Tag: Het mekaar nodig


God het vir ons twee “boeke” gegee om te lees: die natuur en in die Skriftuur. Psalm 19 sê dit baie mooi. Ons leer so baie van God deur albei hierdie “boeke” te lees. Toe jy laas ‘n draai gaan maak het in die wildtuin, die berge of by die see, het jy met soveel nuwe insigte teruggekom en besef: ons het ‘n wonderbare Skepper wat alles so goed geskep het. Alles werk so meesterlik saam. Ons glo dat die Skepper ook in hierdie tyd in beheer is van sy skepping en ons wat daarin mag woon. Ons bid vir wysheid oor wat ons kan doen as aangestelde rentmeesters van God se aarde om saam met Hom te werk om die aarde op te pas en Covid-19 te bestry.

 

Dit wat God geskep het is deel van ‘n massiewe, geïntegreerde eko-sisteem wat ineengevleg is. Skepping het skepping nodig om te kan oorleef. So het die Skepper dit bedoel van die begin af. Neem byvoorbeeld die Amerikaanse boom – die Colorado Aspen (Trilpopulier of Abeel).

Hulle groei nooit alleen nie. Hulle groei in groepe bosse. Hoekom? Want hulle vermenigvuldig vanuit hul wortelsisteme. Hulle stoot jaarliks nuwe lote vanuit die wortels. Hierdie lote word klein boompies wat vinnig groei en later groter Aspens word. In omtrent al hierdie bosse is die wortels van die bome verbind aan mekaar – asof dit net een boom is.

 

Nog ‘n Amerikaanse boom wat uitsonderlik is, is die reusagtige California Redwood – wat tot by die 90 meter hoog kan groei. Daar is bome waarvan mense tonnels deurgegrawe het waardeur motors kan deurry.

Mens sou dink dat die Redwood se wortels baie diep die aarde moet ingaan om hulle te anker teen sterk winde. Eintlik is hul wortels baie vlak en sprei dit wyd uit op soek na water by die oppervlakte. So groei hul wortels in alle rigtings sodat dit ineenvleg met ander Redwoods se wortels. Hulle staan langs mekaar, skouer aan skouer, deur dik en dun, hul wortels om mekaar se wortels gevleg. Hulle ondersteun mekaar in die winde en storms.

Aspens en Redwoods staan nooit alleen nie. Hulle het mekaar nodig om te kan oorleef in die natuur. Dit moet so wees.

Net so is ek en jy ook verbind aan mekaar met ‘n wortelsisteem. Ons word groot in families wat ons koester en begelei. Ons leer vroeg reeds hoe om vriende te maak wat ons ondersteun op verskillende maniere. Ons kan nie vir lank oorleef sonder ander mense nie.  Soos die reuse Redwoods is ons op ons beste wanneer ons aan mekaar vashou en mekaar help om staande te bly te midde van die lewe se storms. Ons het ander nodig om ons staande te hou, om ons te bemoedig en saam met ons te staan.

Wanneer dit nie met my goed gaan nie, is dit meestal omdat ek probeer om dit alleen te doen. Ek laat nie mense toe by my nie. Ek vergeet om te vra vir hulp. Ek hou my probleme vir myself. Ek wil nie ander belas nie. Dalk besef ek dit nie, maar daar is ook ander om my wat dieselfde doen. Dit help om dit te onthou in hierdie tyd. Ons het mekaar nodig om ons op te hou in hierdie tyd. Dalk is dit nodig dat iemand aan my moet vashou in hierdie tyd.

 

Kom ons dink aan die mense om ons – in ons eie huise en komplekse waar ons woon. Waar kan ek help? By wie kan ek aanklop vir hulp in hierdie tyd? Bel ‘n mede-lidmaat, bel ‘n mede-groeigroeplid. Bel ‘n vriend of vriendin. Bel een van ons leraars indien jy hulp en ondersteuning benodig. Ons is langs mekaar geplant met ‘n rede!