is ek veilig” – “u stok en u staf dié vertroos my”  (Ou vertaling) Ps 23:4. Die herders het ‘n stok en ‘n staf gebruik om die skape te beskerm. God beskerm ons ook wanneer ons magteloos voel teen eksterne magte. Hy verseker ons van ons toekoms deur tye van moeilikheid.

God sal in die openbaar sy guns wys oor jou lewe

“U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor”  (Ps23:5). God belowe nie net om aan jou guns te betoon in jou lewe nie, Hy belowe om dit te doen voor die mense wat jou aanval. Hy belowe om nie net in jou behoeftes te voorsien nie, maar om in oorvloed vir jou te gee as jy Hom vertrou.

God sal goed wees vir jou ongeag wat ookal gebeur

“U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly”  (Ps 23:6). Dalk voel jy dat jy tans op niks kan peil trek nie, maar jy kan staatmaak op die goedheid van God. Ander mense  sal dalk nie vir jou goed wees in die toekoms nie, maar God sal. Jy kan staatmaak op sy konsekwentheid en welwillendheid, maak nie saak wat gebeur nie.

God sal jou eendag hemel toe neem

 “Ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae”  (Ps 23:6). Dit maak nie saak wat jou ervarings hier op die aarde is nie, God belowe aan jou ‘n ewige tuiste saam met Hom in die hemel. Jou toekoms is gewaarborg.

Baie mense soek hulle hoop op ander plekke, behalwe by God. Hulle probeer hierdie voordele ontvang deur hul beroepe, hul verhoudinge of hul spaarrekeninge. Sulke krukke is baie onseker en wankelrig. Maar regte hoop kom van die Onaantasbare God! Sterkte met die inperking!