Bemoediging


'n Hart vol lente!

‘n Hart vol lente behels die gee van myself vir ander. Dit maak my lewe sinvol. Ek word bruikbaar en stel myself beskikbaar om dáár te wees vir ander. Dit begin by my naby familiekring – en van daar kring dit wyer uit na die mense wat my lewenspad elke dag kruis. Om so deur die Here gebruik te word, hoef ek nie perfek te wees nie, dis net belangrik om skoon en rein te wees.
Paulus sê in 2 Tim 2:21: “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.”
As jy deur God gebruik wil word, is dit nodig dat jou hart gereinig word. Ek hoef gelukkig nie perfek te wees nie. God gebruik allerlei soorte mense: skaam mense, uitgaande mense, mense van alle rasse en kulturele agtergronde, mense van alle ouderdomme, lewensfases en beroepe. Hy gebruik manne en vroue, Hy gebruik gewone instrumente en voorwerpe, maar Hy gebruik ook voorwerpe vir gespesialiseerde gebruik. Hy gebruik groot en klein voorwerpe, allerhande voorwerpe. Daar is egter voorwerpe wat God nie sal gebruik nie, en dis ‘n vuil voorwerp of houer. Jy moet skoon wees aan die binnekant.
Hoe word ek ‘n rein voorwerp vir besondere gebruik deur God? Hoe reining ek myself? Jy doen dit deur ‘n baie eenvoudige aksie uit te voer: bely! Die kerkvader Augustinus het eenkeer geskryf: “Die belydenis van slegte werke is die begin van goeie werke”. Johannes nooi ons juis uit in 1 Joh 1:9 om ons sonde voor God te bely – Hy sal sy belofte gestand doen deur ons dan te vergewe en ons te reinig van alle verkeerde dade.
Die woordjie “bely” in Grieks is homologeo. Homo beteken “dieselfde” en logeo beteken “om te sê”. Homologeo beteken dus letterlik om dieselfde te sê as God omtrent my sonde. Dit beteken om met Hom saam te stem oor my sonde. “Here, U is heeltemal reg. Dit was nie net ‘n faux pas nie, ‘n foutjie of ‘n glipsie nie. Dit was sonde. Dit was verkeerd. Ek hoef nie met God daaroor te onderhandel (bargain) nie – (ek sal dit nooit weer doen nie); Ek hoef nie vir God daaroor om te koop nie – (ek belowe om my Bybel elke dag te lees as U my vergewe). Aanvaar en erken dit net. Dis al! En dit noem ons genade!
Neem tyd hierdie week en skryf vir ‘n slag alles neer wat verkeerd is in jou lewe. As jy klaar is, skryf 1 Joh 1:9 daaroor. Bely en erken dit voor God. Vra God om jou hart en jou lewe skoon te maak. Dis die beginpunt om weer deur God gebruik te word. Geniet die lente-lewe by saam met die God van die lente..


Stap saam met die Gees!

Hierdie sondag vier ons die koms van die Heilige Gees na die aarde. Wat ‘n besondere dag vir die kerk van Jesus  – en vir elke gelowige. Sonder die Gees kan ons nie geestelik bestaan nie. Ons het Hom nodig met elke tree wat ons neem agter Jesus aan. Dis Hy wat ons bekragtig vir elke taak en uitdaging. Hy help ons om deur donker tye te beweeg, soos nou.  Hy help ons ook om ontslae te raak van negatiewe dinge en gewoontes in ons. Dit laat my dink aan die woorde van Paulus in Efes 4:23 “julle gees en gedagtes moet nuut word”. Hierin speel die Heilige Gees ‘n onmisbare rol  – Hy is ons Heiligmaker wat Jesus se nuwe lewe in ons harte indra. Hy blaas die basuin sodat ek en jy kan opstaan uit ons sondeslaap –en die nuwe dag van God tegemoet kan gaan.

Die oomblik wanneer ek in die geloof agter Jesus begin aanstap, ontsluit die Gees sy krag in my. Die Jordaanrivier was ‘n baie groot fisiese en psigiese grens in die Israeliete se wankelmoedige gemoed. Toe Josua gekonfronteer is met die Jordaanrivier, het hy nie teruggedeins nie, hy en die ander leiers het die eerste tree geneem in die waters as daad van gehoorsaamheid aan God. God reageer met ‘n wonder – die waters trek terug en die volk gaan deur. God maak dit vir hulle moontlik. Gehoorsaamheid ontsluit die mag en krag van God.

Ons gaan nou almal deur ‘n oorgangstyd. Wat anderkant hierdie tydperk wag, weet ons nie presies nie. Moenie wag totdat jy sterk en dapper voel om vorentoe te beweeg nie. Stap vorentoe in swakheid. Doen die regte ding ongeag jou vrese en gevoelens. So werk jy saam met die Heilige Gees. So ontwikkel jou geestelike karakter op ‘n onbekende reis.

In die groeiproses om soos Jesus te word, dra ek hierdie drie verantwoordelikhede:

  1. Kies om die ou maniere van doen te laat gaan (Efes 4:22) “hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.”
  2. Verander jou manier van dink  (Efes 4:23) “julle gees en gedagtes moet nuut word.” (Lees ook Rom 12:2)
  3. Trek die karakter van Jesus aan – deur nuwe gewoontes te ontwikkel (Efes 4:24) “lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig”. Jou karakter is in werklikheid die somtotaal van jou gewoontes. Trek Jesus elke dag aan en beklee jou karakter met nuwe gewoontes.

Watter God-gegewe aksies het jy eenkant gesit, omdat jy swak en ontoereikend gevoel het? Watter ou gewoontes moet jy eenkant sit? Onthou! Dis elke dag Pinkster – die Gees leef elke dag in jou! Gee jouself oor aan Hom – volg sy leiding en werk saam met Hom, sodat Hy Jesus se karakter in jou na vore kan bring.


IS JY ‘N “WORRY-ER”?

