Tag: Gebed


In ons krisis!

Ons almal beleef krisisse van tyd tot tyd: rondom ons gesondheid, verhoudinge en werk ensomeer. Krisisse kan ook ontstaan rondom natuurrampe soos droogte, vloede, wegholbrande, aardbewings, en nou ‘n griep pandemie wat veroorsaak word deur Covid-19. Al is dit soms die laaste ding wat ek wil doen, is dit egter die eerste ding wat ek moet doen: BID! Gebed kan nie ‘n laaste uitweg wees nie – dis altyd die eerste uitweg! Dis nou die tyd om ons in te oefen rondom die geloofsgewoonte van gebed.

Jesus het tydens sy lydensweg intieme kontak behou met sy Vader deur te bid. So behou ons ook geestelike intimiteit met ons Vader tydens ons eie lydensweg in hierdie tyd. Soos wat ons in hierdie tyd met mekaar telefonies kontak maak, so het God ook vir ons die koninklike hemelse telefoonlyn ingestel wat ons in hierdie tyd ten volle kan benut.

Daniël is ‘n goeie voorbeeld van hoe om te bid in die tyd van ‘n krisis. Na aan die einde van sy lewe, 70 jaar nadat hy en sy vriende na Babilon in ballingskap weggevoer is, het hy ‘n reuse innerlike krisis ervaar. Hy wou terugkeer huis toe voordat hy sterf. Vir so lank was hy in “lockdown” in ‘n vreemde land.  Hy het verlang om terug te gaan huis toe, soos baie Suid-Afrikaners wat tans in die buiteland vasgekeer is. Hy was bewus van die profeet Jeremia se profesie dat Israel na 70 jaar sou terugkeer na hul land toe. Daardie tyd was vinnig besig om nader te kom. Ons wat tans in ons huise vasgekeer is wonder hoe ons dit psigies-emsioneel dit gaan oorleef. Baie van ons wil weer uitkom uit ons huise. Sommige wil huis toe kom, ander wil weer uit die huise uitkom en voortgaan met hul normale lewens. Ons is almal saam in hierdie krisis. Daniël begin te bid. Sy gebed is ‘n besondere model vir gelowiges wat hulle in krisistye bevind. Hier is hoe Daniël gebid het.

Daniël luister na God. Hoe luister jy na God? Jy bestudeer die Woord. Dit is wat Daniël gedoen het. Aan die begin van hoofstuk 9 lees hy van God se belofte van Jeremia om die Israeliete terug te bring na Jerusalem. In die krisis is dit nodig om te fokus op God se Woord en sy beloftes. Daar is so baie beloftes in die Bybel. Dit bied ‘n stewige fondament vir gebed tydens ‘n krisis. Dis nou die tyd om jou Bybel oop te maak en te lees. Daar wag ‘n hele klomp verrassings vir jou!

Daniël draai sy fokus na God. Hy doen dit op ‘n fisiese wyse. In Dan 9:3 staan daar: “Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking…” ‘n Krisis kan ons baie pyn verskaf, juis omdat ons ons oë van die Here wegdraai in die middel van die krisis. Dis nodig dat ons sal fokus op God in moeilike tye. Wanneer jy jou aandag draai na familie en vriende, dan is jou fokus op hulle. Hulle kan jou help tot op ‘n punt. Uiteindelik sal jy moet terugkeer na jou eie gedagtes en emosies. Die Here gaan verder. Hy loop al die pad saam met my. Kyk op na die Here en fokus op Hom  en dit waarmee Hy besig is in jou lewe, nie op jou omstandighede nie.

Daniël deel sy begeertes met passie en emosie. Daniel het nie net sy versoeke aan God bekendgestel nie. Hy het by God gesmeek en gepleit. Jou passie en die intensiteit van jou woorde weerspieël dikwels hoeveel iets vir jou saak maak. Wys vir God dat jou versoek meer as ‘n impulsiewe “bevlieging” is, dat dit ‘n baie sterk begeerte van jou kant is. Daniël het eintlik vir God gesoebat. Hy soebat God en vra of hy kan terugkeer na Jerusalem. Laat jou volle menswees deel wees van jou gebed, ook jou passies en emosies.

Daniël demonstreer dat hy ernstig is.   Hy vas – dan bid hy in sak en as. Dit was belangrike vorme van verootmoediging en gebed in daardie tye. Dit het gelowiges se erns gewys met gebed. Vas is ‘n belangrike geestelike gewoonte wat ons as christene opnuut moet herontdek. Dit is teken van ‘n volhardende verootmoediging voor God en ‘n erkenning van ons gebrokenheid voor Hom.

Daniël het God gedank vir sy liefde en beloftes.  Dit is goed om te vra –  met danksegging. Dit is wat Daniël gedoen het. In Dan 9:4 bid hy: ”Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en U gebooie gehoorsaam.” Hy betuig sy dank teenoor God. Hy erken God se trou om al sy beloftes na te kom. Dis vir ons belangrik om in ons krisistyd dieselfde te doen. Dankbaarheid help ons om verby ons probleme te kyk.

Daniël het nederig sy sonde bely.  God stel nie belang in klagtes vanuit ‘n trotse hart nie. Hy luister na nederige belydenis. God reageer nie deur te wil straf nie, inteendeel, Hy seën ons wanneer ons eerlik is oor ons sonde. Dan 9:5: “Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie.” Daniël noem spesifieke dinge waar Israel oortree het. Hulle het nie God se hulp verdien nie, maar hulle kon dit ontvang op grond van God se genade.

Kom ons volg Daniël se voorbeeld van verootmoediging en gebed in hierdie tyd.


DIE DAG TOE DIE HERE OUMA LIEFIE KOM HAAL HET..

