Geen Kategorie


Advent

Advent

Die nuwe kerkjaar het amptelik verlede sondag begin – met adventstyd! Advent is vir die kerk ‘n seisoen van afwagting en voorbereiding met die oog op Kersfees, asook ten opsigte van Jesus se terugkeer na die aarde. Die woord “advent” kom van ‘n Latynse woord wat beteken “koms”. Die woord word vandag baie keer gebruik om die aankoms van ‘n belangrike persoon of saak aan te dui. In die kerk verwys dit na die vier sondae (weke) voor Kersfees.

Dis ‘n tyd van opgewonde afwagting. Die woord “wag” speel hier ‘n sleutelrol. So het die mense van die Ou Testament geduldig gewag vir die koms van die Messias – die Gesalfde, wat sou kom om die wêreld van ons sonde te verlos.

Ons hoef nie meer te wag om die koms van Jesus nie – Hy het klaar gekom as Redder van die wêreld op Kersdag. Hy bly nou by ons deur sy Gees. Nou wag ons vir die aanbreek van nog ‘n Kerfeestyd, maar ons wag ook vir die wederkoms van Jesus.

Dis belangrik om te leer van “wag”! Dis een ding wat baie mense nie goed kan doen nie, veral nie in vandag se tyd nie. En tog is dit ‘n baie belangrike geestelike gewoonte waarin ons onsself keer op keer moet inoefen. Die lewe om ons maak ons baie haastig. Ons kan nie wag nie. Alles moet so gou soos nou gebeur. Dit maak ons geestelik dood. Dit ontneem ons van ons menslikheid. Dit ontneem ons van ons spiritualiteit. Dit bring afstand tussen my en God – omdat ek nie kan wag nie.

Wat is “wag”? Dit het niks te doen met luiheid, passiwiteit of onaktiwiteit nie. Dit het alles te doen met ‘n rustige vertroue in God in die wete dat Hy in beheer is – dat Hy alles ten goede sal laat meewerk, dat Hy jou koers bepaal. Dit gaan oor rustig raak in jouself – ‘n nadenke oor wie jy is, waar jy vandaan kom, waarheen jy oppad is, wat jou lewenswaardes is, ‘n oorgee van jouself in die hande van God. Dat ek nie meer sal stres oor more en volgende jaar nie, ook nie oor my werk, my blyplek, my gesondheid, my kinders en kleinkinders nie. Terwyl ek elke dag biddend opkyk na God, dank ek Hom dat Hy reeds gekom het om by te kom bly. Trouens, ek is deel van die sirkeldans van die Drie-Eenheid, ek vat hande met die Vader, die Seun en die Heilige Gees – en met alle gelowiges in hierdie tyd en sê net saam met die skepping: dankie! Ek jaag  nie meer nie – ek laat my ook nie jaag nie, ek rus in God, my Hoop en Verwagting! Ek werk, ek ontspan, en rus in die Here!

Geniet die fees van rus en vrede!  Dankie vir ‘n jaar van saamstap, saamdink en saambid!  Mag Kersfees 2019 baie innerlike verryking vir jou bring. Mag 2020 ‘n jaar van ongekende geleenthede wees om te groei na Christus toe.

Baie dankie aan Michelle wat elke week hierdie Familienuus so getrou uitstuur. Ons groet tot 2020!

Gloria in excelsis Deo!


Vrugte wat sal hou!

Jesus sê vir sy dissipels in Joh 15:16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.”

God se sending is bedoel vir almal wat aan Hom behoort. Hy het ons gekies om uit te gaan en vrugte te dra. Daar is nie genoeg sendelinge in die wêreld om God se missie te vervul nie. Daarom wil Hy vir my en jou ook gebruik waar ons woon en werk. Ons is ook sy sendelinge wat vrugte sal dra.

Vrugte is ‘n metafoor vir ‘n suksesvolle, groeiende, florerende, produktiewe lewe. Jesus wil hê dat ons vrugte sal dra wat sal hou. Hier teen die einde van die jaar word ons moeg, uitgeput en oorlaai. Ons is nie altyd lus om vrugte te dra nie, ons wil nou net die werksjaar eindig dat alles klaarkom en ons kan gaan rus. Nee, Jesus gee vir ons vrugte wat sal hou – deur elke tyd van ons lewens. Ook wanneer ons met vakansie gaan, gaan ons nogsteeds goeie vrugte dra wat sal hou.

