Tag: NG Garsfontein


Vertrou God se doel!

In die lydenstyd word ons opnuut bewus van Jesus se weg van lyding. Sy lyding herinner ons ook aan ons eie lyding. Ons eie lyding wissel van mens tot mens. Dis belangrik om altyd te onthou: vertrou God se doel met jou lewe in die moeilikste tye. God se doel met jou lewe is altyd groter as jou probleme.

“Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.” (2 Kor 4:16-17)

“This is the reason why we never collapse . . . These little troubles (which are really so transitory) are winning for us a permanent, glorious and solid reward out of all proportion to our pain.” (Phillips)

Hoekom ek? Wanneer die lewe in sy harde werklikheid gebeur sal die meeste mense uiteindelik hierdie vraag vra. Maar dis die verkeerde vraag om te vra tydens donker dae. Vra liewer: “Here, wat is U doel met dit alles?”

In 1 Pet 1:6-7 lees ons: “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan.”

Niks gebeur in jou lewe per toeval nie. God is nie die oorsprong van kwaad nie, maar Hy kan die goeie uit elke situasie na vore bring, selfs uit kwaad. Beproewinge en toetsinge openbaar jou karakter, jou geestelike volwassenheid, jou sekuriteit, jou waardes en geloof.

Paulus het sy hele lewe daaraan toegewy om God te dien. Sy lewe het soms maar erg uitgedraai; hy is gestenig, hy was ‘n skipbreukeling, hy is geslaan – vir dood agtergelaat, in die gevangenis gegooi, beroof. Ons kan nie agterkom dat hy ooit bitter was nie. In plaas daarvan dat hy gevra het: Hoekom ek Here?”, het hy Hy geglo dat God met dit alles ‘n doel gehad het. Hy het geleer om God te vertrou te midde van sy probleme, al het hy nie verstaan nie.

Wat is die geheim van sy volharding? Hy het aan die hoop vasgehou omdat God ‘n doel gehad het met sy probleme. God het ook ‘n beloning gereed gemaak wat die pyn by verre oortref het. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het sy volgelinge gedink dis ‘n sinnelose tragedie, ‘n groot fout. Hulle kon nie sien dat God nogsteeds op sy troon sit nie, besig om sy groter doel uit te voer. Na sy opstanding het Jesus aan sy dissipels verskyn en vir hulle sy vrede gegee: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Net oomblikke tevore kon hulle geen rede sien vir hul pyn en verlies nie. En hier kom Jesus en vertel hulle van hul nuwe opdrag wat deel sou vorm van God se groot doel. God se doel met jou lewe is altyd groter as jou probleme. Vertrou Hom! Hy verander kruisigings na opstandings. Hy spesialiseer in hopelose situasies.


DIE MISTERIE VAN MY BESTAAN

“Die Here het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.”  (Jer 31:3)

In die Lydenstyd word ek bewus van my eie verganklikheid, dat my fisiese bestaan op aarde, my tydelik en sterflik is. Maar ek word ook aan die ander kant bewus van my onverganklikheid. Ek omarm albei hierdie werklikhede – hierdie twee saam is deel van die misterie van my lewe en bestaan hier op aarde. Hoe meer ek daaroor nadink, hoe meer word ek bewus van skuiwe in my binnewêreld as beelddraer van God.

Ek is ewig – en dit is wonderlik om dit te weet. My lewe het nie ‘n einde nie! Wanneer ek sterf is dit nie nie einde van my nie. As gelowig gaan ek vir altyd lewe in die nuwe hemel wat kom. Nie noodwendig op dieselfde manier as nou nie, maar saam met al my ander Christenpelgrimsreisigers glo ek dat ek in hierdie ewigheid, deur God se genade, altyd saam met Hom gaan wees.

My lewe het ook nie ’n begin nie!

Die grootsheid van my ewig-wees is meer as net my lewe na die dood. Volgens die

Joodse tradisie bestaan ek al lankal, nog vóór my konsepsie. My konsepsie was

maar net die begin van my aardse lewe wat deur die dood tot ’n einde kom. Dié

gedagte val effens vreemd op my oor, en soos baie ander Christene is ek geneig

om nie baie van my vooraardse bestaan te maak nie.