Vandag vier ons die hemelvaart van Jesus. Hy het ons nie aan ons eie lot oorgelaat nie, want Hy het dadelik reëlings getref om sy Gees te stuur. Vader, Seun en Gees is by ons, midde-in ons huidige omstandighede. 

Ja, Covid-19 het ons skielik oorrompel. Ons het skaars Kersfees en Nuwejaar gevier, toe is hy op ons …en bekommernis is besig om sy tol te eis. Hier is die statistieke in die VSA – soos saamgestel deur die American Psychiatric Association. Amper die helfte van Amerikaners is angstig dat hulle dalk die virus sal opdoen. Amper twee-derdes is bekommerd dat ‘n familielid dit sal optel. Twee-derdes van mense is ook bekommerd oor die langtermyn implikasies ten opsigte van die ekonomie.

Hierdie statistiek kom nie as ‘n verrassing nie! Jy weet wat diep in jou eie hart aangaan. Het jy al voorraadopname gedoen oor jou eie “worries”? Dit kan nogal oorweldigend wees. Jy weet dit reeds, maar kan ek jou net weer herinner: bekommernisse sal jou niks in die sak bring nie. Jesus het vir ons kom sê in Matt 6:27: ”Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?”  Die antwoord is: Jy kan nie jouself verhoed om Covid-19 op te tel deur bekommernis nie. Bekommernisse sal ook nie keer dat my familie daardeur geraak word nie. “Worry” maak net ons probleme erger – jy neem nie ‘n tree nader aan die oplossings van jou probleme nie. Bekommernisse kan nie jou verlede of jou toekoms verander nie. Al wat dit kan doen is om jou vandag op te mors.

Spr 12:25 sê: “Bekommernis druk ‘n mens neer.”  Ons is nie gemaak om dit alles te verduur nie. Dit put jou uit tot in jou siel. Om op jou beste in hierdie tyd te funksioneer, gaan jou bekommernis jou beslis nie van hulp wees nie.

Hoe kan jy bekommernisse oorwin in hierdie seisoen van stres?

Laat Jesus jou Herder wees

Onthou jy het ‘n Herder! ‘n Herder neem die verantwoordelikheid vir die behoeftes van die skape: vir weiding, leiding en beskerming. Dis ook ons Goeie Herder se verantwoordelikheid. Daarom herhaal ek dit elke dag vir myself: “Die Here is my Herder – U is ‘n goeie Vader!”  Sê dit sommer baie keer op ‘n dag, want dit herinner my aan die feit dat ek ‘n goeie Herder het. Hy is die Jesus wat opgevaar het na die hemel en vir ons intree by die Vader. Deur sy Gees is Hy bewus van elke gedagte, emosie en beweging van elke spier en orgaan in jou liggaam. Hy is instaat en bekwaam om ‘n goeie Herder te wees.

Gee Jesus beheer van elke area van jou lewe

Bekommenisse is ‘n rooi liggie wat aangaan en jou herinner dat jy nog nie elke deeltjie van jou lewe aan God oorgegee het nie. Wanneer God nie nommer EEN is nie, sal jy begin bekommer in daardie aspek  van jou lewe. As jy iets meer as God liefhet, word dit ‘n bron van stres en angs in jou lewe. Dit is soos ‘n wonderlike kaggelvuutjie wat sy ruimte oorskrei, ‘n vonk wat op die sitkamer se mat beland en die potensiaal het om die hele sitkamer af te brand. Ook goeie dinge soos ons huwelike, kinders, ensomeer kan bronne van bekommernis word as dit vooropstaan in ons lewens. God het daarvoor ‘n bepaalde ruimte gegee in ons lewens. Dit mag nie daardie ruimte oorskrei nie. Wanneer iets of iemand God se plek begin inneem in ons lewens, skep dit onveiligheid en bekommernis.

Ontspan en gee vir God jou bekommernisse in gebed

Dis belangrik om altyd jou seëninge te tel. Veral in tye soos nou is dit goed om altyd jouself te herinner aan alles wat God al vir jou gedoen het. Maar dis ook belangrik om jou bekommernisse te tel. Soms het ons maar net ‘n algemene gevoel van angstigheid, maar ons weet nie wat dit veroorsaak nie. Voordat jy jou bekommernisse vir die Here kan gee, moet jy eers ‘n helder idee hê van wat dit is. Skryf dit neer – en gee dit een vir een vir God. Petrus sê: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle”  (1 Pet 5:7). Jy is nie ontwerp om jou bekommernisse self te dra nie – dis onnatuurlik. God is groot en sterk genoeg om al jou bekommernisse te hanteer.

Vertrou God vir een dag op ‘n slag

Moenie dat bekommernisse jou toekoms kom steel deur more se bekommernisse  vandag te dra nie. Jesus het dit so gestel: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want more bring sy eie bekommenis” (Matt 6:34). Jy het genoeg op jou bord vir vandag. Moenie meer oplaai nie. Dis goed om te beplan vir more. Ons gaan tans deur ‘n baie unieke situasie deur ons ganse geskiedenis. Dit sal nodig wees om te beplan vir wat jou te doen staan in die dae, weke en maande wat kom. Jy kan beplan vir more, sonder om nou reeds te leef in jou more. Jy kan net vandag leef. God toets ons voortdurend oor hoe ons Hom vertrou. Hy wil hê ons moet besluit of Hy regtig die eerste plek in ons lewens inneem. Hierdie unieke stukkie geskiedenis is tans een van die grootste toetsinge wat ons dalk ooit in die gesig sal staar wanneer dit gaan oor ons vertroue in God. God het belowe dat Hy vir jou sal sorg. Hy sal in jou behoeftes voorsien.

Sal ek Hom vertrou daarvoor?

Groete

Gavin


Geloof en emosionele gesondheid!

