Tag: Christenskap


LYDENSTYD HET BEGIN

Die Lydenstyd (Lent) het amptelik gister begin met Aswoensdag. Komende Sondag is ons by die tweede Lydensondag. Jesus se versoeking in die woestyn vir 40 dae dien as agtergrond en patroon vir die Lydenstyd. Dit duur vir sewe weke tot en met Goeie Vrydag, waar ons Jesus se kruisdood gedenk. Op Paassondag vier ons Jesus se opstanding uit die dood en die nuwe lewe wat Hy vir ons daardeur moontlik maak.

Tydens die Lydenstyd word sewe kerse doodgeblaas, elke sondag ‘n kers. Die simboliek is om geleidelik van lig na donker te beweeg namate die herdenking van Jesus se kruisdood nader kom. Op Goeie Vrydag word die laaste kers geblus en is daar donkerte en stilte. Op Paassondag word al die kerse weer aangesteek, asook die groot Christuskers as viering van Jesus se opstanding uit die dood.

Met die oog op die begin van die Lydenstyd, kyk ons na die volgende gedig van Jean M. Watt met die titel: Lent

Lent is a tree without blossom, without leaf

Barer than blackthorn in its winter sleep,

All unadorned. Unlike Christmas which decrees

The setting-up, the dressing-up of trees,

Lent is a taking down, a stripping bare,

A starkness after all has been withdrawn

Of surplus and superfluous,

Leaving no hiding place, only an emptiness

Between black branches, a most precious space

Before the leaf, before the time of flowers;

Lest we should see only the leaf, the flower,

Lest we should miss the stars.

Watt se gedig vergelyk die Lydenstyd met ‘n boom wat al sy blare en blomme verloor het. Dit is ‘n tyd om onsself te stroop van die geraas van ons lewe en om ons bewussyn weg te draai van die dinge wat ons lewe, tyd en gedagtes op ongesonde maniere opneem. Daar is iets dor rondom ‘n kaal boom in die winter. Dalk verkies jy om die lentebloeisels te sien, of die groenigheid van die somer, of die goue blare van herfs. Tog, kry ons ‘n ander beeld van dorheid wanneer ons met dankbaarheid van die groter prentjie bewus raak – selfs bewus raak van die moontlikheid om sterre deur leë takke raak te sien. Lent is ‘n tyd wanneer ons kies om verby die dinge te kyk wat ons lewe volmaak, verby gemak en plesier en sekuriteit sodat ons die diepte van ‘n vervulde lewe kan ontdek. Hier is ‘n geleentheid om ons lewe te stroop na die basiese, die nodige, om die simplistiese te geniet, te fokus op die betekenis van lewe en weg te draai van dít wat ons innerlike wêreld – ons siel versmoor. Stap saam en beleef die Lydenstyd op ‘n nuwe manier!


God gebruik jou swakhede!

Ek en jy het swakhede. Jy is nie geskok oor hierdie wete nie, want jy is daagliks bewus daarvan. Dit gaan oor ons onvolmaakthede, ons beperkinge: fisies, emosioneel, intellektueel en geestelik. Daar is dalk onbeheerbare omstandighede wat my verswak en beperk. Maar die groot vraag is: wat doen ek en jy met ons swakhede? Jy kan dit wegsteek, dit ontken, verdedig, wrewel daaroor opbou. Dis wat baie mense doen, want ons is bang oor die reaksie van mense as hulle besef ek is nie so sterk in alles nie.

Maar God het ‘n ander perspektief op ons swakhede. Hy wil nie net ons sterkpunte gebruik nie, maar ook ons swakpunte tot sy eer (1 Kor 1:27). My swakhede is nie per ongeluk nie. God laat dit toe om sy krag deur my te openbaar. Hy word getrek na mense wat swak is en hul swakhede erken. Hy gebruik sulke mense op ‘n kragtige wyse. Dit is hoe Paulus sy doring in die vlees verstaan het.