Dít is die misterie van my bestaan – ek is uit God, ek kom van Hom af, ek leef as gelowige deur God en vanuit God se lewe en krag en ek sal weer tot God

terugkeer. Wat ‘n grootse gedagte – dit gaan my verstand te bowe – God se liefde strek verby my aardse lewensduur en denke.

In die Lydenstyd wil ek van hierdie misterie ervaar hier in my binneste. Die Here het vir jou en my lief met ‘n ewige liefde, daarom het Hy my in die lewe ingestuur met die doel om Hom te eer en verheerlik vir solank ek op die aarde is.


SONDER LIEFDE IS DIT TYDMORS

1 Kor 13:1 “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword.”

Liefde is ons grootste doel hier op aarde. Ons is hier geplaas om te leer om God en ander lief te hê. Paulus beskryf aan ons in 1 Kor 13 waarom die liefde die belangrikste waarde is.

  • Sonder liefde is alles wat jy sê ondoeltreffend. Woorde sonder liefde is net geraas. Mense verwerp liefdelose woorde, maar hulle sit regop, luister en reageer op woorde wat in liefde uitgespreek word.
  • Sonder liefde is alles wat jy weet onvolledig. 1 Kor 13:2 “Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis….maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”  Die wêreld ontplof van al die informasie en kennis. Tog word baie van ons mees basiese probleme nie opgelos nie, want die wêreld soek nie na meer kennis nie, maar na liefde.
  • Sonder liefde is alles wat ek glo onvoldoende. 1 Kor 13:2 “al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.” Baie mense het die wanpersepsie dat christenskap net gaan oor die glo van sekere waarhede en leerstellinge. Die vraag is egter: het jy Jesus lief? Besef jy dat Hy jou liefhet? Christenskap gaan daaroor dat ek Christus se liefde sal ervaar – en om te leer om soos Hy lief te hê.
  • Sonder liefde is alles wat jy gee betekenisloos. 1 Kor 13:3 “Al deel ek al wat ek het aan ander uit…maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.” Daar is allerhande motiveringe waarom mense gee, soos ‘n gevoel van verpligting, prestige of skuld. Net omdat jy gee beteken nie dat jy dit doen in liefde nie. Jy kan gee sonder om lief te hê, maar jy kan nie liefhê sonder om te gee nie.
  • Sonder liefde is alles wat jy bereik onvoldoende. 1 Kor 13:3 “al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan roem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.” Jy kan baie prestasies behaal het in hierdie lewe. Jy kan selfs jou lewe offer vir die Koninkryk van God, maar sonder liefde is dit ‘n vermorste poging. Jy kan die gawe hê om welsprekend te wees, die kennis van ‘n genie, die geloof van ‘n wonderwerker, die vrygewigheid van ‘n filantroop, die toewyding van ‘n martelaar – maar as jy nie liefde het nie, tel dit absoluut niks. Die goeie nuus is egter – jy kan ander liefhê omdat God jou eerste liefgehad het. Soos wat jy leef binne sy liefde sal Hy jou help om ander lief te hê. Wanneer jy nader aan Hom beweeg, sal jou vermoë om lief te hê toeneem. Hy maak dit moontlik om hierdie roeping tot liefde vir ander uit te leef.

BLY EMOSIONEEL GESOND

Ek en jy het ook ‘n innerlike lewe – dit gaan oor alles wat ons dink en voel in ons binneste. Soms wys ons dit mense – soms steek ons dit weg. Meestal wys dit in ons optrede, ons gesindheid, ons woorde en dade. Emosies is die barometer van die siel. Dit wys vir ons hoe dit hier binne gaan. Dis belangrik om binnekant gesond te bly, selfs te midde van turbulensie. Daarom is dit so belangrik om ons gedagtes doelbewus te rig op die goeie dinge, die teenwoordigheid, liefde en gawes van God, sy Woord, sy sorg! Wanneer ons op dit alles fokus, kom die emosies ook naderhand in lyn met die gedagtes.

Spr 17:22 sê: “ ’n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens raak uitgeput.” Die GNT vertaling stel dit so: “Being cheerful keeps you healthy”.