Moenie in hierdie tyd emosioneel uitbrand nie. Hou jou tenkie vol en jou lewensvuurtjie aan die gang. Moenie opgee in moeilike tye nie.  “Don’t burn out! Keep yourselves fuelled and aflame . . . Don’t quit in hard times; instead pray all the harder.” Romans 12:11-12 (The Message). Hoe lyk ‘n geloof wat lei tot emosionele gesondheid gedurende Covid-19?  Kyk na hierdie volgende riglyne:

  • Betoon genade teenoor jouself en ander

Jak 4:6: “Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy:”God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”

  • Begin en eindig elke dag deur jou tenk weer vol te maak

Neem ootmoedig die Woord van God aan wat Hy in jou geplant het, want die Woord red ons (Jak 1:21). Dank God elke oggend vir sy liefde en elke aand vir sy getrouheid (Ps 91:2).

  • Hou by ‘n eenvoudige roetine

“Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd” (Efes 5:15-16).

  • Hou op om so baie nuus kyk nie

Matt 6:22-23: “Die lamp van die liggaam is die oog. As die oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker  moet dit dan nie wees nie!”  Ps 119:37: ”Weerhou my van ‘n nuttelose lewe…”

  • Skeduleer ‘n gereelde verbintenis met mense wat jy liefhet

1 Tess 5:11: “Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde.” “Speak encouraging words to each another. Build up hope so you’ll all be together in this, with no one left out, and no one left behind. I know you’re already doing this; just keep on doing it!” (The Message).

  • Deel jou gevoelens in plaas daarvan om ‘n prop daarop te sit

Gal 6:2: “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.” Jak 5:16: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.”

  • Soek advies voordat jy groot besluite moet neem

Spr 15:22: “Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is.”  Spr 11:14: “redding lê in baie raadgewers”.

  • Maak plek vir vernuwingsmomente deur jou dag

Jes 40:30-31: “Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

  • Dien iemand wat meer ly as jy

Jak 1:27: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.” Spr 11:25: “Wie ‘n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.”

  1.  Beheer die beheerbare en laat die res aan God oor

Jak 2:22 – tov Abraham: “Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het.”

Hou jouself innerlik gesond – kyk mooi na jouself!


God het vir ons twee “boeke” gegee om te lees: die natuur en in die Skriftuur. Psalm 19 sê dit baie mooi. Ons leer so baie van God deur albei hierdie “boeke” te lees. Toe jy laas ‘n draai gaan maak het in die wildtuin, die berge of by die see, het jy met soveel nuwe insigte teruggekom en besef: ons het ‘n wonderbare Skepper wat alles so goed geskep het. Alles werk so meesterlik saam. Ons glo dat die Skepper ook in hierdie tyd in beheer is van sy skepping en ons wat daarin mag woon. Ons bid vir wysheid oor wat ons kan doen as aangestelde rentmeesters van God se aarde om saam met Hom te werk om die aarde op te pas en Covid-19 te bestry.

 

Dit wat God geskep het is deel van ‘n massiewe, geïntegreerde eko-sisteem wat ineengevleg is. Skepping het skepping nodig om te kan oorleef. So het die Skepper dit bedoel van die begin af. Neem byvoorbeeld die Amerikaanse boom – die Colorado Aspen (Trilpopulier of Abeel).

Hulle groei nooit alleen nie. Hulle groei in groepe bosse. Hoekom? Want hulle vermenigvuldig vanuit hul wortelsisteme. Hulle stoot jaarliks nuwe lote vanuit die wortels. Hierdie lote word klein boompies wat vinnig groei en later groter Aspens word. In omtrent al hierdie bosse is die wortels van die bome verbind aan mekaar – asof dit net een boom is.

 

Nog ‘n Amerikaanse boom wat uitsonderlik is, is die reusagtige California Redwood – wat tot by die 90 meter hoog kan groei. Daar is bome waarvan mense tonnels deurgegrawe het waardeur motors kan deurry.

Mens sou dink dat die Redwood se wortels baie diep die aarde moet ingaan om hulle te anker teen sterk winde. Eintlik is hul wortels baie vlak en sprei dit wyd uit op soek na water by die oppervlakte. So groei hul wortels in alle rigtings sodat dit ineenvleg met ander Redwoods se wortels. Hulle staan langs mekaar, skouer aan skouer, deur dik en dun, hul wortels om mekaar se wortels gevleg. Hulle ondersteun mekaar in die winde en storms.

Aspens en Redwoods staan nooit alleen nie. Hulle het mekaar nodig om te kan oorleef in die natuur. Dit moet so wees.

Net so is ek en jy ook verbind aan mekaar met ‘n wortelsisteem. Ons word groot in families wat ons koester en begelei. Ons leer vroeg reeds hoe om vriende te maak wat ons ondersteun op verskillende maniere. Ons kan nie vir lank oorleef sonder ander mense nie.  Soos die reuse Redwoods is ons op ons beste wanneer ons aan mekaar vashou en mekaar help om staande te bly te midde van die lewe se storms. Ons het ander nodig om ons staande te hou, om ons te bemoedig en saam met ons te staan.

Wanneer dit nie met my goed gaan nie, is dit meestal omdat ek probeer om dit alleen te doen. Ek laat nie mense toe by my nie. Ek vergeet om te vra vir hulp. Ek hou my probleme vir myself. Ek wil nie ander belas nie. Dalk besef ek dit nie, maar daar is ook ander om my wat dieselfde doen. Dit help om dit te onthou in hierdie tyd. Ons het mekaar nodig om ons op te hou in hierdie tyd. Dalk is dit nodig dat iemand aan my moet vashou in hierdie tyd.

 

Kom ons dink aan die mense om ons – in ons eie huise en komplekse waar ons woon. Waar kan ek help? By wie kan ek aanklop vir hulp in hierdie tyd? Bel ‘n mede-lidmaat, bel ‘n mede-groeigroeplid. Bel ‘n vriend of vriendin. Bel een van ons leraars indien jy hulp en ondersteuning benodig. Ons is langs mekaar geplant met ‘n rede!

 


'n Sterk fondament!

