Tag: Feesvieringe


Dis ons almal se basaar!

Dit was nog altyd ons almal se basaar – so sal dit ook volgende Vrydag wees. Ons is baie dankbaar vir ‘n doeltreffende basaarkomitee wat die leisels vashou en voorvat, maar almal van ons gaan ‘n belangrike bydrae lewer tot die lekker en sukses van die basaar. Hoekom? Want dis ons almal se basaar! Ons is almal deel van Garsfontein Gemeente en almal van ons gaan iewers ‘n funksie vervul om daarvan ‘n heerlike ervaring te maak.

Die Hebreërskrywer noem dat ons as gelowiges spesiaal afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping (Heb 3:1). Jy kan nie God se roeping vir jou lewe op jou eie vervul nie. My roeping staan altyd in verband tot die christen-gemeenskap, want ek is deel van ‘n geestelike familie.

Dis soos die dele van ‘n fisiese liggaam. Liggaamsdele is waardeloos, tensy dit verbind is tot die ander liggaamsdele. Jy mag dalk ‘n uitstaande begaafde oog hê wat jou instaat stel om uitstekend te sien. Maar ‘n oogbal wat nie verbind is tot jou liggaam nie, is waardeloos want dit kan niks sien nie.

Jy mag dalk ‘n uitmuntende begaafde oor hê wat alles om jou fyn kan hoor, maar as jou begaafde oor nie verbind is tot jou liggaam nie, help dit jou niks.

Op dieselfde wyse moet jy verbind wees tot die liggaam van Christus ten einde jou roeping te vervul. “Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het” (Efes 4:4).

Ek en jy word geroep om ons roeping te vervul binne en vanuit die gemeenskap van gelowiges, daar waar ons saamwerk en mekaar ondersteun. Dink net hoe die oog en oor in jou liggaam saamwerk om jou liggaam te ondersteun. So is al die gelowiges heilige vennote, deelgenote van ‘n hemelse roeping (Heb 3:1).

As jy weer by die kerk kom, kyk ‘n bietjie rond. Die mense wat jy daar gaan sien is heilige deelgenote – “holy partners” – van God se roeping in jou lewe. Jy is geroep en elke ander persoon wat jy daar gaan sien is ook geroep – julle word saam geroep om God se hemelse roeping te vervul.

Dit gaan ons ook sien volgende Vrydag met die basaar. Ons almal is daar geroep om ons gawes in diens van die hele liggaam aan te wend – sodat ons daar God se gawes kan geniet en waardeer.

Bring jou roeping, jou gawes, jou tyd en energie, jou glimlag, jou vriendelike woord en bedien die liggaam met jou oog, jou oor, jou mond, jou glimlag, jou hand, jou hart!