Jou liggaam sal baie gou vir jou laat weet wanneer jy fisies herlaai moet word. Jou maag grom – dit is tyd vir eet. Jou ooglede raak swaar – dis tyd vir slaap. Ons kyk egter dikwels die ander tekens mis wat vir ons sê dat ons ‘n emosionele herlaai nodig het: ‘n gevoel van oorweldiging, ‘n kort lont, ‘n ongeduldige uitbarsting of om mense te vermy… Jy het geen begeerte om mense lief te hê wanneer jou emosionele tenk laag is nie. Om aan te hou om die oorvloedige lewe te leef, ‘n lewe van vryheid en liefde is dit belangrik om jou emosionele tenk vol te hou. Hoe doen mens dit?

Beplan vir ‘n bietjie alleentyd. Jesus het dit gereeld gedoen – Hy het onttrek aan die skares om emosioneel te herlaai. Lees maar Mrk 6:31 in hierdie verband. Mense wat altyd beskikbaar is, is nooit volledig beskikbaar nie, tensy hulle tyd maak om te rus.

Probeer vasstel watter aktiwiteite in jou lewe vir jou nuwe energie verskaf – wat is die dinge wat jou batterye herlaai. Dit wissel van mens tot mens want ons is verskillend “bedraad”. Dalk is dit ‘n stokperdjie, om met jou hande iets te doen, ‘n sport, ‘n kunsaktiwiteit, ‘n speletjie, leeswerk, musiek luister, stap of net stilwees êrens. Maak tyd hiervoor in jou besige skedule. Kuier kan ook baie terapeties wees vir sommige mense. Matt 11:19 verwys na Jesus wat te midde van ‘n baie besige lewe geëet en gedrink het. Hy het sover Hy kon sy lewe op aarde geniet. Die Fariseërs het selfs na Hom verwys as ‘n vraat en ‘n wynsuiper…! Ons is nie geskep om die hele tyd uitgeput te wees nie.

Ontwikkel die gewoonte van lag. Wanneer jy lag vermeerder die getal T-selle in jou liggaam. Dit verhoog jou immuniteit en stel endorfiene vry in jou brein. Om te lag is goed vir jou gesondheid. So begin jy die lewe meer geniet, maar dit help jou ook om ander goed lief te hê.


‘N GROOT VOORBEELD OF ‘N GROOT ERFLATING

Pred 5:14: “ Self gaan hy kaal uit die wêreld uit soos hy daarin gekom het. Hy kan niks met hom saamneem vir al sy inspanning nie.”

Het jy al ooit gewonder, na die dood van ‘n ryk persoon: hoeveel het hy of sy aan  hul familie agtergelaat. Soms lees ons van sulke erflatings in die koerante. Kan ek vir jou ‘n geheim vertel? Hulle het dit álles agtergelaat!

As ek geen krediet gaan ontvang in die hemel vir al die skatte wat ek hier op die aarde bymekaar gemaak het nie, wat is dan die doel om dit alles so te versamel hier op die aarde?

Sommige oordeel dat hulle al hul rykdomme aan hul kinders sal agterlaat. Meeste mense doen dit ook so. Dit help om ons kinders ‘n goeie hupstoot in die lewe te gee. Baie kinders het groot waardering daarvoor en tree op verantwoordelike wyse op met daardie erflating.  Studies het egter ook aangetoon dat , in meeste van gevalle het groot oorgeërfde rykdomme groter skade as goed gedoen aan die volgende generasie.  Inc tydskrif het ‘n paar jaar gelede ‘n artikel gepubliseer rondom die vraag of ouers al hul geld moet oorplaas na die volgende generasie. Hulle het kinders van entrepreneurs ondervra. Meeste van hulle het geantwoord dat hulle dit sou verkies dat hul ouers aan hulle eerder die kennis van hoe om geld te bekom, moes agterlaat,  as die geld. Hulle wou, met ander woorde, nie die resultate van hul ouers se arbeid gehad het nie, maar die voorbeeld van hul arbeid. Hulle het verstaan dat mens nie kan waardeer waarvoor jy nie gewerk het nie. Oorgeërfde rykdom het ‘n geneigdheid om onverantwoordelikheid te kweek. Kyk maar hoe reageer mense wat groot bedrae geld gewen het. Meeste kan dit glad nie hanteer nie want hulle het nie daarvoor gewerk nie.

Koning Salomo het groot rykdomme aan sy kinders nagelaat. Hy staan nogal uit as ‘n man in die geskiedenis wat baie rykdomme versamel het. Hy het alles aan sy seun nagelaat – sy rykdomme, sy heerskappy, sy koningskap, sy mag. Dit het egter sy seun se lewe geruïneer. Rehabeam was ‘n morele mislukking wat nie dit kon bestuur waarvoor hy nie gewerk het nie. Dit laat mens nogal dink!

