Basaar 2020!

Liewe Garsfontein gemeentefamilie

Soos reeds aan julle gekommunikeer, hou ons gemeente familiefees tydens die naweek van 20-22 November. Ons moes ‘n paar aanpassing maak aan die naweek se program – so lees asseblief mooi sodat julle nie uitmis op hierdie fees nie.

Vrydag, 20 November – Konsert saam met Joshua na die Reën

Joshua na die Reën besoek ons gemeente vir ‘n spesiale en intieme aand van musiek. Ons is tans besig om die laaste praktiese reëlings rondom die aand vas te maak (sodat soveel as moontlik kan deel wees van hierdie konsert), en sal so gou moontlik die finale reëlings aan u kommunikeer.

Joshua is een van Suid Afrika se topmusikante, en is veral bekend vir liedjies soos: Vir altyd (temalied van die film met dieselfde titel), Lig op die horison, Alles gee, en sy verwerking van Voshaarnooi (vir die film Ballade vir ‘n Enkeling).

Saterdag, 21 November – Ons hou basaar!

Hierdie jaar hou ons basaar op Saterdag (NIE VRYDAG SOOS ONS GEBRUIK IS NIE), en vind plaas vanaf 10:00 tot 17:00. Ons sien uit daarna om saam met die res van ons gemeentefamilie fees te vier, nadat ons vir lank nie bymekaar kon wees nie. Tog weet ons dat daar wel persone is wat wel nog versigtig is vir samekomste, alhoewel hulle steeds wil deel wees van die feesviering. Daarom gaan hierdie jaar se basaar uit 3 dele bestaan:

  • Deurloop Mark – vanaf Sondag, 1 November gaan daar vir die hele maand ‘n deurloop mark op die kerkstoep wees. Hierdie mark gaan bestaan uit ons talentemark produkte, boeke, cd’s en die wit olifant. U kan dus regdeur die maand deur die mark kom snuffel, en doodgewoon by die kerkkantoor betaal. Die deurloop mark sal oop wees tot Vrydag, 20 November.
  • Gewone basaar – Saterdag, 21 November om 10:00 begin ons basaar soos ons dit ken, en is julle welkom om te kom smul aan die lekkerste hamburgers, vetkoeke, pannekoeke, basaar poedings, koeke & tuisgebak, vleis, kerrie en rys, en nog vele meer. Daar sal ook ‘n speelarea vir die kinders wees – sodat die hele gesin die dag saam kan kom geniet.
  • Kry & ry basaar – Vir diegene wat bietjie versigtig vir samekomste is, kan vanaf 12 Oktober tot 13 November bestellings plaas. Bestellings kan via die kerkkantoor gemaak word – let wel: betaling moet saam met die bestelling voltooi word. Op die dag van die basaar kan u vanaf 12:00 by die kanthek van die basaar (waar die ronnie-bin staan) inry, u voorbereide bestelling optel, en u basaar lekkernye by die huis geniet.

Sondag, 22 November –

Kerssangdiens

Ons sluit die familiefees af met ons jaarlikse Kerssangdiens. Weens die inperkings-maatreëls gaan daar steeds beperkte plekke beskikbaar wees (slegs 200). Om soveel as moontlike persone te akkomodeer, en aangesien persone uit dieselfde huis saam mag sit, vra ons dat u vroegtydig by die kerkkantoor u sitplekke sal bespreek. Die kerssangdiens gaan ook lewendig uitgesaai word op ons gemeente se Youtube kanaal.

     Tydens hierdie geleentheid gaan ons ook ons Koningsoffer gee, en vra ons dat u hierdie geleentheid ook ‘n saak van gebed sal maak, sodat ons ook daardeur die Here sal eer vir Sy genade wat ons deur ‘n moeilike jaar gedra het.

Bid saam met ons dat dit wel moontlik sal wees. Indien die pandemie ons teen daardie tyd nie toelaat om saam te mag kom nie, sal ons alternatiewe reëlings vir die familiefees aan u kommunikeer.

Maar feesvier gaan ons beslis feesvier!