Meeste van dit wat ons doen sal nie hou nie. Dit sal ook nie vir altyd onthou word deur ander nie. Niemand sal na tien jaar vanaf my afsterwe die meeste dinge onthou van wat ek gedoen het nie. Hulle sal nie omgee vir die flieks wat ek gesien het, die boeke wat ek gelees het, die vakansies wat ek geniet het nie. Dit sal alles vergete wees. Jesus wil egter hê dat ek iets sal doen wat sal hou en wat vir altyd onthou sal word.  Daar is twee dinge wat regtig sal hou: die waarheid en mense.

Dink aan die volgende situasie: iemand kom na jou toe eendag in die hemel:

“Ek wil net vir jou baie dankie sê!” 

“Vir my dankie sê?”  “Ek ken jou nie eers nie?”

 “Jy’s reg, jy ken my nie, maar jy was betrokke by ‘n bediening, ‘n uitreik- of noodsorgprojek by jou kerk. Jy het iets gedoen wat my moed gegee het, jy het my help glo in God,  dat ek Hom beter kon leer ken. Ek is in die hemel as gevolg van jou! Ek is vir altyd jou vriend, jou broer en suster in Christus!”

Niks wat jy doen is meer belangrik as om mense te help om die bestemming van hulle lewe te bereik nie. Dit is vrugte wat sal hou! William James het gesê: “The greatest use of your life is to invest it in that which outlasts it.”  Niks wat jy doen is meer belangriker as om mense te help om die ewige lewe te ontvang. Met jou lewe gaan jy hulle aanraak en inspireer om hulle verhouding met God reg te maak. Wat ‘n onuitspreeklike voorreg!

Jy mag dalk ‘n onderwyser wees, ‘n boekhouer, ‘n tuisteskepper, afgetree, ‘n nutsman. Jou grootste roeping is om die gawes wat God vir jou gegee het te gebruik om ander mense te help om hulle harte oop te maak vir God se nuwe lewe. So dra jy vrugte wat sal hou.


Vyf Kernwaarhede wat jou sal vry maak!

Die gebeure in ons erediens op doopsondag, het my opnuut laat nadink oor die vyf kernwaarhede wat die Franciskaanse teoloog Richard Rohr ‘n tyd gelede gedeel het. Wanneer ons hierdie waarhede aanvaar, bring dit ongekende vrede en vryheid. Ons leef in ‘n selfgesentreerde tyd waar mense al meer op hulself fokus. Hierdie waarhede is goeie medisyne ten opsigte van meer realistiese verwagtinge in ‘n beperkte en onvolmaakte wêreld. Dink goed na oor die volgende:

  1. Die lewe is hard

Ons lewe in baie gemaklike tye met baie geriewe rondom ons. Ons hou nie van ongerief en lyding nie. Ons voorouers het verstaan dat lyding deel van hul lewens was. Wanneer ek besef en aanvaar dat die lewe soms hard kan wees, berei dit my voor om swaartye met grasie te hanteer. Dit bring ‘n vreemde soort vrede. Ons word vry van onrealistiese verwagtinge. Ons word dankbaar vir die vreugdes wat ons beleef (Joh 16:33).

  • Jou lewe gaan nie oor jou nie.

As jy God wil laat glimlag, vertel Hom van jou planne. Hy het dalk ander planne vir jou. Soms dink ons dat ons lewens net gaan oor dit wat ons wil doen. My lewe raak ook God – en ander mense om my. Ware geluk kom nie wanneer ek begin kry wat ek wil hê nie, maar wanneer ek die Here begin vra wat Hy wil hê. Ek volg nie my eie ster nie, maar vir God. Dis waar ware vrede te vinde is. Dit sal goed wees om uit te vind hoe pas ek by God se plan in, nie waar pas Hy by my planne in nie (Matt 6:33).

  • Jy is nie in beheer nie.

Beheer is ‘n illusie. Ek mag dink ek is in beheer, maar dis nie waar nie. More mag nooit kom nie. Ons pogings om te beheer en uitkomste te manipuleer is komies en dikwels skadelik. Beheer bring maar net meer angs en woede. Dit bring ‘n vreemde rustigheid wanneer jy besef jy kan nie alles beheer nie. Dit maak jou ‘n slaaf wanneer jy kommer oor onvoorspelbare dinge. Om te te laat gaan, is bevrydend (Jak 4:13-16).

  • Jy is nie so belangrik nie.