Dis nie ‘n sonde om geld te maak nie. Die vraag is egter, wat gaan ek met dit alles maak? Hoe gaan ek dit bestuur en wat gebeur daarmee nadat ek nie meer daar is nie. Hierdie is kritiese vrae vir ons. Dit blyk nie goed te wees om rykdomme op te gaar om dit aan ander gee wat dit nie sal kan hanteer nie. Leer eerder om jou geld nou met wysheid en oorleg te bestuur. Fokus daarop om die geld wat jy het (of dit baie of min is), aan te wend om mense in die hemel te kry! Laat vir jou nageslag ‘n voorbeeld na van vrygewigheid. So sal jy ‘n ewige belegging maak wat vir altyd van waarde sal wees.


God gebruik jou swakhede!

Ek en jy het swakhede. Jy is nie geskok oor hierdie wete nie, want jy is daagliks bewus daarvan. Dit gaan oor ons onvolmaakthede, ons beperkinge: fisies, emosioneel, intellektueel en geestelik. Daar is dalk onbeheerbare omstandighede wat my verswak en beperk. Maar die groot vraag is: wat doen ek en jy met ons swakhede? Jy kan dit wegsteek, dit ontken, verdedig, wrewel daaroor opbou. Dis wat baie mense doen, want ons is bang oor die reaksie van mense as hulle besef ek is nie so sterk in alles nie.

Maar God het ‘n ander perspektief op ons swakhede. Hy wil nie net ons sterkpunte gebruik nie, maar ook ons swakpunte tot sy eer (1 Kor 1:27). My swakhede is nie per ongeluk nie. God laat dit toe om sy krag deur my te openbaar. Hy word getrek na mense wat swak is en hul swakhede erken. Hy gebruik sulke mense op ‘n kragtige wyse. Dit is hoe Paulus sy doring in die vlees verstaan het.

Daar is ‘n beter opsie. In plaas daavan om dit weg te steek, kan ons dit erken en deel met ander. Nog beter, ons kan leer om te roem in ons swakhede. Vir God om jou op besondere wyse te gebruik, sal jy op ‘n manier “mank loop” vir die res van jou lewe. So is daar in elkeen van ons swakhede wat ons ons hele lewe lank met ons saamdra. Paulus bied vir ons ‘n besondere model oor die hantering van swakhede:

  1. Erken jou swakhede. As jy wil hê dat God jou moet gebruik, moet jy weet wie Hy is, maar ook wie jy is, met jou sterkpunte en swakpunte (Matt 16:16; Hand 14:15).
  2. Wees tevrede met jou swakhede. (2 Kor 12:9-10a). Dit leer ons om nederig te bly en afhanklik van God.
  3. Deel jou swakhede. Paulus was nie skaam om oor sy kwesbaarheid en weerloosheid te gesels nie. Hy praat eerlik oor sy mislukkings, gevoelens, frustrasies en vrese. (1 Kor 2:3).
  4. Roem in jou swakhede. 2 Kor 12:5b. Ons is ontvangers van genade. Ons roem op God se genade wat deur ons swakhede werk.

God gebruik swak mense. Hy sal jou ook gebruik. Hy gebruik jou nie ten spyte van jou swakhede nie, maar as gevolg daarvan.

Berei jouself voor om deur God gebruik te word deur eerlik te wees oor jou swakhede vandag.


WAAG DIT UIT DIE GROEF

Baie welkom terug aan almal! Ek vertrou dat jy ‘n goeie rustyd beleef het! Dit is goed om almal weer te sien by die kerk, met nuwe moed en krag vir 2020. Die skole het begin en almal is weer goed aan die gang. Dalk het jy die afgelope weke bietjie tyd gehad om te dink oor verlede jaar, die hoogtepunte en die laagtepunte, dalk oor die groewe waaruit jy moet klim in 2020. Markus 5:25-29 vertel die verhaal van ‘n vrou wat by Jesus uit die groef geklim het. Sy het vir 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely. Haar siekte het haar seremonieel onrein gemaak in die Joodse kultuur. Dit het meegebring dat sy feitlik geen sosiale lewe gehad het nie. Sy het baie geld bestee om gesond te word. Sy moes baie eensaam en desperaat gevoel het.