Hierdie tyd verg ‘n geloofshuis met ‘n stewige fondament. Die winde waai, die storms woed – en my geloofshuis moet hou. Ons voel onseker oor baie dinge. Ons beleef soms emosies wat ons ondertoe wil trek, na wanhoop en moedeloosheid. Elkeen van ons beleef dit anders. Vir sommige is dit ‘n tyd van rus en ontspanning. Vir ander pak die donker wolke saam as hulle dink oor hoe hulle vorentoe moet oorleef.

My geloofshuis het ‘n sterk en stewige fondament nodig. Vir die goeie tye en vir die Covid-19 tye. Ons moet juis die goeie tye benut om sterk huise te bou op ‘n stewige fondament, sodat dit kan hou in die stormtye. 

Jesus vertel in Matteus 7 die verhaal van twee bouers; die een was wys en die ander een was dwaas. Die dwase man het sy huis net op sand gebou. Toe die storms kom het die huis ineengestort. Jesus verwys hier na mense wat sy waarhede hoor en ontvang, maar dit nie laat oorgaan na die praktyk van hulle lewens nie. Hulle maak nie daardie waarhede die praktyk van hul lewens nie. Hulle gaan doen dit nie. Hulle is soos hierdie dwase bouer wat op sand bou.

Die wyse bouer het egter sy huis op rots gebou. Toe die winde en storms kom het sy huis sterk gestaan. So is die persoon wat nie net Jesus se woorde hoor en ontvang nie, maar dit ook in praktyk gaan doen en uitleef.

In elke tyd het my geloofshuis ‘n sterk fondament nodig. Dit beteken dat ek goed sal nadink oor wat Jesus vir my sê, ook in hierdie Covid-19 tyd. Oor myself, my eie lewe, my vrese en bekommernisse, die onnodige skadelike dinge waaraan ek vashou, die dinge wat die mense om my raak, my kinders, kleinkinders, skoonkinders, ouers, skoonouers, broers en susters en ander familielede, my kollegas, my vriende, my verlede, my hede, my toekoms, my werk, my planne, drome en vooruitsigte. Jesus roep my op om sekere dinge af te lê en seker dinge te omarm. Daar is sekere dinge wat ek moet los, en sekere dinge wat ek van Hom moet ontvang en koester. Wat is daardie dinge vir jou? Dis gaan die verskil maak of ek in hierdie tyd geestelik gaan groei of nie. Dit gaan bepaal watter tipe fondament ek onder my geloofshuis gaan bou. Sal die fondament sand wees, of die Rots, Jesus!

Jakobus het nogal baie klem gelê om die praktiese deel van ons geloof, dat ons die woorde van Jesus ter harte moet neem, dit sal uitleef en sal doen, omdat dit vir ons die weg baan tot ware innerlike vryheid en vrede. In die eerste hoofstuk noem Jakobus drie voorbeelde van hoe ons God se waarhede in praktyk kan uitleef:

1. Jou tong sal onder beheer wees! “As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy himself. Sy godsdiens is waardeloos.” (Jak 1:26).

2. Jy sal ‘n omgee-hart hê!  “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan”. (Jak 1:27)

3. Jy sal ‘n skoon gemoed hê!  “en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”  (Jak 1:27)

Hierdie dinge is bewyse van ware Christen-wees. Dis juis die dinge wat ons nou in ons binneste en in ons huise moet begin beoefen: ‘n Gees-beheerde tong, ‘n omgee hart vol medelye en ‘n skoon en rein gemoed, vry van negatiwiteit en angs. In Joh 13:17 sê Jesus vir sy dissipels: “Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.” 

Kan jy sien wie is die gelukkige en geseënde mense? Dis hulle wat doen wat Jesus sê. Die seëninge van die hemel word op jou uitgestort wanneer jy dit doen. Ons kan verseker hiervan wees – dat ons baie baie, baie meer weet van God se waarhede as wat ons nou uitleef….Daarom begin vandag waar jy is met die mense wat saam met jou is! Begin sommer nou daar! Begin om dit te beoefen wat jy nou reeds weet. Soos wat jy meer begin weet, doen dit ook sommer! Nou is die tyd om ons geloof in praktyk oor te sit. Ek oefen dit in by my huismense rondom my. So bou ek my geloofshuis op ‘n baie stewige fondament, want ek volg Jesus in sy woorde.

Groete vir eers!

Gavin


Ons stap deur die vallei!

Op Dag 21 van die inperking is die hele storie nie meer so snaaks nie… So voel baie van ons altans – juis omdat dit so onnatuurlik is om ontneem te word van normale beweegruimte. Ons breine en liggame soek daardie uitbeweeg, rondbeweeg en ruimtelike diepte-perspektiewe om ons. Ons wil nie net naby sien nie, ons wil ook ver sien, maar nou kan ons nie altyd nie. Dis hoe ons gemaak is – om spontaan te leef en te beweeg. Die eerste week het dit amper soos ‘n vakansie gevoel en was dit lekker om vir ‘n slag bymekaar te wees en mekaar te geniet. Maar nou begin ons te wonder oor hoe hierdie saak verder gaan uitspeel. Ons raak bietjie bekommerd oor praktiese dinge, oor ons werksituasies, ons land se ekonomie, ons bejaarde ouers, ons kinders en die skoolwerk. Ons raak veral bekommerd oor ons innerlike welsyn, dat ons nie sal verval in gedagtes van angs en paniek nie. Nou verstaan ons hoe mense in ons gevangenisse moet voel wat vir jare agter slot en grendel sit. Nou verstaan ons hoe Noag en sy mense in die ark moes gevoel het. Gelukkig het hulle baie diere gehad wat hulle besig gehou het.

Hoe sal ons dit maak om so in isolasie te wees – wat sal gebeur na 30 April? Gaan die President dan weer mooi met ons praat?

Jy het Psalm 23 al baie gelees. Vandag moet jy dit weer lees. Psalm 23 bied vir ons soveel troos ten opsigte van die vallei wat ons nou in die gesig staar. Soos wat hierdie pandemie oor die aarde versprei word ons bewus van die mediese en finansiële uitdagings wat dit aan ons almal bring.

