Tag: Emosionele welstand


ONS IS OP VLAK 3 MAAR JY VOEL OP MOEDVERLOOR SE VLAK 0

Voel jy op Vlak 0 vandag –  totaal emosioneel gedreineer en uitgeput. Covid-19 het jou nie platgetrek nie, maar jy is innerlik-emosioneel siek daarvan, platgetrek van al die gepraat van die “nuwe normaal”.  Jy voel innerlik swak van al die weerstand bied teen al die potensiële gevare dat jy nie lus voel om jou voet uit die bed te sit nie – dalk sal jy daar op jou veiligste wees. Jy voel lus om in ‘n hoekie te gaan sit van uitputting. En jy voel baie skuldig dat jy so voel, en jy probeer jou bes om sterk te wees vir jouself en jou mense, maar eintlik weet jy jy is baie swak. Jy is dalk so bewus van jou eie foute, gebreke en tekortkominge.

Moenie moed verloor nie! Wees dapper en gaan net aan! Het jy geweet God gebruik mense soos jy. God werk deur mense wat swak is, mense wat weet dat hulle swak is, mense wat voel dat hulle aan die einde van hul kragte gekom het. God werk deur mense wat vol foute en gebreke is. God kon gekies het om net deur mense te werk wat sterk en agtermekaar is, maar Hy sou nie veel gedoen gekry het op daardie manier nie. Die feit van die saak is, ons is almal gebroke.

2 Kor 4:7: “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”

God gebruik swak mense om sy krag te wys. God het gekies om sy heerlikheid in kleipotte te plaas. As jy ‘n kleipot laat val, sal dit breek, net soos ek en jy. Ons is geestelik, fisies en emosioneel breekbaar.

Die geskiedenis van die kerk is gevul met voorbeelde van hoe God werk deur gebreekte en seergemaakte mense. Hoekom gebruik God hierdie mense? Sodat sy heerlikheid en krag na vore kan kom. Vir God om jou te gebruik vir die res van jou lewe, sal jy mank loop vir die res van jou lewe. Jy kan nie jou menslikheid wegsteek nie. Om jou menslikheid, swakheid en broosheid te ontken is nie net oneerlik nie, jy bewys ook jouself en ander ‘n groot onguns.

Trouens, jou brose menslikheid is eintlik een van jou grootste kragte wat jy het. As jy nie jou swakhede wegsteek nie, sal dit jou altyd dwing om op God te vertrou. God het sy grootste gawes in eenvoudige kleipotte geplaas, sodat Hy die krediet kan kry daarvoor. God het dit oor en oor gedoen in die Bybel, selfs voordat Hy sy kerk gevestig het.

Heb 11:32-34 “Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Sameul en die profete. Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het leërs van vreemdes op die vlug gejaag.”

Dit is wat God met ons doen. Hy neem ons swakheid en omskep dit in krag.

Die Bybel beskryf Gideon as baie dapper man, en tog was hy ‘n lafaard wat weggekruip het in ‘n parskuip toe die engel aan hom verskyn het in Rigters 6:11-12. Hy was die jongste kind, komende uit die swakste en armste familie en die swakste stam. Maar God het hom sterk gemaak.

Petrus was alles behalwe stabiel. Hy was Mnr Impulsief dwarsdeur die evangelies, maar Jesus het aan hom verklaar : Jy is die rots waarop die kerk gebou sal word. Hy het onstabiele Petrus verander in ‘n rots van stabiliteit vir die vroeë kerk.

Dawid was ‘n egbreker en moordenaar, en tog word hy genoem die man na God se hart (Hand 13:22).

Abraham word genoem die “Vader van die geloof”, maar hy het so min geloof gehad dat hy twee maal sy vrou gevra het om te lieg om sodoende sy eie lewe te red.

Hudson Taylor, ‘n Britse sendeling na Sjina in die 19e eeu, het eenkeer gesê: “All God’s giants have been weak people.”  Jy sien die waarheid van hierdie stelling dwarsdeur die hele Bybel. Jy sien dit in die lewens van die groot reuse van die kerkgeskiedenis. God hou daarvan om swak mense te gebruik om sy wil uit te voer.

1 Kor 1:27 “wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak.”

Wat is die swakheid in jou lewe wat jy die meeste wil wegsteek?

Dis tyd om dit vir God te gee om te gebruik tot sy groter doel. God kan en wil enigeen gebruik wat niks terughou nie, selfs nie hul grootste swakheid nie.

So hoe lyk dit vandag met jou op Vlak 0? Skep moed! Haal diep asem! Onthou wie jy is? Onthou veral Wie s’n jy is! God se krag word in jou swakheid volbring! Laat jou liggaam weer in beweging kom. Doen die regte ding in die geloof en in God se krag – en die hart en emosies sal volg!


Geloof en emosionele gesondheid!

Moenie in hierdie tyd emosioneel uitbrand nie. Hou jou tenkie vol en jou lewensvuurtjie aan die gang. Moenie opgee in moeilike tye nie.  “Don’t burn out! Keep yourselves fuelled and aflame . . . Don’t quit in hard times; instead pray all the harder.” Romans 12:11-12 (The Message). Hoe lyk ‘n geloof wat lei tot emosionele gesondheid gedurende Covid-19?  Kyk na hierdie volgende riglyne:

  • Betoon genade teenoor jouself en ander

Jak 4:6: “Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy:”God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”

  • Begin en eindig elke dag deur jou tenk weer vol te maak

Neem ootmoedig die Woord van God aan wat Hy in jou geplant het, want die Woord red ons (Jak 1:21). Dank God elke oggend vir sy liefde en elke aand vir sy getrouheid (Ps 91:2).

  • Hou by ‘n eenvoudige roetine

“Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd” (Efes 5:15-16).

  • Hou op om so baie nuus kyk nie

Matt 6:22-23: “Die lamp van die liggaam is die oog. As die oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker  moet dit dan nie wees nie!”  Ps 119:37: ”Weerhou my van ‘n nuttelose lewe…”

  • Skeduleer ‘n gereelde verbintenis met mense wat jy liefhet

1 Tess 5:11: “Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde.” “Speak encouraging words to each another. Build up hope so you’ll all be together in this, with no one left out, and no one left behind. I know you’re already doing this; just keep on doing it!” (The Message).

  • Deel jou gevoelens in plaas daarvan om ‘n prop daarop te sit

Gal 6:2: “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.” Jak 5:16: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.”

  • Soek advies voordat jy groot besluite moet neem

Spr 15:22: “Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is.”  Spr 11:14: “redding lê in baie raadgewers”.

  • Maak plek vir vernuwingsmomente deur jou dag

Jes 40:30-31: “Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

  • Dien iemand wat meer ly as jy

Jak 1:27: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.” Spr 11:25: “Wie ‘n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.”

  1.  Beheer die beheerbare en laat die res aan God oor

Jak 2:22 – tov Abraham: “Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het.”

Hou jouself innerlik gesond – kyk mooi na jouself!