Eendag het sy gehoor dat Jesus haar dorp sou besoek. Sy het deur die skare vorentoe gebeur om by Hom uit te kom. Deur die gedrang het sy van agter af aan sy klere geraak. Sy het vas geglo dat sy genees sou word indien sy net aan Jesus se klere kon raak. Dit was uiters gewaagde optrede in daardie omstandighede. Sy is toe dadelik genees! Dit kon sy aan haar liggaam agterkom. Jesus is bewus van haar aanraking van geloof. Hy vra: “Wie het aan my klere geraak?” Die dissipels kon nie die vraag verstaan nie want baie mense het rondom Jesus saamgedrom. Jesus het egter die geloofsaanraking van hierdie vrou bewustelik ervaar. Die vrou kom al bewend en skrikbevange na Jesus, val op haar knieë en vertel haar hele storie vir Hom. Jesus stuur haar weg in vrede, sy is vir altyd genees van haar siekte. Haar geloof het haar gered. Sy het geloof en waagmoed gehad om oor die aanvaarde sosiale en kulturele grense van haar tyd te gaan.

Hier het ons ‘n vrou, desperaat in haar lewenssituasie, vasbeslote in haar geloof – sy neem die insiatief en verbreek die reëls van haar tyd. Sy het oor die grense beweeg. Sy was gereed om weer te begin en haarself te verbind tot aksie – geloofsaksie. Sy het deurgedruk om deur die skares te beur. Deur haar inisiatief het haar geloofsdaad tot haar genesing gelei.

Geloof kan tot dieselfde soort wonderbaarlike uitkoms lei in jou lewe. As jy dalk in ‘n groef is, sal geloof jou help om nie meer uit te stel nie, maar “om in rat te kom”. Dit gee jou die krag om daardie eerste tree te neem wat jou vorentoe sal neem na die plek waar God jou wil hê. Nie meer besluiteloosheid en ‘n heen en weer geskarrel nie. Nie meer draadsittery nie, nie meer wonder en wens en sal ek of sal ek nie. Wanneer jy in die geloof groei, leer jy om die inisiatief te neem en ontdek jy meer van God se doel met jou lewe.

Is daar ‘n paar groewe waaruit jy moet breek? Wees vasbeslote, neem die insiatief, vertrou Jesus om vir jou ‘n nuwe pad aan te wys. Hy sal jou begelei na waar Hy jou wil hê, waar Hy jou die beste sal gebruik.  Geniet 2020 en gaan voluit!


Advent

Advent

Die nuwe kerkjaar het amptelik verlede sondag begin – met adventstyd! Advent is vir die kerk ‘n seisoen van afwagting en voorbereiding met die oog op Kersfees, asook ten opsigte van Jesus se terugkeer na die aarde. Die woord “advent” kom van ‘n Latynse woord wat beteken “koms”. Die woord word vandag baie keer gebruik om die aankoms van ‘n belangrike persoon of saak aan te dui. In die kerk verwys dit na die vier sondae (weke) voor Kersfees.

Dis ‘n tyd van opgewonde afwagting. Die woord “wag” speel hier ‘n sleutelrol. So het die mense van die Ou Testament geduldig gewag vir die koms van die Messias – die Gesalfde, wat sou kom om die wêreld van ons sonde te verlos.

Ons hoef nie meer te wag om die koms van Jesus nie – Hy het klaar gekom as Redder van die wêreld op Kersdag. Hy bly nou by ons deur sy Gees. Nou wag ons vir die aanbreek van nog ‘n Kerfeestyd, maar ons wag ook vir die wederkoms van Jesus.

Dis belangrik om te leer van “wag”! Dis een ding wat baie mense nie goed kan doen nie, veral nie in vandag se tyd nie. En tog is dit ‘n baie belangrike geestelike gewoonte waarin ons onsself keer op keer moet inoefen. Die lewe om ons maak ons baie haastig. Ons kan nie wag nie. Alles moet so gou soos nou gebeur. Dit maak ons geestelik dood. Dit ontneem ons van ons menslikheid. Dit ontneem ons van ons spiritualiteit. Dit bring afstand tussen my en God – omdat ek nie kan wag nie.