Ek het gedink die hele wêreld draai om my. Ek het gedink dis net my gevoelens en gerief wat saak maak. Natuurlik het God my besonders lief, maar ek moet besef dat Hy ander ook net so liefhet. Daarom moet ek hulle respekteer. Die harde waarheid is dat ander mense soms belangriker is as ek. Hulle het my aandag en liefde intens nodig. Ek staan terug en dien hulle met Jesus se liefde. Die wêreld is nie daar net vir my nie. Wanneer ek dit verstaan en aanvaar, bring dit ongekende vrede en vryheid. Nou kan ek ook ander mense se belangrikheid vier (Fil 2:3).

  • Jy gaan sterwe.

Dis hard, maar waar! Gaan stap vir ‘n slag deur die begraafplaas. Hulle wat daar te ruste gelê is was ook almal, soos ek en jy,  opgewerk oor wat die lewe na hulle gegooi het. Hulle stryde is nou verby! Indien hulle getrou was, sal hulle nou by God wees. Hulle besef nou dat swaar tye nie vir altyd hou nie. Dus, maak gereed om God te ontmoet. Dis is my dringendste prioriteit. Dit maak ons vry van die oordrewe en teenstrydige eise van die wêreld om ons. Ons fokus op die één ding wat ons moet doen. My lewe word eenvoudiger en ek neem die lewe nie so ernstig op nie. Dit alles sal verbygaan.

Dink na oor hierdie waarhede. Trek hulle weer nader wanneer die lewe hard en vinnig na jou toe kom met sy agenda van beheer, self-belangrikheid, leë beloftes en perfekte gerief op die aarde. ‘n Eenvoudige, sober, nederige en gefokusde lewe bring vrede en vryheid.


DIE DAG TOE DIE HERE OUMA LIEFIE KOM HAAL HET..

Laas sondag het die Here ‘n besondere afspraak met ons gemeente gehad – ook met die doopfamilie Giesing. Niemand het verwag dat so iets sou gebeur nie. Ons het beplan vir feesvieringe en vreugde, maar dit was van korte duur, want skok en hartseer het die plek daarvan ingeneem. Die Here het haar kom haal in ons liturgiese ruimte, aan die begin van ons oggenddiens. So kom die dood dikwels na ons, onverwags en skielik. Soms gee die dood ons nie kans om alles eers gereed te kry sodat dit so gemaklik as moontlik gebeur nie. As jou tyd daar is, is dit daar!

Al was dit vir ons almal ‘n skokkende en onverwagse ervaring, is daar so baie goeie dinge wat ons op grond daarvan saam met ons kan neem. Ouma Liefie het die Here geken en gedien – sy was ‘n jarelange kerkganger in Delareyville, haar tuisdorp. Sy was gesond en lewendig, met bykans geen gesondheidsprobleme nie. Sy was baie geliefd onder haar familie en vriende. Sy het baie uitgesien na klein Leander se doop en spesiaal met familie na Pretoria gereis om hierdie besondere geleentheid mee te maak. Sy sou dit vir niks misloop nie. Min het sy en enige van ons geweet wat God intussen vir haar beplan het verlede sondag.

Wanneer ons ouer word, word hierdie familiegeleenthede al hoe belangriker. Familiebande word vir ons belangriker. Daarom word sulke geleenthede gekoester. Sy wou hier wees om dit alles te aanskou. Die oomblik was vir haar te groot – sy kon nie die geleentheid end-uit meemaak nie. Sy het haar laaste asem uitgeblaas aan die begin van die doopgeleentheid. Dit was vir haar goed om by ons te wees – by haar dierbares, by Leander. Sy het nie ‘n siekbed gehad nie, maar haar aardse lewe het geëindig op ‘n hoogtepunt,  op ‘n vreugde-oomblik, by die doop van haar agter-kleinseun. Boonop was sy in die kerk, by die Here se mense, by al haar familie. Geruisloos, sonder enige geluid het sy rustig inmekaar gesak, tevrede, terwyl sy haar aardse lewe oorgegee het aan haar Skepper.