Daar is ‘n beter opsie. In plaas daavan om dit weg te steek, kan ons dit erken en deel met ander. Nog beter, ons kan leer om te roem in ons swakhede. Vir God om jou op besondere wyse te gebruik, sal jy op ‘n manier “mank loop” vir die res van jou lewe. So is daar in elkeen van ons swakhede wat ons ons hele lewe lank met ons saamdra. Paulus bied vir ons ‘n besondere model oor die hantering van swakhede:

  1. Erken jou swakhede. As jy wil hê dat God jou moet gebruik, moet jy weet wie Hy is, maar ook wie jy is, met jou sterkpunte en swakpunte (Matt 16:16; Hand 14:15).
  2. Wees tevrede met jou swakhede. (2 Kor 12:9-10a). Dit leer ons om nederig te bly en afhanklik van God.
  3. Deel jou swakhede. Paulus was nie skaam om oor sy kwesbaarheid en weerloosheid te gesels nie. Hy praat eerlik oor sy mislukkings, gevoelens, frustrasies en vrese. (1 Kor 2:3).
  4. Roem in jou swakhede. 2 Kor 12:5b. Ons is ontvangers van genade. Ons roem op God se genade wat deur ons swakhede werk.

God gebruik swak mense. Hy sal jou ook gebruik. Hy gebruik jou nie ten spyte van jou swakhede nie, maar as gevolg daarvan.

Berei jouself voor om deur God gebruik te word deur eerlik te wees oor jou swakhede vandag.


WAAG DIT UIT DIE GROEF

Baie welkom terug aan almal! Ek vertrou dat jy ‘n goeie rustyd beleef het! Dit is goed om almal weer te sien by die kerk, met nuwe moed en krag vir 2020. Die skole het begin en almal is weer goed aan die gang. Dalk het jy die afgelope weke bietjie tyd gehad om te dink oor verlede jaar, die hoogtepunte en die laagtepunte, dalk oor die groewe waaruit jy moet klim in 2020. Markus 5:25-29 vertel die verhaal van ‘n vrou wat by Jesus uit die groef geklim het. Sy het vir 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely. Haar siekte het haar seremonieel onrein gemaak in die Joodse kultuur. Dit het meegebring dat sy feitlik geen sosiale lewe gehad het nie. Sy het baie geld bestee om gesond te word. Sy moes baie eensaam en desperaat gevoel het.

Eendag het sy gehoor dat Jesus haar dorp sou besoek. Sy het deur die skare vorentoe gebeur om by Hom uit te kom. Deur die gedrang het sy van agter af aan sy klere geraak. Sy het vas geglo dat sy genees sou word indien sy net aan Jesus se klere kon raak. Dit was uiters gewaagde optrede in daardie omstandighede. Sy is toe dadelik genees! Dit kon sy aan haar liggaam agterkom. Jesus is bewus van haar aanraking van geloof. Hy vra: “Wie het aan my klere geraak?” Die dissipels kon nie die vraag verstaan nie want baie mense het rondom Jesus saamgedrom. Jesus het egter die geloofsaanraking van hierdie vrou bewustelik ervaar. Die vrou kom al bewend en skrikbevange na Jesus, val op haar knieë en vertel haar hele storie vir Hom. Jesus stuur haar weg in vrede, sy is vir altyd genees van haar siekte. Haar geloof het haar gered. Sy het geloof en waagmoed gehad om oor die aanvaarde sosiale en kulturele grense van haar tyd te gaan.

Hier het ons ‘n vrou, desperaat in haar lewenssituasie, vasbeslote in haar geloof – sy neem die insiatief en verbreek die reëls van haar tyd. Sy het oor die grense beweeg. Sy was gereed om weer te begin en haarself te verbind tot aksie – geloofsaksie. Sy het deurgedruk om deur die skares te beur. Deur haar inisiatief het haar geloofsdaad tot haar genesing gelei.

