Basaar


JOSHUA NA DIE REëN

Kaartjies is nou reeds te koop by die kerkkantoor!
(012) 361 3618
Kantoorure: Maandae vanaf 11h00 – 13h00
Dinsdae tot Vrydae vanaf 08h00 – 13h00


Basaar 2020!

Liewe Garsfontein gemeentefamilie

Soos reeds aan julle gekommunikeer, hou ons gemeente familiefees tydens die naweek van 20-22 November. Ons moes ‘n paar aanpassing maak aan die naweek se program – so lees asseblief mooi sodat julle nie uitmis op hierdie fees nie.

Vrydag, 20 November – Konsert saam met Joshua na die Reën

Joshua na die Reën besoek ons gemeente vir ‘n spesiale en intieme aand van musiek. Ons is tans besig om die laaste praktiese reëlings rondom die aand vas te maak (sodat soveel as moontlik kan deel wees van hierdie konsert), en sal so gou moontlik die finale reëlings aan u kommunikeer.

Joshua is een van Suid Afrika se topmusikante, en is veral bekend vir liedjies soos: Vir altyd (temalied van die film met dieselfde titel), Lig op die horison, Alles gee, en sy verwerking van Voshaarnooi (vir die film Ballade vir ‘n Enkeling).

Saterdag, 21 November – Ons hou basaar!

Hierdie jaar hou ons basaar op Saterdag (NIE VRYDAG SOOS ONS GEBRUIK IS NIE), en vind plaas vanaf 10:00 tot 17:00. Ons sien uit daarna om saam met die res van ons gemeentefamilie fees te vier, nadat ons vir lank nie bymekaar kon wees nie. Tog weet ons dat daar wel persone is wat wel nog versigtig is vir samekomste, alhoewel hulle steeds wil deel wees van die feesviering. Daarom gaan hierdie jaar se basaar uit 3 dele bestaan:

  • Deurloop Mark – vanaf Sondag, 1 November gaan daar vir die hele maand ‘n deurloop mark op die kerkstoep wees. Hierdie mark gaan bestaan uit ons talentemark produkte, boeke, cd’s en die wit olifant. U kan dus regdeur die maand deur die mark kom snuffel, en doodgewoon by die kerkkantoor betaal. Die deurloop mark sal oop wees tot Vrydag, 20 November.
  • Gewone basaar – Saterdag, 21 November om 10:00 begin ons basaar soos ons dit ken, en is julle welkom om te kom smul aan die lekkerste hamburgers, vetkoeke, pannekoeke, basaar poedings, koeke & tuisgebak, vleis, kerrie en rys, en nog vele meer. Daar sal ook ‘n speelarea vir die kinders wees – sodat die hele gesin die dag saam kan kom geniet.
  • Kry & ry basaar – Vir diegene wat bietjie versigtig vir samekomste is, kan vanaf 12 Oktober tot 13 November bestellings plaas. Bestellings kan via die kerkkantoor gemaak word – let wel: betaling moet saam met die bestelling voltooi word. Op die dag van die basaar kan u vanaf 12:00 by die kanthek van die basaar (waar die ronnie-bin staan) inry, u voorbereide bestelling optel, en u basaar lekkernye by die huis geniet.

Sondag, 22 November –

Kerssangdiens

Ons sluit die familiefees af met ons jaarlikse Kerssangdiens. Weens die inperkings-maatreëls gaan daar steeds beperkte plekke beskikbaar wees (slegs 200). Om soveel as moontlike persone te akkomodeer, en aangesien persone uit dieselfde huis saam mag sit, vra ons dat u vroegtydig by die kerkkantoor u sitplekke sal bespreek. Die kerssangdiens gaan ook lewendig uitgesaai word op ons gemeente se Youtube kanaal.

     Tydens hierdie geleentheid gaan ons ook ons Koningsoffer gee, en vra ons dat u hierdie geleentheid ook ‘n saak van gebed sal maak, sodat ons ook daardeur die Here sal eer vir Sy genade wat ons deur ‘n moeilike jaar gedra het.

Bid saam met ons dat dit wel moontlik sal wees. Indien die pandemie ons teen daardie tyd nie toelaat om saam te mag kom nie, sal ons alternatiewe reëlings vir die familiefees aan u kommunikeer.

Maar feesvier gaan ons beslis feesvier!


BASAAR 2020!

