Tag: Inspirasie


Jy is God se lego!

Tydens die afgelope basaar het ek gesien hoe ons geestelike familie van Garsfontein kan saamwerk – almal help vir almal en sit hand by! So het ons weer eens getoon dat ons mekaar nodig het en voluit gaan om mekaar te ondersteun. Dit het my herinner aan Paulus se woorde in Rom 1:12, “Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur myne.”

As jy deel is van God se familie, die kerk – hoef jy nie deur die lewe se op’s en af’s te gaan op jou eie nie. Paulus gebruik die mooi beeld van die kerk as gebou van God. In ‘n gebou hou al die onderlinge dele die gebou vas aanmekaar. Die dele ondersteun die gebou as geheel. Jy sal soms in die lewe tye ervaar waar jy mense gaan benodig om jou aanmekaar te hou. As jy nie deel van God se familie is tydens daardie tye nie, sal jy uitmekaar val.

“In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ‘n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon” (Efes 2:21-22). Saam vorm ons God se tempel – ‘n gebou. ‘n Venster wat eenkant lê kan geen funksie vervul nie, daar is nie ondersteuning en stabiliteit nie. Die venster vind sy funksie en doel binne die gebou. Ons is nie bestem om gediskonnekteerd, afgesonderd en geïsoleerd deur die lewe te gaan nie.

Dalk speel jy ook Lego’s saam met jou kleinkinders. Daar is net een doel vir Lego’s: dit is ontwerp om in te pas by ander – om deel van ‘n geheel te wees. As jy Lego’s aanmekaar verbind en konnekteer kan jy allerhande interessante dinge bou. Op hul eie het dit geen waarde nie, dis net ‘n stapel plastiek.

Jy is God se Lego! Jy is ontwerp om gekonnekteer te word. Jy is gemaak om in te pas in God se gebou en deel te wees van die geheel. So deel ons ons geloof met mekaar en met die Meesterbouer (Rom 12:1).

Hoekom maak dit saak?

Want die nommer een epidemie in vandag se samelewing is eensaamheid. Hulle glip elke dag by jou verby. Dalk is jy een van hulle! Dalk voel jy alleen en gediskonnekteer. Ek en jy het die familie nodig – God se familie – mense wat ons liefhet en ondersteun, ongeag wat my omstandighede ookal is.