Geloof kan tot dieselfde soort wonderbaarlike uitkoms lei in jou lewe. As jy dalk in ‘n groef is, sal geloof jou help om nie meer uit te stel nie, maar “om in rat te kom”. Dit gee jou die krag om daardie eerste tree te neem wat jou vorentoe sal neem na die plek waar God jou wil hê. Nie meer besluiteloosheid en ‘n heen en weer geskarrel nie. Nie meer draadsittery nie, nie meer wonder en wens en sal ek of sal ek nie. Wanneer jy in die geloof groei, leer jy om die inisiatief te neem en ontdek jy meer van God se doel met jou lewe.

Is daar ‘n paar groewe waaruit jy moet breek? Wees vasbeslote, neem die insiatief, vertrou Jesus om vir jou ‘n nuwe pad aan te wys. Hy sal jou begelei na waar Hy jou wil hê, waar Hy jou die beste sal gebruik.  Geniet 2020 en gaan voluit!


Klim die leer van nederigheid!

Sint Benediktus het in die sesde eeu al vir ons sy leer van nederheid as ‘n gawe gegee. Hierdie leer is vandag net so relevant as in sy tyd. Hy wys vir ons hoe ons kan ‘n groei in die genade van nederigheid – hoe ons kan groei in die liefde van God sodat ons totale menswees daardeur geraak word. Ons wil nie graag hierdie leer klim nie. Dit word nie bedoel as ‘n metode of resep tot nederigheid nie. Dit gee vir ons egter ‘n aanduiding van hoe moeilik dit is om soms die pad van nederigheid te stap. Alles in ons bied weerstand teen elke tree wat ons neem, maar dit is egter die weg tot ware liefde en vryheid.

Trap 1, heel onder: ‘n Heilige respek en eerbied vir God – ‘n bewus wees van sy teenwoordigheid, want ons tree dikwels op asof Hy nie teenwoordig is nie.

Trap 2:  Doen God se wil, nie jou eie of ander s’n nie. Dis die begin van innerlike transformasie.

Trap 3:  Wees gewillig om jou te onderwerp (sonder enige murmurering) aan die raad en leiding van ander. God se wil kan ook deur ander na ons kom – so gee ek my arrogansie en magsgevoel prys.

Trap 4:  Wees geduldig met die probleme van ander. Die lewe met ander is nie altyd maklik nie. Ons gee ander ‘n kans om hul eie swahhede uit te sorteer op hul eie manier en op hul eie tyd.

Trap 5:  Radikale eerlikheid teenoor ander oor ons swakhede en foute. Ons hou op om ons te verbeel ons is iets wat ons nie is nie. Ek erken my swakhede en beperkinge teenoor ‘n vriend / in, huweliksmaat, ouer of iemand anders wat omgee vir my ontwikkeling.

Trap 6:  Wees diep daarvan bewus dat jy die grootste sondaar is (1 Tim 1:16). Ek sien myself as potensieel swakker en meer sondig as al die ander om my. Dit maak ons sag en menslik.

Trap 7:  Om minder te praat. Dis naby die top van die leer – want dit gaan oor ‘n lewe wat God soek en gevul is met sy wysheid. Wyse mense is bekend met hul min woorde.

Trap 8:  Getransformeer in die liefde van God. Daar is geen hoogmoed, sarkasme, arrogansie, gevoel van belangrikheid. Ek omhels my beperkinge en dié van ander. Ek weer hoe broos en breekbaar ek is. Ek is tuis met myself en gelukkig om te vertrou op die genade van God. Alles is vir my ‘n gawe.

Om die leer van nederigeheid te klim is nie maklik nie. Hierdie leer laat ons opnuut nadink oor my plek voor God en die mense. Waar wil ek wees en waar wil God my hê? Sal ek en jy nie aanstap agter Jesus aan nie. Hy is die voetewasser! Hy is sagmoedig en nederig van hart  (Matt 11:29).