Tag: NG Kerk


Advent

Advent

Die nuwe kerkjaar het amptelik verlede sondag begin – met adventstyd! Advent is vir die kerk ‘n seisoen van afwagting en voorbereiding met die oog op Kersfees, asook ten opsigte van Jesus se terugkeer na die aarde. Die woord “advent” kom van ‘n Latynse woord wat beteken “koms”. Die woord word vandag baie keer gebruik om die aankoms van ‘n belangrike persoon of saak aan te dui. In die kerk verwys dit na die vier sondae (weke) voor Kersfees.

Dis ‘n tyd van opgewonde afwagting. Die woord “wag” speel hier ‘n sleutelrol. So het die mense van die Ou Testament geduldig gewag vir die koms van die Messias – die Gesalfde, wat sou kom om die wêreld van ons sonde te verlos.

Ons hoef nie meer te wag om die koms van Jesus nie – Hy het klaar gekom as Redder van die wêreld op Kersdag. Hy bly nou by ons deur sy Gees. Nou wag ons vir die aanbreek van nog ‘n Kerfeestyd, maar ons wag ook vir die wederkoms van Jesus.

Dis belangrik om te leer van “wag”! Dis een ding wat baie mense nie goed kan doen nie, veral nie in vandag se tyd nie. En tog is dit ‘n baie belangrike geestelike gewoonte waarin ons onsself keer op keer moet inoefen. Die lewe om ons maak ons baie haastig. Ons kan nie wag nie. Alles moet so gou soos nou gebeur. Dit maak ons geestelik dood. Dit ontneem ons van ons menslikheid. Dit ontneem ons van ons spiritualiteit. Dit bring afstand tussen my en God – omdat ek nie kan wag nie.

Wat is “wag”? Dit het niks te doen met luiheid, passiwiteit of onaktiwiteit nie. Dit het alles te doen met ‘n rustige vertroue in God in die wete dat Hy in beheer is – dat Hy alles ten goede sal laat meewerk, dat Hy jou koers bepaal. Dit gaan oor rustig raak in jouself – ‘n nadenke oor wie jy is, waar jy vandaan kom, waarheen jy oppad is, wat jou lewenswaardes is, ‘n oorgee van jouself in die hande van God. Dat ek nie meer sal stres oor more en volgende jaar nie, ook nie oor my werk, my blyplek, my gesondheid, my kinders en kleinkinders nie. Terwyl ek elke dag biddend opkyk na God, dank ek Hom dat Hy reeds gekom het om by te kom bly. Trouens, ek is deel van die sirkeldans van die Drie-Eenheid, ek vat hande met die Vader, die Seun en die Heilige Gees – en met alle gelowiges in hierdie tyd en sê net saam met die skepping: dankie! Ek jaag  nie meer nie – ek laat my ook nie jaag nie, ek rus in God, my Hoop en Verwagting! Ek werk, ek ontspan, en rus in die Here!

Geniet die fees van rus en vrede!  Dankie vir ‘n jaar van saamstap, saamdink en saambid!  Mag Kersfees 2019 baie innerlike verryking vir jou bring. Mag 2020 ‘n jaar van ongekende geleenthede wees om te groei na Christus toe.

Baie dankie aan Michelle wat elke week hierdie Familienuus so getrou uitstuur. Ons groet tot 2020!

Gloria in excelsis Deo!


Vrugte wat sal hou!

Jesus sê vir sy dissipels in Joh 15:16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.”

God se sending is bedoel vir almal wat aan Hom behoort. Hy het ons gekies om uit te gaan en vrugte te dra. Daar is nie genoeg sendelinge in die wêreld om God se missie te vervul nie. Daarom wil Hy vir my en jou ook gebruik waar ons woon en werk. Ons is ook sy sendelinge wat vrugte sal dra.

Vrugte is ‘n metafoor vir ‘n suksesvolle, groeiende, florerende, produktiewe lewe. Jesus wil hê dat ons vrugte sal dra wat sal hou. Hier teen die einde van die jaar word ons moeg, uitgeput en oorlaai. Ons is nie altyd lus om vrugte te dra nie, ons wil nou net die werksjaar eindig dat alles klaarkom en ons kan gaan rus. Nee, Jesus gee vir ons vrugte wat sal hou – deur elke tyd van ons lewens. Ook wanneer ons met vakansie gaan, gaan ons nogsteeds goeie vrugte dra wat sal hou.

Meeste van dit wat ons doen sal nie hou nie. Dit sal ook nie vir altyd onthou word deur ander nie. Niemand sal na tien jaar vanaf my afsterwe die meeste dinge onthou van wat ek gedoen het nie. Hulle sal nie omgee vir die flieks wat ek gesien het, die boeke wat ek gelees het, die vakansies wat ek geniet het nie. Dit sal alles vergete wees. Jesus wil egter hê dat ek iets sal doen wat sal hou en wat vir altyd onthou sal word.  Daar is twee dinge wat regtig sal hou: die waarheid en mense.