Ons was hartseer en geskok, maar as ons na die groter prentjie kyk, voel ons bevoorreg dat ons kon sien hoe een van die Here se eie by die wenstreep uitkom. Die wenstreep was vir haar in die liturgiese sentrum van Garsfontein Gemeente. Sy het haar laaste offer van lof en aanbidding aan die Here gebring – die oorgee van haar laaste stukkie asem en krag aan haar Skepper. Ouma Liefie is nie dood nie, sy lewe by God. Sy het oorgegaan van die lewe na die ewige lewe. Sy het haar plek nou ingeneem saam met die baie ander wat ons aanmoedig om te volhard in die wedloop van die geloof. Ons eer haar nagedagtenis en bid vir die familie – dat hulle ryke vertroosting sal ervaar in hierdie tyd van verlies.


Vyf wenkeuses!

In 2 Kor 5:17 lees ons hierdie besondere woorde: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

Almal wonder oor Rassie se strategie hierdie komende saterdag – wat sal dit wees? ‘n Vorige kaptein van die Engelse span praat met lof van sy pragmatiese benadering. Ons sal saterdag sien – want teen die Engelse sal daar ‘n besliste plan moet wees. Daardie plan sal neerkom op ‘n paar keuses wat die Springbokke as span moet maak – ons noem dit wenkeuses – keuses om te kan wen. Ons sien daarna uit om dit mee te maak.

Daar is ook wenkeuses wat ons as die Here se kinders moet maak – keuses wat ons kan uitoefen om by ‘n oorwinnende lewe te kom. Hier is so ‘n paar wenkeuses:

  1. Jy kan kies om gesonder te leef. In plaas daarvan om te kla dat jy nie ‘n Olimpiese liggaam het nie, vind jy ‘n paar planne om jou energie te verhoog, jou stres te verminder, meer slaap in te kry en gesonder te eet. Die Psalmdigter herinner ons in Ps 119:73 dat God ons met sy eie hande gemaak en gevorm het. Jou liggaam is God se gawe aan jou! Verbeter die beheerbare faktore in jou lewe – dit verminder die impak van die onbeheerbare faktore wat oor jou pad kom.
  2. Kies om jou verhoudinge te verdiep. Die vrees vir verwerping verhoed dikwels dat ek ‘n goeie konneksie maak in my verhoudinge. Die manier om van vrees ontslae te raak is om soms juis die ding te doen wat jy die meeste vrees. Leer kommunikasie vaardighede aan,  vervang swak verhoudinge, reik uit en neem die risiko om met iemand vriende te maak. Laat ons die liefde nastreef in ons verhoudinge (1 Kor 14:1).
  3. Kies om God te vertrou, maak nie saak wat gebeur nie. Dis wat die Psalmdigter wil doen in Ps 34:1, “Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.” Wanneer jy dit kan sê, ongeag jou omstandighede, het daar in jou hart ‘n geloofsvrymoedigheid ontwikkel wat jy nie in Hollywood of in Wallstraat gaan kry nie. Dis geloof wat gebou is op ‘n verhouding met God!
  4. Jy kan kies wat in jou gedagtes aangaan. Deur die loop van die 20e eeu het wetenskaplikes geglo die brein kan nie verander nie. Die wenner van die 2002 Nobel Vredesprys het egter bewys dat jy instaat is om jou brein te “herbedraad”. So het die wetenskap uiteindelik die Bybel ingehaal: “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” (Rom 12:2). Jou “self” word geskep deur jou herinneringe en jou herinneringe word geskep deur jou denk-gewoontes. Voed jou brein met die beste wat daar is – die Waarheid van God, sy Woord.
  5. Laastens, jy kan Jesus kies as jou Verlosser. Hy verlos ons nie net van ons sonde nie, Hy is ook my Verlosser van elke dag. Wanneer jy toelaat dat Jesus jou verlos, gee Hy jou die vermoë om elke dag jou wenkeuses deur te voer. Wanneer ek aan Jesus behoort, is ek ‘n splinternuwe skepping – die oue is verby – die nuwe het gekom!

God wil so graag seen. Hy kan nie wag om jou Metgesel en Begeleier te wees nie. Dis nooit te laat om hierdie verandering te beleef nie. Wanneer jy hierdie wenkeuses uitoefen, word jy ‘n wenner saam met Hom.


'n Nuwe klankbaan vir jou lewe!

Ons moet opnuut van hierdie vers kennis neem: “Daarmee (met die wapens van God) vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak (2 Kor 10:5).

Hier is bietjie goeie nuus! Jou brein stoor alles. Daar is egter ook die slegte nuus – jou brein stoor regtig – alles! Jou brein kan nie onderskei tussen dit wat werklik is en dit wat denkbeeldig is nie. Dit ontvang en verwerk beide die waarheid en die leuen.

