Tag: Bestuur jou woede


Lockdown-Woede!

Dit kan dalk wees dat ‘n paar van ons in hierdie tyd ‘n bietjie kort van draad is? Die situasie waarin ons onsself bevind maak dit net erger. Ons geduld met ons omstandighede en met mense is maar min. Dit moet nie as ‘n verrassing kom nie. Daar is baie redes waarom ons kwaad kan wees – self-isolasie vir lang periodes, werksverliese, verminderde salarisse, irrasionele, inkonsekwente en onregverdige optredes van die owerhede, woelinge in ons eie harte.

Woede hoef egter nie die oorhand oor ons te kry nie. Meer as ooit is dit tyd om goed te dink oor hoe ons geloof daartoe kan bydra om ons kalm te hou, selfs in tye van krisis. Woede is nie altyd verkeerd nie. Die Bybel vertel dat God ook op toepaslike geleenthede woede beleef. Die rede hoekom ons woede beleef is omdat ons na sy beeld geskep is.

Woede wat egter nie goed bestuur word nie, is ‘n probleem – en dis ‘n sonde! Genadiglik kan God ons help om ons woede beter te bestuur te midde van chaos. Kyk gerus na hierdie volgende Bybelse patroon:

Besef die koste van onbeheersde woede

Daar is ‘n prys op jou woede. Spr 29:22 sê:” ‘n Persoon wat gou kwaad word, laat mense twis, hy laat mense baie sonde doen.” Jy het dit al sien uitspeel in jou lewe en ook in dié van ander. Spreuke lys verskeie moeilikhede wat veroorsaak word deur woede. Woede lei tot foute wat begaan word, dwase optredes, verbreekte verhoudinge (Spr 14:29,17; 11:29). Woede is nie die prys werd wat jy daarvoor betaal nie.

Besluit om jou woede te bestuur

Jy sal moet besluit: sal jy toelaat dat jou woede jouself en ander seermaak? Jy kan jou woede beheer – wees eerlik met jouself. Met God se hulp is jou woede beheerbaar. Spr 29:11:”Wanneer ‘n dwaas kwaad is, dan sê hy alles wat hy dink, ‘n wyse mens bly kalm.” Jy sal vooraf moet voorberei oor hoe jy korrek sal reageer in situasies wat jou kwaad maak. Moenie hieroor uitstel nie.

Dink voor jy reageer

Dink voor jy praat, dink voor jy doen. Moenie impulsief reageer nie. Jakobus skryf sy brief aan christene wat deur moeilike tye gegaan het. Hy sê in Jak 1:19-20:”moenie haastig wees om te praat nie, hy moet eers dink voordat hy praat. Hy moet ook nie haastig wees om kwaad te word nie.” Wanneer mense voel dat daar na hulle geluister word, verminder dit die frustrasies en verlig hulle seer. Woede-beheer is eintlik mond-beheer. Jy tem jou humeur deur jou tong te tem.

Raak ontslae van woede op paslike wyses

Woede is nie noodwendig die probleem nie. Dit word net ‘n probleem wanneer dit op onvanpaste wyses tot uiting kom. Efes 4:26 maak dit duidelik:”Wanneer julle kwaad word, dan moet julle nie sonde doen nie.” Baie van ons openbaar woede op wyses wat ons verder wegneem van ons doelstellings in die lewe. As ek innerlike genesing wil ontvang, my frustrasies wil oplos, my vrese wil verlig, dan sal ‘n woede-uitbarsting beslis in die pad staan. Wat is die beste wyse om met woede te werk? Moenie dit laat ontplof nie. Moet dit ook nie onderdruk nie, want dit lei tot depressie. Moenie dit op onvanpaste wyse tot uitdrukking laat kom soos byvoorbeeld deur sarkasme, woede-uitbarstings, ensomeer nie. Bely en erken dit! Laat mense weet dat jy seergekry het.

‘n Nuwe patroon in jou gemoed

Jou gedagtes bepaal jou emosies. Jou emosies bepaal jou optredes. As jy die gewoonte van woede wil verbreek, sal jy jou manier van dink moet verander. Sedert jy jongdae het jy waarskynlik geleer hoe om kwaad te word deur jou interaksie met ander om jou. Dit is dalk ook deur ander aan jou gemodelleer. Die goeie nuus is: jy kan ‘n ander en nuwe patroon aanleer. Rom 12:2:”Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, en wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Vra God om jou met sy liefde te vul God se liefde is ‘n transformerende krag wat ons verander van kwaai mense na vredevolle mense. Paulus sê vir ons in 1 Kor 13:5 dat die liefde nie vinnig kwaad word nie en geduldig bly. Wanneer ons met God se liefde gevul is, heers woede nie meer oor ons nie. Ons verhouding met Christus het ‘n groot invloed op ons vermoë om woede in ons lewens te bemeester. God se liefde kan ons verander selfs in tye soos hierdie. Laat God jou help om jou woede te bestuur. Dit was tot dusver ‘n uitdagende jaar. God gebruik tye soos hierdie om jou karakter te  vorm. Soos wat woede om jou ontplof, laat God se besondere vrede deur jou skyn.