Tag: Heilige Gees


Vrugte wat sal hou!

Jesus sê vir sy dissipels in Joh 15:16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.”

God se sending is bedoel vir almal wat aan Hom behoort. Hy het ons gekies om uit te gaan en vrugte te dra. Daar is nie genoeg sendelinge in die wêreld om God se missie te vervul nie. Daarom wil Hy vir my en jou ook gebruik waar ons woon en werk. Ons is ook sy sendelinge wat vrugte sal dra.

Vrugte is ‘n metafoor vir ‘n suksesvolle, groeiende, florerende, produktiewe lewe. Jesus wil hê dat ons vrugte sal dra wat sal hou. Hier teen die einde van die jaar word ons moeg, uitgeput en oorlaai. Ons is nie altyd lus om vrugte te dra nie, ons wil nou net die werksjaar eindig dat alles klaarkom en ons kan gaan rus. Nee, Jesus gee vir ons vrugte wat sal hou – deur elke tyd van ons lewens. Ook wanneer ons met vakansie gaan, gaan ons nogsteeds goeie vrugte dra wat sal hou.

Meeste van dit wat ons doen sal nie hou nie. Dit sal ook nie vir altyd onthou word deur ander nie. Niemand sal na tien jaar vanaf my afsterwe die meeste dinge onthou van wat ek gedoen het nie. Hulle sal nie omgee vir die flieks wat ek gesien het, die boeke wat ek gelees het, die vakansies wat ek geniet het nie. Dit sal alles vergete wees. Jesus wil egter hê dat ek iets sal doen wat sal hou en wat vir altyd onthou sal word.  Daar is twee dinge wat regtig sal hou: die waarheid en mense.

Dink aan die volgende situasie: iemand kom na jou toe eendag in die hemel:

“Ek wil net vir jou baie dankie sê!” 

“Vir my dankie sê?”  “Ek ken jou nie eers nie?”

 “Jy’s reg, jy ken my nie, maar jy was betrokke by ‘n bediening, ‘n uitreik- of noodsorgprojek by jou kerk. Jy het iets gedoen wat my moed gegee het, jy het my help glo in God,  dat ek Hom beter kon leer ken. Ek is in die hemel as gevolg van jou! Ek is vir altyd jou vriend, jou broer en suster in Christus!”

Niks wat jy doen is meer belangrik as om mense te help om die bestemming van hulle lewe te bereik nie. Dit is vrugte wat sal hou! William James het gesê: “The greatest use of your life is to invest it in that which outlasts it.”  Niks wat jy doen is meer belangriker as om mense te help om die ewige lewe te ontvang. Met jou lewe gaan jy hulle aanraak en inspireer om hulle verhouding met God reg te maak. Wat ‘n onuitspreeklike voorreg!

Jy mag dalk ‘n onderwyser wees, ‘n boekhouer, ‘n tuisteskepper, afgetree, ‘n nutsman. Jou grootste roeping is om die gawes wat God vir jou gegee het te gebruik om ander mense te help om hulle harte oop te maak vir God se nuwe lewe. So dra jy vrugte wat sal hou.


DIE GEES IS IN JOU!

Die koms van die Heilige Gees na die kerk word treffend beskryf in Hand 2. “Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.”  (Hand 2:4).

God is hier by ons teenwoordig op ‘n nuwe wyse deur sy Gees. Jesus kon nie liggaamlik oral wees by al sy kinders nie, maar nou is Hy op ‘n besondere wyse terselfdertyd by ons almal teenwoordig – deur sy Gees.  Ons ervaar sy nabyheid, sy hartklop, sy heilige asem in ons en om ons. Al kan ons nie die wind sien nie, sien ons tog die bome beweeg. So kan ons nie die Gees sien nie, maar ons sien die beweging van sy krag in en om ons. Ons moet net ons oë mooi oopmaak.

Ons ervaar hoe God se genade in en deur ons werk op ‘n nuwe en dinamiese wyse. Ons is verander en ‘n nuwe “self” het na vore gekom.  ‘n Nuwe mens het in my wakker geword tot ‘n nuwe geestelike bewussyn. Ons voel bemagtig om die uitdagings wat na ons kom te hanteer. Nuwe insigte word deur die Gees met ons gedeel en ons sien alles in ‘n nuwe lig. Ons omstandighede het dalk dieselfde gebly, maar dit het ‘n nuwe kwaliteit begin aanneem. Ons is op ‘n ontdekkingsreis, nie op soek na nuwe landskappe nie, maar ons het nou nuwe oë.   “The voyage of discovery is not in seeking new landscapes, but in having new eyes.” (Marcel Proust). Alles lyk anders. Ons het ‘n ander verhouding tot God, ‘n ander verhouding tot onsself, ons huweliksmaats, ons kollegas en medewerkers, ons beroepe, asook ons aftrede. 

Ons het saam met Jesus by ‘n nuwe lewe gekom, ‘n unieke nuwe gees ontvang in my binneste waarmee ek my unieke take kan uitvoer in my unieke lewensfase.  Ek is waarlik vernuwe – ek is bemagtig. Ek verkeer in diepe vertroosting. Daar is ‘n gevoel van vrede in my. God is vir altyd by my. 

Ervaar die krag van die Gees in jou lewe! Gee jou oor aan die Gees – laat Hy jou vol maak van sy krag en liefde.  Gaan leef daardie krag en liefde en gaan voluit vir die pinksterlewe!


Pinkster 2019

Pinkster 2019

Die Heilige Gees, jou Trooster en Helper!

‘n Reeks oor moeilike omstandighede in ons lewe, en hoe die Heilige Gees ons troos, lei en gebruik!


Is jy “in die Gees”

Die werkinge van die Heilige Gees in die Kerk

1 Korintiers 12-14

Ons is elkeen ‘n werking van die Heilige Gees gegee tot voordeel van almal. Elkeen het sy eie unieke gawes gekry – daar is nie een persoon wat dieselfde stel gawes gekry het nie.

God sê “wees ingelig”, as mens ingelig is kan jy ‘n persoonlike ervaring met God hê wat nie anders kan as om natuurlik uit te vloei na ander nie. Om mekaar te bemoedig en help en liefhê nog voor ons dit verdien, want God het ons lief gehad voor ons dit verdien het.