Wat is “wag”? Dit het niks te doen met luiheid, passiwiteit of onaktiwiteit nie. Dit het alles te doen met ‘n rustige vertroue in God in die wete dat Hy in beheer is – dat Hy alles ten goede sal laat meewerk, dat Hy jou koers bepaal. Dit gaan oor rustig raak in jouself – ‘n nadenke oor wie jy is, waar jy vandaan kom, waarheen jy oppad is, wat jou lewenswaardes is, ‘n oorgee van jouself in die hande van God. Dat ek nie meer sal stres oor more en volgende jaar nie, ook nie oor my werk, my blyplek, my gesondheid, my kinders en kleinkinders nie. Terwyl ek elke dag biddend opkyk na God, dank ek Hom dat Hy reeds gekom het om by te kom bly. Trouens, ek is deel van die sirkeldans van die Drie-Eenheid, ek vat hande met die Vader, die Seun en die Heilige Gees – en met alle gelowiges in hierdie tyd en sê net saam met die skepping: dankie! Ek jaag  nie meer nie – ek laat my ook nie jaag nie, ek rus in God, my Hoop en Verwagting! Ek werk, ek ontspan, en rus in die Here!

Geniet die fees van rus en vrede!  Dankie vir ‘n jaar van saamstap, saamdink en saambid!  Mag Kersfees 2019 baie innerlike verryking vir jou bring. Mag 2020 ‘n jaar van ongekende geleenthede wees om te groei na Christus toe.

Baie dankie aan Michelle wat elke week hierdie Familienuus so getrou uitstuur. Ons groet tot 2020!

Gloria in excelsis Deo!


Vrugte wat sal hou!

Jesus sê vir sy dissipels in Joh 15:16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.”

God se sending is bedoel vir almal wat aan Hom behoort. Hy het ons gekies om uit te gaan en vrugte te dra. Daar is nie genoeg sendelinge in die wêreld om God se missie te vervul nie. Daarom wil Hy vir my en jou ook gebruik waar ons woon en werk. Ons is ook sy sendelinge wat vrugte sal dra.

Vrugte is ‘n metafoor vir ‘n suksesvolle, groeiende, florerende, produktiewe lewe. Jesus wil hê dat ons vrugte sal dra wat sal hou. Hier teen die einde van die jaar word ons moeg, uitgeput en oorlaai. Ons is nie altyd lus om vrugte te dra nie, ons wil nou net die werksjaar eindig dat alles klaarkom en ons kan gaan rus. Nee, Jesus gee vir ons vrugte wat sal hou – deur elke tyd van ons lewens. Ook wanneer ons met vakansie gaan, gaan ons nogsteeds goeie vrugte dra wat sal hou.

Meeste van dit wat ons doen sal nie hou nie. Dit sal ook nie vir altyd onthou word deur ander nie. Niemand sal na tien jaar vanaf my afsterwe die meeste dinge onthou van wat ek gedoen het nie. Hulle sal nie omgee vir die flieks wat ek gesien het, die boeke wat ek gelees het, die vakansies wat ek geniet het nie. Dit sal alles vergete wees. Jesus wil egter hê dat ek iets sal doen wat sal hou en wat vir altyd onthou sal word.  Daar is twee dinge wat regtig sal hou: die waarheid en mense.

Dink aan die volgende situasie: iemand kom na jou toe eendag in die hemel:

“Ek wil net vir jou baie dankie sê!” 

“Vir my dankie sê?”  “Ek ken jou nie eers nie?”

 “Jy’s reg, jy ken my nie, maar jy was betrokke by ‘n bediening, ‘n uitreik- of noodsorgprojek by jou kerk. Jy het iets gedoen wat my moed gegee het, jy het my help glo in God,  dat ek Hom beter kon leer ken. Ek is in die hemel as gevolg van jou! Ek is vir altyd jou vriend, jou broer en suster in Christus!”

Niks wat jy doen is meer belangrik as om mense te help om die bestemming van hulle lewe te bereik nie. Dit is vrugte wat sal hou! William James het gesê: “The greatest use of your life is to invest it in that which outlasts it.”  Niks wat jy doen is meer belangriker as om mense te help om die ewige lewe te ontvang. Met jou lewe gaan jy hulle aanraak en inspireer om hulle verhouding met God reg te maak. Wat ‘n onuitspreeklike voorreg!