Laas sondag het die Here ‘n besondere afspraak met ons gemeente gehad – ook met die doopfamilie Giesing. Niemand het verwag dat so iets sou gebeur nie. Ons het beplan vir feesvieringe en vreugde, maar dit was van korte duur, want skok en hartseer het die plek daarvan ingeneem. Die Here het haar kom haal in ons liturgiese ruimte, aan die begin van ons oggenddiens. So kom die dood dikwels na ons, onverwags en skielik. Soms gee die dood ons nie kans om alles eers gereed te kry sodat dit so gemaklik as moontlik gebeur nie. As jou tyd daar is, is dit daar!

Al was dit vir ons almal ‘n skokkende en onverwagse ervaring, is daar so baie goeie dinge wat ons op grond daarvan saam met ons kan neem. Ouma Liefie het die Here geken en gedien – sy was ‘n jarelange kerkganger in Delareyville, haar tuisdorp. Sy was gesond en lewendig, met bykans geen gesondheidsprobleme nie. Sy was baie geliefd onder haar familie en vriende. Sy het baie uitgesien na klein Leander se doop en spesiaal met familie na Pretoria gereis om hierdie besondere geleentheid mee te maak. Sy sou dit vir niks misloop nie. Min het sy en enige van ons geweet wat God intussen vir haar beplan het verlede sondag.

Wanneer ons ouer word, word hierdie familiegeleenthede al hoe belangriker. Familiebande word vir ons belangriker. Daarom word sulke geleenthede gekoester. Sy wou hier wees om dit alles te aanskou. Die oomblik was vir haar te groot – sy kon nie die geleentheid end-uit meemaak nie. Sy het haar laaste asem uitgeblaas aan die begin van die doopgeleentheid. Dit was vir haar goed om by ons te wees – by haar dierbares, by Leander. Sy het nie ‘n siekbed gehad nie, maar haar aardse lewe het geëindig op ‘n hoogtepunt,  op ‘n vreugde-oomblik, by die doop van haar agter-kleinseun. Boonop was sy in die kerk, by die Here se mense, by al haar familie. Geruisloos, sonder enige geluid het sy rustig inmekaar gesak, tevrede, terwyl sy haar aardse lewe oorgegee het aan haar Skepper.

Ons was hartseer en geskok, maar as ons na die groter prentjie kyk, voel ons bevoorreg dat ons kon sien hoe een van die Here se eie by die wenstreep uitkom. Die wenstreep was vir haar in die liturgiese sentrum van Garsfontein Gemeente. Sy het haar laaste offer van lof en aanbidding aan die Here gebring – die oorgee van haar laaste stukkie asem en krag aan haar Skepper. Ouma Liefie is nie dood nie, sy lewe by God. Sy het oorgegaan van die lewe na die ewige lewe. Sy het haar plek nou ingeneem saam met die baie ander wat ons aanmoedig om te volhard in die wedloop van die geloof. Ons eer haar nagedagtenis en bid vir die familie – dat hulle ryke vertroosting sal ervaar in hierdie tyd van verlies.


BID ASOF GEBED VIR GOD SAAK MAAK

Die boek 1 Kronieke begin met ‘n lys van meer as 600 name. Jabes se naam staan nogal uit, want hy het gebid en God het aan sy versoeke voldoen. Dis ‘n gebed wat ons vir onsself ook kan toe-eien. Sy gebed was eenvoudig: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” ( 1 Kron 4:10) Hierdie drie gebedsversoeke is belangrik vir elkeen van ons:

  1. Hy bid vir God se krag

Jabes het geweet dat hy niks in sy eie krag kon doen nie. Hy bid vir meer grondgebied. So wil die Here hê dat jy ook spesifiek sal wees wanneer jy bid vir rondom jou doelwitte. Nothing becomes dynamic until it becomes specific. Dalk dink jy dit was ‘n selfsugtige gebed. Jabes was wel ambisieus, maar hy het die regte motiewe gehad, want die Here gee vir hom wat hy vra. Dalk is daar iets groots wat jy ook van die Here wil vra. Paulus sê in Efes 3:20: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink…” Gebed kan doen wat God kan doen. Laat jou geloof oorgaan in aksie- kom en vertrou die Here vir iets groots in jou lewe.

  • Hy bid vir God se teenwoordigheid

Ons het ook God se teenwoordigheid nodig. In die ou vertaling vra hy dat die Here se hand met hom sal wees. Dis belangrik dat ons God se teenwoordigheid sal ken. Te midde van groeiende eise wat gestel word aan jou, verantwoordelikhede, konflik, versoekings, verhoudinge en uitdagings besef ons dat ons God se teenwoordigheid nodig het. Jy kan nie alles op jou eie hanteer nie. Ons is egter tot alles instaat deur God wat ons krag gee (Fil 4:13). Moenie vir God vra vir meer grondgebied sonder om te vra vir sy kragtige teenwoordigheid.

  • Hy bid vir God se beskerming.

Hy vra: “weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.”  Hierdie derde gebed van Jabes is ‘n natuurlike uitvloeisel van sy twee vorige gebede. As jou grondgebied vergroot, sal jou kritici vermeerder. Benewens dit, wanneer jy nader aan God beweeg, hoe meer sal die Satan jou aanval. Wanneer ons aangeval word begin ons vlakke van angs en vrees styg. So word ons fokus en aandag afgelei met die gevolg dat ons minder effektief word. Ons het God se beskerming nodig sodat ons sonder vrees kan leef.

Jabes het God se krag, teenwoordigheid en beskerming nodig gehad. Wat ook uitstaan is sy nederigheid in al hierdie versoeke. Kom ons volg Jabes in die versoeke wat hy tot God rig, maar ook die nederige houding wat hy aanneem. Hy weet dat hy God baie nodig het. Hy vertrou volkome op die Here!