Ons het al allerhande vorme van gemors in ons breine gestoor. Of jy nou daarvan hou of nie, jy baseer soms jou besluite op van daardie gemors wat jy gestoor het. Toe jy ‘n kind was het die groot mense vir jou dinge gesê wat jy geglo het omdat hulle gesagvolle mense vir jou was. Dalk het hulle vir jou gesê dat jy nie goed genoeg is nie, dat jy dit nie gaan maak in die lewe nie. Jy het hierdie leuens begin glo, soveel so dat jy dit ook vir jouself begin sê het. Dit was alles leuens – dit is nou nogsteeds ‘n klomp leuens. Jy het dit nog altyd geglo.

Dit is nodig om die klankbaan van jou lewe te verander wat elke dag in jou gedagtes speel. In plaas daarvan dat jy iets speel wat gebaseer is op leuens, is dit nodig om die klankbaan van die waarheid van God se Woord te speel. Paulus verwys ook hierna in Rom 12:2: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”. Hoe verander mens jou manier van dink? Jy speel die klankbaan van die Waarheid.

Vra God om jou herinneringe te genees: herinneringe van verwerping, sonde, weersin, wrokkigheid, skuldgevoel en misbruik. Dit maak my seer aan die binnekant. God wil jou aanraak en innerlik genees.

Vul jou gemoed met God se Woord. Hoe meer jy jou gedagtes vul met God se Waarheid, hoe minder plek is daar vir leuens. God se Woord sê dat Hy jou liefhet (Joh 3:16), jy is vir Hom kosbaar (Luk 12:6), jy is tot baie dinge instaat (2 Pet 1:3), Hy het jou vergewe (Ps 103:12, Hy wil jou gebruik (Efes 4:12).


In jou krisis!

Ons almal beleef krisisse van tyd tot tyd: rondom ons gesondheid, verhoudinge en werk ensomeer. Krisisse kan ook ontstaan rondom natuurrampe soos droogte, vloede, wegholbrande ensomeer. Al is dit soms die laaste ding wat jy wil doen, is dit egter die eerste ding wat ek moet doen: BID! Gebed kan nie ‘n laaste uitweg wees nie – dis die eerste uitweg!

Daniël is ‘n goeie voorbeeld van hoe om te bid in die tyd van ‘n krisis. Na aan die einde van sy lewe, 70 jaar nadat hy en sy vriende na Babilon in ballingskap weggevoer is, het hy ‘n reuse krisis ervaar. Hy wou terugkeer huis toe voordat hy sterf. Hy was bewus van die profeet Jeremia se profesie dat Israel na 70 jaar sou terugkeer na hul land toe. Daardie tyd was vinnig besig om nader te kom. Daniël begin te bid. Sy gebed is ‘n besondere model vir gelowiges wat hulle in krisistye bevind. Hier is hoe Daniël gebid het.

Daniël luister na God. Hoe luister jy na God? Jy bestudeer die Woord. Dit is wat Daniël gedoen het. Aan die begin van hoofstuk 9 lees hy van God se belofte van Jeremia om die Israeliete terug te bring na Jerusalem. In die krisis is dit nodig om te fokus op God se Woord en sy beloftes. Daar is so bale beloftes in die Bybel. Dit bied ‘n stewige fondament vir gebed tydens ‘n krisis.

Daniël draai sy fokus na God. Hy doen dit op ‘n fisiese wyse. In Dan 9:3 staan daar: “Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking…” ‘n Krisis kan ons baie pyn verskaf, juis omdat ons ons oë van die Here wegdraai in die middel van die krisis. Dis nodig dat ons sal fokus op God in moeilike tye. Wanneer jy jou aandag draai na familie en vriende, dan is jou fokus op hulle. Kyk op na die Here en fokus op Hom  en dit waarmee Hy besig is in jou lewe, nie op jou omstandighede nie.

Daniël deel sy begeertes met passie en emosie. Daniel het nie net sy vesoeke aan God bekendgestel nie. Hy het by God gesmeek en gepleit. Jou passie en die intensiteit van jou woorde weerspieël dikwels hoeveel iets vir jou saak maak. Wys vir God dat jou versoek meer as ‘n impulsiewe “bevlieging” is, dat dit ‘n baie sterk begeerte van jou kant is. Daniël het eintlik vir God gesoebat. Hy soebat God en vra of hy kan terugkeer na Jerusalem. Laat jou volle menswees deel wees van jou gebed, ook jou passies en emosies.