Psalm 23 bring troos en hoop vir dit wat ons nou beleef! Ons stap nou almal deur ‘n vallei vol donker skaduwees. Hou vas aan hierdie belangrike waarhede in hierdie tyd van inperking:

Jy is nie alleen nie

God stap saam met ons deur die vallei. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.” (Ps 23:4). Hoe hanteer ek die lewe se skaduwees? Deur na die lig te draai. Jy kan nie tegelyk die skaduwee en die lig sien nie. Jesus het gesê Hy is die Lig vir die wêreld. Wie Hom volg sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee (Joh 8:12).

Daarom, moenie fokus op dit wat jou bangmaak nie. Fokus op Jesus! Hy is daar by jou waar jy nou is. Wanneer jy op Hom fokus, stel jy jouself oop dat God in jou en deur jou kan werk op ‘n kragtige wyse. Jy sien Hom nie, maar Hy is daar by jou. Valleie is anders vir gelowiges as vir ongelowiges. Vir gelowiges beteken dit nie die afwesigheid van die skaduwees nie, maar die aanwesigheid van die Herder.

God het ‘n doel met hierdie vallei

Psalm 23 vertel ons oor en oor dat God aan die werk is vir ons eie beswil. Hy gee vir ons alles wat ons nodig het in elke tyd van ons lewens, ook in hierdie valleityd (vs 1): Hy gee rus (vs 2), Hy gee krag (vs 3), Hy lei ons op die regte paaie (vs 3), sy goedheid en liefde is altyd by ons (vs 6). God kan nie enige kwaad doen nie. Dis die boodskap van die Bybel. God gebruik hierdie moeilike dae vir ons eie goed. Hy gebruik die moeilike tye van ons lewens om ons karakter te bou. Paulus sê dit in Rom 5:3-4: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie.” Ons vallei word ‘n poort na ‘n nuwe toekoms (Hos 2:15). Dit sal God ook met hierdie vallei doen! Dit sal vir ons ten goede meewerk. Daar is ‘n doel agter dit alles. Deur die valleie kom ons uiteindelik by die oorvloedige weivelde van rus en die Herder se geestelike oorvloed.

Ons beloning sal vir altyd hou.

Dit maak nie saak wat met ons aardse liggame gebeur nie, hierdie is nie die einde van die storie nie. Die hemel is die moeite werd as ons nou deur die valleie moet beweeg. Ons sal beloon word vir ons getrouheid hier op aarde. Die hemel is rêrig en ons sal daar vir ewig wees. Geen vallei-ervaring sal ooit so lank wees soos ons tyd in die hemel nie. 2 Kor 4:17: “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”  Daarom eindig hierdie psalm op ‘n hoogtepunt: ons sál tuis wees in die huis van ons Vader vir altyd en ewig. Wat ‘n wonderlike vooruitsig!

Ek weet nie hoe jy tans hierdie vallei ervaar nie. Ek weet nie watter vrees jou soms in die nag wakker hou nie. Dalk is jy bang om siek te word. Dalk is jy bang ‘n geliefde word siek. Dalk is jy bang omdat jy jou werk kan verloor, of jou inkomste. Ek weet egter dat ‘n Herder saam met jou stap deur hierdie vallei. Ek weet dat God alles ten goede vir jou en my sal laat uitwerk. Ek weet die vallei sal nie vir altyd aanhou nie.

Neem tyd en week jou siel in Ps 23 vandag, ter will van jouself en jou dierbares.

Ons stap deur hierdie vallei en sien dit in die lig van die ewigheid. Open 21:4: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Hierdie is nie die einde van die verhaal nie. Moed hou vir die tydjie wat kom!


Wat maak Paasfees 2020 so spesiaal?

 So baie dinge is in hierdie tyd gekanselleer. Maar Paasnaweek gaan onverpoost wêreldwyd voort. Geen regering kan dit kanselleer nie. Niks kan ons Paasfeesvieringe in hierdie tyd in die wiele ry nie. Trouens, nou vier ons Paasfees soos wat die Pasga in die Ou Testament in Egipte by die volk van God begin het – elke gelowige gesin bymekaar! Is dit nie veelseggend dat Paasfees te midde van hierdie unieke tyd van COVID-19 plaasvind nie!

Ons word nou gedwing om tot stilstand te kom – om na te dink oor ons eie lewens, waar ons vandaan kom, wat ons met ons God-gegewe lewens maak, waarnatoe ons oppad is. Ons word aangemoedig om na te dink oor wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het en wat dit vir ons lewens vandag en more beteken. Ons word aangemoedig om na te dink oor God se oneindige liefde vir die wêreld en ons verantwoordelikheid om as goeie rentmeesters van die aarde met verantwoordelikheid om te gaan met die aarde en ons eie lewens. Ons kry die geleentheid om weer in die regte verhouding te kom tot God – dat Hy ook weer die sentrale posisie sal inneem in elkeen van ons se lewens. Corona beteken in Latyn “kroon” of “krans”. Laat dit ons herinner aan die dag toe Jesus die doringkroon gedra het vir ons en dat Hy al ons siektes, sondes en hartseer op Hom geneem het om ons te bevry van ons sondeskuld voor God. Maar laat ons ook onthou dat Hy die dood oorwin het om die oorwinnaarskroon te dra as die Koning van die heelal.

Meer as 2000 jaar gelede het daar iets gebeur in die midde-ooste wat die die wêreld permanent verander het. Sedert daardie gebeurtenis is die geskiedenis in twee verdeel. As datums vandag geskryf word, word die opstanding van Jesus Christus as sentrale punt gebruik. 

Wat is dan so belangrik aan Paasfees? Dis belangrik omdat dit aangetoon het dat Jesus  in werklikheid die persoon was wat Hy gesê het Hy is. Hy was God in die vlees en Hy het na die aarde gekom om ons te red. Drie gebeure het opeenvolgens plaasgevind daardie naweek: die verhore van van Jesus, die dood van Jesus en uiteindelik die opstanding van Jesus.

