Tag: Geloof


In jou krisis!

Ons almal beleef krisisse van tyd tot tyd: rondom ons gesondheid, verhoudinge en werk ensomeer. Krisisse kan ook ontstaan rondom natuurrampe soos droogte, vloede, wegholbrande ensomeer. Al is dit soms die laaste ding wat jy wil doen, is dit egter die eerste ding wat ek moet doen: BID! Gebed kan nie ‘n laaste uitweg wees nie – dis die eerste uitweg!

Daniël is ‘n goeie voorbeeld van hoe om te bid in die tyd van ‘n krisis. Na aan die einde van sy lewe, 70 jaar nadat hy en sy vriende na Babilon in ballingskap weggevoer is, het hy ‘n reuse krisis ervaar. Hy wou terugkeer huis toe voordat hy sterf. Hy was bewus van die profeet Jeremia se profesie dat Israel na 70 jaar sou terugkeer na hul land toe. Daardie tyd was vinnig besig om nader te kom. Daniël begin te bid. Sy gebed is ‘n besondere model vir gelowiges wat hulle in krisistye bevind. Hier is hoe Daniël gebid het.

Daniël luister na God. Hoe luister jy na God? Jy bestudeer die Woord. Dit is wat Daniël gedoen het. Aan die begin van hoofstuk 9 lees hy van God se belofte van Jeremia om die Israeliete terug te bring na Jerusalem. In die krisis is dit nodig om te fokus op God se Woord en sy beloftes. Daar is so bale beloftes in die Bybel. Dit bied ‘n stewige fondament vir gebed tydens ‘n krisis.

Daniël draai sy fokus na God. Hy doen dit op ‘n fisiese wyse. In Dan 9:3 staan daar: “Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking…” ‘n Krisis kan ons baie pyn verskaf, juis omdat ons ons oë van die Here wegdraai in die middel van die krisis. Dis nodig dat ons sal fokus op God in moeilike tye. Wanneer jy jou aandag draai na familie en vriende, dan is jou fokus op hulle. Kyk op na die Here en fokus op Hom  en dit waarmee Hy besig is in jou lewe, nie op jou omstandighede nie.

Daniël deel sy begeertes met passie en emosie. Daniel het nie net sy vesoeke aan God bekendgestel nie. Hy het by God gesmeek en gepleit. Jou passie en die intensiteit van jou woorde weerspieël dikwels hoeveel iets vir jou saak maak. Wys vir God dat jou versoek meer as ‘n impulsiewe “bevlieging” is, dat dit ‘n baie sterk begeerte van jou kant is. Daniël het eintlik vir God gesoebat. Hy soebat God en vra of hy kan terugkeer na Jerusalem. Laat jou volle menswees deel wees van jou gebed, ook jou passies en emosies.

Daniël demonstreer dat hy ernstig is.   Hy vas – dan bid hy in sak en as. Dit was belangrike vorme van verootmoediging in gebed in daardie tye. Dit het gelowiges se erns gewys met gebed. Vas is ‘n belangrike geestelike gewoonte wat ons as christene opnuut moet herontdek. Dit is teken van ‘n volhardende verootmoediging voor God en ‘n erkenning van ons gebrokenheid voor Hom.

Daniël het God gedank vir sy liefde en beloftes.  Dit is goed om te vra –  met danksegging. Dit is wat Daniël gedoen het. In Dan 9:4 bid hy: ”Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en U gebooie gehoorsaam.” Hy betuig sy dank teenoor God. Hy erken God se trou om al sy beloftes na te kom. Dis vir ons belangrik om in ons krisisse dieselfde te doen. Dankbaarheid help ons om verby ons probleme te kyk.

Daniël het nederig sy sonde bely.  God stel nie belang in klagtes vanuit ‘n trotse hart nie. Hy luister na nederige belydenis. God reageer nie deur te wil straf nie, inteendeel, Hy seën ons wanneer ons eerlik is oor ons sonde. Dan 9:5: “Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie.” Daniël noem spesifieke dinge waar Israel oortree het. Hulle het nie God se hulp verdien nie, hulle kon dit ontvang op grond van God se genade.

Is jy nou in ‘n krisistyd – volg Daniël se voorbeeld en bid.


SOMS MOET JY “NEE” SÊ

As jy regtig wil groei, moet jy soms “nee” sê. Die skrywer van die Hebreërbrief moedig ons aan om langs ons geloofsreis alle laste en sonde van ons af te gooi sodat ons kan volhard in die wedloop van die geloof met ons oë gevestig op Jesus (Heb 12:1).

‘n Uiters belangrike woord wat ek moet onthou vir my geestelike reis deur die lewe is ‘n onverwagse woord: “nee”. Jou geloofsreis is ‘n lang reis. Baie reisigers begin baie goed, maar begin weg te kwyn teen die einde. God wil hê dat jy die volle afstand moet voltooi. Hy wil hê dat jy sterk sal klaarmaak!

Jy het ‘n lang maraton voor jou. Jy kan nie die hele ent draf met ‘n swaar gewig in jou hande nie. Hoe sal jy vaar as jy die hele pad ‘n barbell in die jou hande moet dra? Mense los dikwels die geloofswedloop vanweë al die dinge wat hulle saamdra. Dit maak hulle moeg dat hulle alles wil los. Daarom is dit nodig dat ons sal de-clutter.

‘n Passasierskip kan redelik spoed optel in die water. As jy ‘n 100 lewensbootjies daaraan vasmaak, sal dit stadiger gaan. Dit gebeur wanneer ons probeer om te veel te doen. Ons sal moet leer om “nee” te sê vir sekere dinge wat dalk ook goed kan wees, maar dit weerhou ons daarvan om ons beste te doen.   Die NLT stel dit so: “Let us strip off every weight that slows us down”.

Gewigte is nie sleg nie – mens kan jou spiere daarmee oefen en fiks word. Dis ook nie sondig nie – dit het ‘n nut en plek op sy tyd. Dis net onnodig vir ons aardse geestelike reis. Dalk is dit ‘n sekere werk waarmee jy besig is, ‘n verhouding wat jou energie tap, ‘n stokperdjie wat baie tyd in beslag neem. Dalk is dit die koerant – en nuus, nuus, nuus van die more tot die aand. Jy kry net die genoeg van die nuus, van die radio, van die TV nie. Dis iets wat jou weghou van die wedloop – dit hou jy terug en verhoed dat jy voluit kan gaan. Dit staan in die pad van dit wat God in jou en deur jou wil doen. Is dit die moeite werd? Nee!

Daarom is dit goed om mooi te dink oor die dinge wat my terughou – wat my laat afdwaal, wat my energie onnodiglik tap, met die gevolg dat ek nie kan volhard in die wedloop van die geloof nie. Dalk sal dit nodig wees om “nee” te sê, sodat jy opnuut weer kan “ja” kan sê vir God en sy doel met jou lewe. Hy wil hê dat jy sal floreer, dat jy sal groei om vry te wees om Hom te dien. Wat is die gewigte waarvoor jy moet “nee” sê?