Augustus maand is altyd ‘n hoogtepunt in ons gemeente se jaar, want Augustus beteken dit is basaartyd! Soos met alle aspekte van ons gemeentebediening, het die COVID pandemie ons genoodsaak om ook nuut te dink oor ons basaar vir 2020.  Na baie gesprekke en deegliks oorweging het die Gemeenteraad dit goed gedink om ons basaar uit te stel tot later in die jaar, in die hoop dat ons dan reeds op ‘n groter wyse bymekaar sal kan kom. Dus is daar goeie nuus: die basaar is nie afgestel nie, maar bloot uitgestel en is ons sameroepers reeds besig met die beplanning vir hierdie geleentheid. Hier is die belangrikste inligting rakende hierdie jaar se basaar:

‘n Familiefees

Garsfontein gemeente is ‘n geloofsfamilie! En hierdie jaar verlang ons na mekaar aangesien ons nie mekaar gereeld kon sien en saamwees nie. Daarom wil ons ‘n ruimte skep waar ons weer saam met mekaar kan feesvier. Om hierdie rede is daar besluit op ‘n feesnaweek! Hierdie feesnaweek word beplan vir die naweek van 20 tot 22 November (in die hoop en geloof dat die inperkingsvlak teen daardie tyd nog verder verslap sal word en die klimaks van die pandemie dan reeds verby sal wees). Hierdie feesnaweek sal as volg verloop:

Vrydag, 20 November: Ons hou basaar!

Saterdag, 21 November: Joshua na die Reën vertoning

Sondag, 22 November: Kerssangdiens

Joshua na die Reën

Tydens die Saterdagaand van die gemeentefees, besoek Joshua na die Reën ons vir ‘n spesiale en intieme aand van musiek.

Joshua is een van Suid Afrika se topmusikante, en is veral bekend vir liedjies soos: Vir altyd (temalied van die film met dieselfde titel), Lig op die horison, Alles gee, en sy verwerking van Voshaarnooi (vir die film Ballade vir ‘n Enkeling).

Familie Pretdraf/Fun-Run

Nog ‘n nuwe toevoeging tot hierdie jaar se feesnaweek, is ‘n pretdraf (Fun-Run) vir die hele gesin. Hierdie pretdraf sal deel vorm van die basaarprogram op Vrydag, 20 November.

Ons sien uit om ‘n moeilike jaar, vol uitdagings, af te sluit deur ordentlik as familie saam fees te vier. Bid saam met ons dat dit wel moontlik sal wees. Indien die pandemie ons teen daardie tyd nie toelaat om saam te mag kom nie, sal ons alternatiewe reëlings vir die familiefees aan u kommunikeer.

Maar feesvier gaan ons beslis feesvier!


Dis basaartyd!

More is dit basaartyd in Garsfontein! Dis een van die lekkerste kuiergeleenthede van ons gemeente. Daar is natuurlik ander kuiergeleenthede wat ook baie lekker is, maar hierdie een is besonders. Al word daar hard gewerk en hard gekuier, gebeur dit altyd met uitbundige vreugde. Want die lewe is ‘n fees en moet ook altyd ‘n fees bly, al gaan dit soms hoe swaar. Die geheim is juis om te midde van die swaar nie die goeie dinge te vergeet in die lewe nie. Kom deel jou vreugde met ons more!

Kom ons ook dink opnuut oor die belangrike geestelike gewoonte wat ons baie nodig het in SA vandag – en dit is vreugde – joy!  Dis ook deel van die vrug van die Heilige Gees!CS Lewis het iets besonders gesê: “Joy is the serious business of heaven”. Het jy al kleutertjies dopgehou wat sing en dans – om so uitbundig uitdrukking te gee aan hul opgekropte vreugde? Soms word ons in die lewe ook uitgenooi tot ‘n bietjie vreugde – en dan mis ons dit, want ek is te haastig, besig, gefokus, vasgevang in my eie program om te beweeg van die een taak na die ander taak. Daar was dalk ‘n uitnodiging om saam te dans, die vreugde van die lewe het voor my gebeur, maar ek het dit vir altyd gemis.

Soms leef ons en soms wag ons om te leef…so leef ons ons lewens die hele tyd in transito – ek probeer om êrens te kom, ek wag om ‘n begin te maak, ek reis êrens heen, ek staan en wag in ‘n tou, ek wag vir ‘n vergadering, ek wag dat die vergadering klaarkry, ek maak vinnig om ‘n taak klaar te maak, ek is bekommerd oor iets wat verkeerd kan loop, ek is kwaad oor iets wat gebeur het. In sulke tye is ek nie mooi teenwoordig nie, ook nie bewus van die stem en doel van God met my lewe nie. Ek is ongeduldig – so wens ek my tyd en lewe om. Ek wil net so vinnig as moontlik deur alles kom.