Sy verhore

Jesus het deur ses verhore gegaan – dieselfde nag is Hy verhoor deur Annas, Kajafas, die Sanhedrin, Pilatus, Herodus en toe weer deur Pilatus. Aan die einde van daardie verhore kon hulle niks teen Hom inbring nie. Uiteindelik het hulle Hom skuldig bevind op een aanklag – die feit dat Hy daarop aanspraak gemaak het dat Hy die Seun van God is. Hulle het nie daarvan gehou nie. So word elkeen van ons opnuut voor die beslissing gestel. Ons moet ook besluit wie Jesus vir ons is. Jesus het gesê dat Hy die Verlosser van die wêreld is (Joh 12:47). Deur sy verhore was daar geen twyfel meer oor wie Hy in werklikheid is nie. Hy kon enige tyd die verhore stopgesit het, maar Hy het nie, want deur sy verhore het die wêreld helder en duidelik gehoor: Hy is die Seun van die lewende God. Dit was alles deel van God se plan.

Sy dood

Na afloop van ‘n nag van spot, mishandeling, sy “kroningsplegtigheid” met ‘n doring-corona – is Jesus gekruisig. Dit was sekerlik die mees barbaarse doodsvonnis wat ‘n mens kon kry. Die manier waarop die Romeine mense gekruisig het, was skrikwekkend – hulle het die gekruisigde sodoende met maksimum pyn en lyding gefolter. Aan die einde sou hulle die persoon se bene gebreek het om die dood te verhaas. In Jesus se geval het hulle nie sy bene gebreek nie, omdat Hy alreeds gesterf het. Net om seker te maak het hulle ‘n spies in sy sy gesteek. Waarom moes Jesus sterf? Omdat Hy alleen vir ons sondes kon betaal. Ek en jy het die straf verdien, maar Hy het die prys daarvoor betaal.

Sy opstanding

Na sy dood het hulle sy liggaam in ‘n graf geplaas met ‘n groot klip voor die ingang, met Romeinse soldate wat die graf bewaak het. Die Romeine was bang dat sy liggaam gesteel sou word. Die graf kon Hom nie keer nie. Paasfees is nie een of ander gedenkgeleentheid van ‘n goeie godsdienstige leermeester wat so 2000 jaar gelede geleef het nie. Dis ‘n viering van die feit dat Hy vandag lewe. Ek en jy en 1 biljoen christene wêreldwyd is die lewende bewys dat Hy lewe. Ons almal sal hierdie naweek Paasfees vier.

“op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here”  (Rom 1:4).

Paasfees is die goeie nuus oor God se Seun wat as ‘n brose baba in die wêreld gebore is – uit die geslag van Dawid. Na sy opstanding het Hy Hom by geleentheid aan 500 mense tegelyk getoon. Aan die kruis het die soldate Hom gespot en uitegedaag om van die kruis af te kom, indien Hy regtig die Seun van God is. Maar Jesus het egter iets meer ingrypends in gedagte gehad. Hy sou na drie dae in die graf opstaan uit die dood en daardeur bewys wie Hy regtig is. Niemand kon die liefdesplan van God keer nie, nie die Jode nie, nie die Romeine nie. Hy is die Seun van God wat vir ons die volmaakte offer gebring het.

So kan niemand keer dat ons hierdie naweek Paasfees vier nie, nie Corona nie, nie regerings nie, nie die vyand nie. Ons sal nadink oor die betekenis van Jesus se lyding en sterwe vir ons. 

Wat beteken sy sterwe vir ons vandag? In ‘n sekere sin is Jesus nogsteeds onder verhoor – in die hart en gedagtes van mense wat Hom nog nie erken as die Seun van die lewende God, die Verlosser van die wêreld nie.

Wat is jou uitspraak?

Eintlik gaan Paasfees oor die een groot vraag: is Jesus regtig wie Hy gesê het Hy is – of was Hy nie regtig die Seun van God nie? Is Hy God – of is Hy nie God nie? As jy dan aanvaar dat Hy is wie Hy gesê het Hy is, wanneer gaan jy dan met jou lewe doen wat Hy gesê het jy moet doen?

Wat sal ek en jy dan met Jesus doen vandag? Ons sal moet besluit of Hy die Seun van God is. As Hy vir my die Seun van God is – dan is Hy my Verlosser, en vra Hy my álles – my lewe, my hart. Hoe gaan ek Paasfees vier hierdie jaar? 

Indien jy nog nie jou lewe aan Jesus oorgegee het nie:

Hoe gee ek my lewe vir Christus?

1. Erken dat jy ‘n sondaar is en vergifnis nodig het.

2. Glo dat Jesus Christus vir jou gesterf het en opgestaan het uit die dood.

3. Deur gebed, erken en bely dat Jesus die enigste weg is na God en verbind jou daartoe om vir die res van jou lewe jou aan Hom toe te wy.

Bid hierdie gebed:

Here Jesus, ek weet ek is ‘n sondaar en ek het U vergifnis nodig. Ek glo dat U aan die kruis vir my sondes gesterf het – dat U uit die graf opgestaan het om vir my die nuwe lewe te gee. Ek weet U is die enigste weg tot God. Ek wil U in gehoorsaamheid volg. Ek wil graag vir U leef. Vergewe my asseblief, verander my lewe en wys my hoe ek vir U kan leef. In Jesus se Naam, Amen

Kom ons vier Paasfees met dankbare harte! Die Here seën jou!

Gavin


In ons krisis!

Ons almal beleef krisisse van tyd tot tyd: rondom ons gesondheid, verhoudinge en werk ensomeer. Krisisse kan ook ontstaan rondom natuurrampe soos droogte, vloede, wegholbrande, aardbewings, en nou ‘n griep pandemie wat veroorsaak word deur Covid-19. Al is dit soms die laaste ding wat ek wil doen, is dit egter die eerste ding wat ek moet doen: BID! Gebed kan nie ‘n laaste uitweg wees nie – dis altyd die eerste uitweg! Dis nou die tyd om ons in te oefen rondom die geloofsgewoonte van gebed.