Dink aan die volgende situasie: iemand kom na jou toe eendag in die hemel:

“Ek wil net vir jou baie dankie sê!” 

“Vir my dankie sê?”  “Ek ken jou nie eers nie?”

 “Jy’s reg, jy ken my nie, maar jy was betrokke by ‘n bediening, ‘n uitreik- of noodsorgprojek by jou kerk. Jy het iets gedoen wat my moed gegee het, jy het my help glo in God,  dat ek Hom beter kon leer ken. Ek is in die hemel as gevolg van jou! Ek is vir altyd jou vriend, jou broer en suster in Christus!”

Niks wat jy doen is meer belangrik as om mense te help om die bestemming van hulle lewe te bereik nie. Dit is vrugte wat sal hou! William James het gesê: “The greatest use of your life is to invest it in that which outlasts it.”  Niks wat jy doen is meer belangriker as om mense te help om die ewige lewe te ontvang. Met jou lewe gaan jy hulle aanraak en inspireer om hulle verhouding met God reg te maak. Wat ‘n onuitspreeklike voorreg!

Jy mag dalk ‘n onderwyser wees, ‘n boekhouer, ‘n tuisteskepper, afgetree, ‘n nutsman. Jou grootste roeping is om die gawes wat God vir jou gegee het te gebruik om ander mense te help om hulle harte oop te maak vir God se nuwe lewe. So dra jy vrugte wat sal hou.


Vyf Kernwaarhede wat jou sal vry maak!

Die gebeure in ons erediens op doopsondag, het my opnuut laat nadink oor die vyf kernwaarhede wat die Franciskaanse teoloog Richard Rohr ‘n tyd gelede gedeel het. Wanneer ons hierdie waarhede aanvaar, bring dit ongekende vrede en vryheid. Ons leef in ‘n selfgesentreerde tyd waar mense al meer op hulself fokus. Hierdie waarhede is goeie medisyne ten opsigte van meer realistiese verwagtinge in ‘n beperkte en onvolmaakte wêreld. Dink goed na oor die volgende:

  1. Die lewe is hard

Ons lewe in baie gemaklike tye met baie geriewe rondom ons. Ons hou nie van ongerief en lyding nie. Ons voorouers het verstaan dat lyding deel van hul lewens was. Wanneer ek besef en aanvaar dat die lewe soms hard kan wees, berei dit my voor om swaartye met grasie te hanteer. Dit bring ‘n vreemde soort vrede. Ons word vry van onrealistiese verwagtinge. Ons word dankbaar vir die vreugdes wat ons beleef (Joh 16:33).

  • Jou lewe gaan nie oor jou nie.

As jy God wil laat glimlag, vertel Hom van jou planne. Hy het dalk ander planne vir jou. Soms dink ons dat ons lewens net gaan oor dit wat ons wil doen. My lewe raak ook God – en ander mense om my. Ware geluk kom nie wanneer ek begin kry wat ek wil hê nie, maar wanneer ek die Here begin vra wat Hy wil hê. Ek volg nie my eie ster nie, maar vir God. Dis waar ware vrede te vinde is. Dit sal goed wees om uit te vind hoe pas ek by God se plan in, nie waar pas Hy by my planne in nie (Matt 6:33).

  • Jy is nie in beheer nie.

Beheer is ‘n illusie. Ek mag dink ek is in beheer, maar dis nie waar nie. More mag nooit kom nie. Ons pogings om te beheer en uitkomste te manipuleer is komies en dikwels skadelik. Beheer bring maar net meer angs en woede. Dit bring ‘n vreemde rustigheid wanneer jy besef jy kan nie alles beheer nie. Dit maak jou ‘n slaaf wanneer jy kommer oor onvoorspelbare dinge. Om te te laat gaan, is bevrydend (Jak 4:13-16).

  • Jy is nie so belangrik nie.

Ek het gedink die hele wêreld draai om my. Ek het gedink dis net my gevoelens en gerief wat saak maak. Natuurlik het God my besonders lief, maar ek moet besef dat Hy ander ook net so liefhet. Daarom moet ek hulle respekteer. Die harde waarheid is dat ander mense soms belangriker is as ek. Hulle het my aandag en liefde intens nodig. Ek staan terug en dien hulle met Jesus se liefde. Die wêreld is nie daar net vir my nie. Wanneer ek dit verstaan en aanvaar, bring dit ongekende vrede en vryheid. Nou kan ek ook ander mense se belangrikheid vier (Fil 2:3).

  • Jy gaan sterwe.