Behebtheid met myself – is ‘n groot struikelblok om vreugde te beleef. Selfsugtigheid en selfbeheptheid weerhou my daarvan om klein vreugdetjies uit te deel aan ander – en so sien ek ook nie die vreugdetjies raak wat God elke dag vir my gee nie. Vreugde lê aan die hart van God se plan vir ons. Vreugde lê aan die hart van God self. Ons vreugde en God se vreugde gaan hand aan hand. Ons onderskat God se kapasiteit vir vreugde.

GK Chesterton skryf oor die sentrale karaktereienskap van vreugde waaroor God beskik. Vreugde is ook God se plan vir mense. Jesus is die Vreugde-Brenger. Die vreugde wat ons sien in die gelukkigste kind is ‘n fraksie van die vreugde wat in God se hart woon. God is die gelukkigste en vreugdevolste wese in die ganse skepping.  God ken ook droefheid, maar dis ‘n tydelike reaksie op die gevalle wêreld. Dit sal ook finaal verdwyn wanneer Hy sy koninkryk totaal herstel.  Vreugde is God se basiese karakter. God se doel is dat sy skepping sy vreugde weerspieël  (vgl die bruidegom in Ps 19).

Dit is God se wil is dat ons gehoorsaam sal wees, maar gevul veral sal wees met sy volkome vreugde (Joh 15).  Hy oordeel dat ons nie gelukkig genoeg is nie. “To miss out on joy is to miss out on the reason for your existence”, sê Lewis Smedes.Beoefen die gewoonte van vreugde. Die Here gee dit vir jou – gaan leef dit elke dag. God wil hê dat ons vreugdevolle mense sal wees, want so wys ons iets van sy karakter. So word ons vir Hom ook ‘n vreugde!

Kom deel jou basaarvreugde met ons almal more! Ons sien jou daar!


Dis ons almal se basaar!

Dit was nog altyd ons almal se basaar – so sal dit ook volgende Vrydag wees. Ons is baie dankbaar vir ‘n doeltreffende basaarkomitee wat die leisels vashou en voorvat, maar almal van ons gaan ‘n belangrike bydrae lewer tot die lekker en sukses van die basaar. Hoekom? Want dis ons almal se basaar! Ons is almal deel van Garsfontein Gemeente en almal van ons gaan iewers ‘n funksie vervul om daarvan ‘n heerlike ervaring te maak.

Die Hebreërskrywer noem dat ons as gelowiges spesiaal afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping (Heb 3:1). Jy kan nie God se roeping vir jou lewe op jou eie vervul nie. My roeping staan altyd in verband tot die christen-gemeenskap, want ek is deel van ‘n geestelike familie.

Dis soos die dele van ‘n fisiese liggaam. Liggaamsdele is waardeloos, tensy dit verbind is tot die ander liggaamsdele. Jy mag dalk ‘n uitstaande begaafde oog hê wat jou instaat stel om uitstekend te sien. Maar ‘n oogbal wat nie verbind is tot jou liggaam nie, is waardeloos want dit kan niks sien nie.

Jy mag dalk ‘n uitmuntende begaafde oor hê wat alles om jou fyn kan hoor, maar as jou begaafde oor nie verbind is tot jou liggaam nie, help dit jou niks.

Op dieselfde wyse moet jy verbind wees tot die liggaam van Christus ten einde jou roeping te vervul. “Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het” (Efes 4:4).

Ek en jy word geroep om ons roeping te vervul binne en vanuit die gemeenskap van gelowiges, daar waar ons saamwerk en mekaar ondersteun. Dink net hoe die oog en oor in jou liggaam saamwerk om jou liggaam te ondersteun. So is al die gelowiges heilige vennote, deelgenote van ‘n hemelse roeping (Heb 3:1).

As jy weer by die kerk kom, kyk ‘n bietjie rond. Die mense wat jy daar gaan sien is heilige deelgenote – “holy partners” – van God se roeping in jou lewe. Jy is geroep en elke ander persoon wat jy daar gaan sien is ook geroep – julle word saam geroep om God se hemelse roeping te vervul.

Dit gaan ons ook sien volgende Vrydag met die basaar. Ons almal is daar geroep om ons gawes in diens van die hele liggaam aan te wend – sodat ons daar God se gawes kan geniet en waardeer.

Bring jou roeping, jou gawes, jou tyd en energie, jou glimlag, jou vriendelike woord en bedien die liggaam met jou oog, jou oor, jou mond, jou glimlag, jou hand, jou hart!