Jesus het tydens sy lydensweg intieme kontak behou met sy Vader deur te bid. So behou ons ook geestelike intimiteit met ons Vader tydens ons eie lydensweg in hierdie tyd. Soos wat ons in hierdie tyd met mekaar telefonies kontak maak, so het God ook vir ons die koninklike hemelse telefoonlyn ingestel wat ons in hierdie tyd ten volle kan benut.

Daniël is ‘n goeie voorbeeld van hoe om te bid in die tyd van ‘n krisis. Na aan die einde van sy lewe, 70 jaar nadat hy en sy vriende na Babilon in ballingskap weggevoer is, het hy ‘n reuse innerlike krisis ervaar. Hy wou terugkeer huis toe voordat hy sterf. Vir so lank was hy in “lockdown” in ‘n vreemde land.  Hy het verlang om terug te gaan huis toe, soos baie Suid-Afrikaners wat tans in die buiteland vasgekeer is. Hy was bewus van die profeet Jeremia se profesie dat Israel na 70 jaar sou terugkeer na hul land toe. Daardie tyd was vinnig besig om nader te kom. Ons wat tans in ons huise vasgekeer is wonder hoe ons dit psigies-emsioneel dit gaan oorleef. Baie van ons wil weer uitkom uit ons huise. Sommige wil huis toe kom, ander wil weer uit die huise uitkom en voortgaan met hul normale lewens. Ons is almal saam in hierdie krisis. Daniël begin te bid. Sy gebed is ‘n besondere model vir gelowiges wat hulle in krisistye bevind. Hier is hoe Daniël gebid het.

Daniël luister na God. Hoe luister jy na God? Jy bestudeer die Woord. Dit is wat Daniël gedoen het. Aan die begin van hoofstuk 9 lees hy van God se belofte van Jeremia om die Israeliete terug te bring na Jerusalem. In die krisis is dit nodig om te fokus op God se Woord en sy beloftes. Daar is so baie beloftes in die Bybel. Dit bied ‘n stewige fondament vir gebed tydens ‘n krisis. Dis nou die tyd om jou Bybel oop te maak en te lees. Daar wag ‘n hele klomp verrassings vir jou!

Daniël draai sy fokus na God. Hy doen dit op ‘n fisiese wyse. In Dan 9:3 staan daar: “Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking…” ‘n Krisis kan ons baie pyn verskaf, juis omdat ons ons oë van die Here wegdraai in die middel van die krisis. Dis nodig dat ons sal fokus op God in moeilike tye. Wanneer jy jou aandag draai na familie en vriende, dan is jou fokus op hulle. Hulle kan jou help tot op ‘n punt. Uiteindelik sal jy moet terugkeer na jou eie gedagtes en emosies. Die Here gaan verder. Hy loop al die pad saam met my. Kyk op na die Here en fokus op Hom  en dit waarmee Hy besig is in jou lewe, nie op jou omstandighede nie.

Daniël deel sy begeertes met passie en emosie. Daniel het nie net sy versoeke aan God bekendgestel nie. Hy het by God gesmeek en gepleit. Jou passie en die intensiteit van jou woorde weerspieël dikwels hoeveel iets vir jou saak maak. Wys vir God dat jou versoek meer as ‘n impulsiewe “bevlieging” is, dat dit ‘n baie sterk begeerte van jou kant is. Daniël het eintlik vir God gesoebat. Hy soebat God en vra of hy kan terugkeer na Jerusalem. Laat jou volle menswees deel wees van jou gebed, ook jou passies en emosies.

Daniël demonstreer dat hy ernstig is.   Hy vas – dan bid hy in sak en as. Dit was belangrike vorme van verootmoediging en gebed in daardie tye. Dit het gelowiges se erns gewys met gebed. Vas is ‘n belangrike geestelike gewoonte wat ons as christene opnuut moet herontdek. Dit is teken van ‘n volhardende verootmoediging voor God en ‘n erkenning van ons gebrokenheid voor Hom.

Daniël het God gedank vir sy liefde en beloftes.  Dit is goed om te vra –  met danksegging. Dit is wat Daniël gedoen het. In Dan 9:4 bid hy: ”Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en U gebooie gehoorsaam.” Hy betuig sy dank teenoor God. Hy erken God se trou om al sy beloftes na te kom. Dis vir ons belangrik om in ons krisistyd dieselfde te doen. Dankbaarheid help ons om verby ons probleme te kyk.

Daniël het nederig sy sonde bely.  God stel nie belang in klagtes vanuit ‘n trotse hart nie. Hy luister na nederige belydenis. God reageer nie deur te wil straf nie, inteendeel, Hy seën ons wanneer ons eerlik is oor ons sonde. Dan 9:5: “Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie.” Daniël noem spesifieke dinge waar Israel oortree het. Hulle het nie God se hulp verdien nie, maar hulle kon dit ontvang op grond van God se genade.

Kom ons volg Daniël se voorbeeld van verootmoediging en gebed in hierdie tyd.


Geestelike hand-higiëne!

COVID-19 – Uitdaging of geleentheid?

Liewe Garsfontein gemeentefamilie

Op 15 Maart 2020, het president Cyril Ramaphosa,  ‘n dringende oproep tot alle Suid Afrikaners gerig om saam te werk in die stryd teen die Corona-Virus (COVID-19). Een van die maatreëls wat ingestel is, is ‘n algehele verbod op samekomste wat meer as 100 mense behels, aangesien sosiale distansiëring een van die doeltreffendste voorsorgmaatreëls vir die verspreiding van die COVID-19 virus is. As geloofsfamilie, is ons gemeente by hierdie oproep ingesluit en is die welstand van alle mense vir ons belangrik. Hierdie maatreëls hou besliste uitdagings vir ons gemeente, veral ten opsigte van ons samekomste as geloofsfamilie in.