Daniël demonstreer dat hy ernstig is.   Hy vas – dan bid hy in sak en as. Dit was belangrike vorme van verootmoediging in gebed in daardie tye. Dit het gelowiges se erns gewys met gebed. Vas is ‘n belangrike geestelike gewoonte wat ons as christene opnuut moet herontdek. Dit is teken van ‘n volhardende verootmoediging voor God en ‘n erkenning van ons gebrokenheid voor Hom.

Daniël het God gedank vir sy liefde en beloftes.  Dit is goed om te vra –  met danksegging. Dit is wat Daniël gedoen het. In Dan 9:4 bid hy: ”Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en U gebooie gehoorsaam.” Hy betuig sy dank teenoor God. Hy erken God se trou om al sy beloftes na te kom. Dis vir ons belangrik om in ons krisisse dieselfde te doen. Dankbaarheid help ons om verby ons probleme te kyk.

Daniël het nederig sy sonde bely.  God stel nie belang in klagtes vanuit ‘n trotse hart nie. Hy luister na nederige belydenis. God reageer nie deur te wil straf nie, inteendeel, Hy seën ons wanneer ons eerlik is oor ons sonde. Dan 9:5: “Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie.” Daniël noem spesifieke dinge waar Israel oortree het. Hulle het nie God se hulp verdien nie, hulle kon dit ontvang op grond van God se genade.

Is jy nou in ‘n krisistyd – volg Daniël se voorbeeld en bid.


Klim die leer van nederigheid!

Sint Benediktus het in die sesde eeu al vir ons sy leer van nederheid as ‘n gawe gegee. Hierdie leer is vandag net so relevant as in sy tyd. Hy wys vir ons hoe ons kan ‘n groei in die genade van nederigheid – hoe ons kan groei in die liefde van God sodat ons totale menswees daardeur geraak word. Ons wil nie graag hierdie leer klim nie. Dit word nie bedoel as ‘n metode of resep tot nederigheid nie. Dit gee vir ons egter ‘n aanduiding van hoe moeilik dit is om soms die pad van nederigheid te stap. Alles in ons bied weerstand teen elke tree wat ons neem, maar dit is egter die weg tot ware liefde en vryheid.

Trap 1, heel onder: ‘n Heilige respek en eerbied vir God – ‘n bewus wees van sy teenwoordigheid, want ons tree dikwels op asof Hy nie teenwoordig is nie.

Trap 2:  Doen God se wil, nie jou eie of ander s’n nie. Dis die begin van innerlike transformasie.

Trap 3:  Wees gewillig om jou te onderwerp (sonder enige murmurering) aan die raad en leiding van ander. God se wil kan ook deur ander na ons kom – so gee ek my arrogansie en magsgevoel prys.

Trap 4:  Wees geduldig met die probleme van ander. Die lewe met ander is nie altyd maklik nie. Ons gee ander ‘n kans om hul eie swahhede uit te sorteer op hul eie manier en op hul eie tyd.

Trap 5:  Radikale eerlikheid teenoor ander oor ons swakhede en foute. Ons hou op om ons te verbeel ons is iets wat ons nie is nie. Ek erken my swakhede en beperkinge teenoor ‘n vriend / in, huweliksmaat, ouer of iemand anders wat omgee vir my ontwikkeling.

Trap 6:  Wees diep daarvan bewus dat jy die grootste sondaar is (1 Tim 1:16). Ek sien myself as potensieel swakker en meer sondig as al die ander om my. Dit maak ons sag en menslik.

Trap 7:  Om minder te praat. Dis naby die top van die leer – want dit gaan oor ‘n lewe wat God soek en gevul is met sy wysheid. Wyse mense is bekend met hul min woorde.

Trap 8:  Getransformeer in die liefde van God. Daar is geen hoogmoed, sarkasme, arrogansie, gevoel van belangrikheid. Ek omhels my beperkinge en dié van ander. Ek weer hoe broos en breekbaar ek is. Ek is tuis met myself en gelukkig om te vertrou op die genade van God. Alles is vir my ‘n gawe.

Om die leer van nederigeheid te klim is nie maklik nie. Hierdie leer laat ons opnuut nadink oor my plek voor God en die mense. Waar wil ek wees en waar wil God my hê? Sal ek en jy nie aanstap agter Jesus aan nie. Hy is die voetewasser! Hy is sagmoedig en nederig van hart  (Matt 11:29).