Jy mag dalk ‘n onderwyser wees, ‘n boekhouer, ‘n tuisteskepper, afgetree, ‘n nutsman. Jou grootste roeping is om die gawes wat God vir jou gegee het te gebruik om ander mense te help om hulle harte oop te maak vir God se nuwe lewe. So dra jy vrugte wat sal hou.


Vyf Kernwaarhede wat jou sal vry maak!

Die gebeure in ons erediens op doopsondag, het my opnuut laat nadink oor die vyf kernwaarhede wat die Franciskaanse teoloog Richard Rohr ‘n tyd gelede gedeel het. Wanneer ons hierdie waarhede aanvaar, bring dit ongekende vrede en vryheid. Ons leef in ‘n selfgesentreerde tyd waar mense al meer op hulself fokus. Hierdie waarhede is goeie medisyne ten opsigte van meer realistiese verwagtinge in ‘n beperkte en onvolmaakte wêreld. Dink goed na oor die volgende:

  1. Die lewe is hard

Ons lewe in baie gemaklike tye met baie geriewe rondom ons. Ons hou nie van ongerief en lyding nie. Ons voorouers het verstaan dat lyding deel van hul lewens was. Wanneer ek besef en aanvaar dat die lewe soms hard kan wees, berei dit my voor om swaartye met grasie te hanteer. Dit bring ‘n vreemde soort vrede. Ons word vry van onrealistiese verwagtinge. Ons word dankbaar vir die vreugdes wat ons beleef (Joh 16:33).

  • Jou lewe gaan nie oor jou nie.

As jy God wil laat glimlag, vertel Hom van jou planne. Hy het dalk ander planne vir jou. Soms dink ons dat ons lewens net gaan oor dit wat ons wil doen. My lewe raak ook God – en ander mense om my. Ware geluk kom nie wanneer ek begin kry wat ek wil hê nie, maar wanneer ek die Here begin vra wat Hy wil hê. Ek volg nie my eie ster nie, maar vir God. Dis waar ware vrede te vinde is. Dit sal goed wees om uit te vind hoe pas ek by God se plan in, nie waar pas Hy by my planne in nie (Matt 6:33).

  • Jy is nie in beheer nie.

Beheer is ‘n illusie. Ek mag dink ek is in beheer, maar dis nie waar nie. More mag nooit kom nie. Ons pogings om te beheer en uitkomste te manipuleer is komies en dikwels skadelik. Beheer bring maar net meer angs en woede. Dit bring ‘n vreemde rustigheid wanneer jy besef jy kan nie alles beheer nie. Dit maak jou ‘n slaaf wanneer jy kommer oor onvoorspelbare dinge. Om te te laat gaan, is bevrydend (Jak 4:13-16).

  • Jy is nie so belangrik nie.

Ek het gedink die hele wêreld draai om my. Ek het gedink dis net my gevoelens en gerief wat saak maak. Natuurlik het God my besonders lief, maar ek moet besef dat Hy ander ook net so liefhet. Daarom moet ek hulle respekteer. Die harde waarheid is dat ander mense soms belangriker is as ek. Hulle het my aandag en liefde intens nodig. Ek staan terug en dien hulle met Jesus se liefde. Die wêreld is nie daar net vir my nie. Wanneer ek dit verstaan en aanvaar, bring dit ongekende vrede en vryheid. Nou kan ek ook ander mense se belangrikheid vier (Fil 2:3).

  • Jy gaan sterwe.

Dis hard, maar waar! Gaan stap vir ‘n slag deur die begraafplaas. Hulle wat daar te ruste gelê is was ook almal, soos ek en jy,  opgewerk oor wat die lewe na hulle gegooi het. Hulle stryde is nou verby! Indien hulle getrou was, sal hulle nou by God wees. Hulle besef nou dat swaar tye nie vir altyd hou nie. Dus, maak gereed om God te ontmoet. Dis is my dringendste prioriteit. Dit maak ons vry van die oordrewe en teenstrydige eise van die wêreld om ons. Ons fokus op die één ding wat ons moet doen. My lewe word eenvoudiger en ek neem die lewe nie so ernstig op nie. Dit alles sal verbygaan.

Dink na oor hierdie waarhede. Trek hulle weer nader wanneer die lewe hard en vinnig na jou toe kom met sy agenda van beheer, self-belangrikheid, leë beloftes en perfekte gerief op die aarde. ‘n Eenvoudige, sober, nederige en gefokusde lewe bring vrede en vryheid.