Ons erken die behoefte van gelowiges om in hierdie tyd juis die gemeenskap van gelowiges te beleef. Alhoewel die nuutste navorsing daarop dui dat infeksie in meeste gevalle nie tot ernstige simptome lei nie, dit nogtans gevaar vir ‘n spesifieke deel van ons samelewing inhou. Ons wil elke moontlike voorsorg tref om verspreiding te probeer bekamp, sodat die mees weerlose onder ons na die beste van ons vermoë beskerm kan word. Ons bely ons vertroue in die HERE se sorg en beskerming in hierdie uitdagende tye, asook ons oortuiging dat die HERE ons deur Sy Gees aanspoor om ons naaste lief te hê, soos onsself soos dit in Filippense 2:1-5 geskrywe staan:

Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was…

Om hierdie rede is besluit op die volgende reëlings en doen ons ‘n oproep aan die hele gemeente, om ons hierin te ondersteun, dat u uself sal beskerm, ander se vrese sal respekteer en dat ons steeds as kerk diensbaar sal wees tot mekaar en ons gemeenskap.

Eredienste en ander samekomste

Om hierdie rede is daar besluit dat, tot en met verdere kennisgewing, daar geen eredienste by die kerkterrein sal plaasvind nie. Eredienste sal voorts op video, asook klank formaat beskikbaar gestel word. Gesinne, groeigroepe of individue kan by die huis aan hierdie eredienste deelneem. Digitale uitsendings sal op ons webblad (nggars.org.za), NG Garsfontein Facebook blad, Youtube kanaal, asook nuwe Whatsapp groep beskikbaar gestel word teen 09:00 op elke Sondag. Volledige skakels vir hierdie uitsendings sal later in die week gekommunikeer word.

Alhoewel die Corona-Virus ‘n uitdaging vir ons gemeente, in terme van enkele aspekte van ons gemeentebediening inhou, is ons daarvan oortuig dat hierdie uitdagende tye juis ‘n ideale geleentheid bied om ons roeping as liggaam van JESUS CHRISTUS uit te leef, en ook in ons omgang met hierdie pandemie die voorbeeld van JESUS te volg. Alhoewel ons vir ‘n kort tydjie verhinder mag word om soos ons daaraan gewoond is kerk toe te “gaan”, bied die Corona-Virus aan ons ‘n besondere geleentheid om kerk te “wees”.

Binne ‘n tyd wat die fokus op ons hand-higiëne geplaas word, wil ons gesonde, Bybelse hand-higiëne toepas – anders gestel: ons wil JESUS se hande wees. Hier is praktiese wyses waarop ons dit kan doen:

Hande wat bid

In Jakobus 5 word ons herinner aan die belangrikheid van gebed in uitdagende tye, en dat die gebed van gelowiges ‘n kragtige uitwerking het. As gemeente wil ons intree in gebed vir ons land en sy mense, en baie spesifiek vir elkeen wat reeds direk deur die Corona-Virus geraak word, asook vir ons dokters en mediese personeel. Ons gaan vir die komende tydperk weekliks gebedspunte kommunikeer, waarvoor ons as gemeente (hetsy individue, gesinne of groepe) kan bid.

Hande wat dien

Die kerk was nog altyd geroep om in krisistye, nie uit vrees in hulself te onttrek nie, maar juis uit liefde uit te reik na ander in nood – hierdie moet ook waar wees vir ons gemeente. As gemeente wil ons ons gemeenskap dien op die volgende wyses:

  • Deur te hou by die riglyne vir persoonlike higiëne, sodat ons nie ons eie, of ander se welstand in gedrang bring nie. Indien jy simptome toon, is dit beter om enige sosiale samekomste te vermy en dadelik die COVID-19 hulplyn-nommer te skakel: 0800 029 999.
  • Deur die skenking van hand-skoonmaak-middels, immuun-medikasie, handskoene en ander mediese hulpmiddels aan persone wat nie hiertoe toegang het nie, byvoorbeeld: hawelose persone, motorwagte, huishulpe, ensomeer.
  • Vanweë die skielike sluiting van die skole in ons omgewing, kan ons werkende lidmate help deur hul kinders op te pas.
  • Indien jou firma se werksaamhede ongedeerd kan voortgaan, kan jy persone wie se werk weens COVID-19 maatreëls gestaak is, in diens neem – eerder as om te “out-source”.
  • Bejaardesorg, veral in terme van hulp met inkopies en basiese benodighede, aangesien bejaardes deel van die hoë-risiko groep uitmaak.
  • Kontak asb. die kerkkantoor indien u op enige van hierdie of ander wyses kan help, of indien u hulp benodig.

Hande wat gee

Die tydelike afskaffing van eredienste hou finansiële uitdagings vir gemeentes en hul dienswerk in. Ons is ook daarvan bewus dat baie mense tans sonder inkomste is, vanweë die COVID-19 maatreëls, en dus finansiële ondersteuning benodig. Daarom versoek ons u om steeds voort te gaan om op een van die volgende wyses u weeklikse erediens-dankoffers, en enige finansiële bydraes te gee, sodat ons gemeente op volhoubare wyse met ons werksaamhede kan voortgaan en ander se nood kan help verlig.

Indien enige iemand hulp of ondersteuning benodig, kan julle gerus die kerkkantoor of enige van ons leraars kontak. As gemeente sal ons mekaar in hierdie tyd omarm, ondersteun en dien – saam met Christus en saam met mekaar sal ook hierdie stormagtige tye weer tot bedaring kom,

Tot dan – kom ons pas gesonde, geestelike hand-higiëne toe.

Baie liefde en groete

Dr. Gavin Meistre en Dr. Jaco Barnard

Spesiale reëlings rondom dienste tydens Paasnaweek word nog gefinaliseer en sal binnekort aan die gemeente gekommunikeer word.