Dis hard, maar waar! Gaan stap vir ‘n slag deur die begraafplaas. Hulle wat daar te ruste gelê is was ook almal, soos ek en jy,  opgewerk oor wat die lewe na hulle gegooi het. Hulle stryde is nou verby! Indien hulle getrou was, sal hulle nou by God wees. Hulle besef nou dat swaar tye nie vir altyd hou nie. Dus, maak gereed om God te ontmoet. Dis is my dringendste prioriteit. Dit maak ons vry van die oordrewe en teenstrydige eise van die wêreld om ons. Ons fokus op die één ding wat ons moet doen. My lewe word eenvoudiger en ek neem die lewe nie so ernstig op nie. Dit alles sal verbygaan.

Dink na oor hierdie waarhede. Trek hulle weer nader wanneer die lewe hard en vinnig na jou toe kom met sy agenda van beheer, self-belangrikheid, leë beloftes en perfekte gerief op die aarde. ‘n Eenvoudige, sober, nederige en gefokusde lewe bring vrede en vryheid.


In jou krisis!

Ons almal beleef krisisse van tyd tot tyd: rondom ons gesondheid, verhoudinge en werk ensomeer. Krisisse kan ook ontstaan rondom natuurrampe soos droogte, vloede, wegholbrande ensomeer. Al is dit soms die laaste ding wat jy wil doen, is dit egter die eerste ding wat ek moet doen: BID! Gebed kan nie ‘n laaste uitweg wees nie – dis die eerste uitweg!

Daniël is ‘n goeie voorbeeld van hoe om te bid in die tyd van ‘n krisis. Na aan die einde van sy lewe, 70 jaar nadat hy en sy vriende na Babilon in ballingskap weggevoer is, het hy ‘n reuse krisis ervaar. Hy wou terugkeer huis toe voordat hy sterf. Hy was bewus van die profeet Jeremia se profesie dat Israel na 70 jaar sou terugkeer na hul land toe. Daardie tyd was vinnig besig om nader te kom. Daniël begin te bid. Sy gebed is ‘n besondere model vir gelowiges wat hulle in krisistye bevind. Hier is hoe Daniël gebid het.

Daniël luister na God. Hoe luister jy na God? Jy bestudeer die Woord. Dit is wat Daniël gedoen het. Aan die begin van hoofstuk 9 lees hy van God se belofte van Jeremia om die Israeliete terug te bring na Jerusalem. In die krisis is dit nodig om te fokus op God se Woord en sy beloftes. Daar is so bale beloftes in die Bybel. Dit bied ‘n stewige fondament vir gebed tydens ‘n krisis.

Daniël draai sy fokus na God. Hy doen dit op ‘n fisiese wyse. In Dan 9:3 staan daar: “Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking…” ‘n Krisis kan ons baie pyn verskaf, juis omdat ons ons oë van die Here wegdraai in die middel van die krisis. Dis nodig dat ons sal fokus op God in moeilike tye. Wanneer jy jou aandag draai na familie en vriende, dan is jou fokus op hulle. Kyk op na die Here en fokus op Hom  en dit waarmee Hy besig is in jou lewe, nie op jou omstandighede nie.

Daniël deel sy begeertes met passie en emosie. Daniel het nie net sy vesoeke aan God bekendgestel nie. Hy het by God gesmeek en gepleit. Jou passie en die intensiteit van jou woorde weerspieël dikwels hoeveel iets vir jou saak maak. Wys vir God dat jou versoek meer as ‘n impulsiewe “bevlieging” is, dat dit ‘n baie sterk begeerte van jou kant is. Daniël het eintlik vir God gesoebat. Hy soebat God en vra of hy kan terugkeer na Jerusalem. Laat jou volle menswees deel wees van jou gebed, ook jou passies en emosies.

Daniël demonstreer dat hy ernstig is.   Hy vas – dan bid hy in sak en as. Dit was belangrike vorme van verootmoediging in gebed in daardie tye. Dit het gelowiges se erns gewys met gebed. Vas is ‘n belangrike geestelike gewoonte wat ons as christene opnuut moet herontdek. Dit is teken van ‘n volhardende verootmoediging voor God en ‘n erkenning van ons gebrokenheid voor Hom.

Daniël het God gedank vir sy liefde en beloftes.  Dit is goed om te vra –  met danksegging. Dit is wat Daniël gedoen het. In Dan 9:4 bid hy: ”Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en U gebooie gehoorsaam.” Hy betuig sy dank teenoor God. Hy erken God se trou om al sy beloftes na te kom. Dis vir ons belangrik om in ons krisisse dieselfde te doen. Dankbaarheid help ons om verby ons probleme te kyk.

Daniël het nederig sy sonde bely.  God stel nie belang in klagtes vanuit ‘n trotse hart nie. Hy luister na nederige belydenis. God reageer nie deur te wil straf nie, inteendeel, Hy seën ons wanneer ons eerlik is oor ons sonde. Dan 9:5: “Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie.” Daniël noem spesifieke dinge waar Israel oortree het. Hulle het nie God se hulp verdien nie, hulle kon dit ontvang op grond van God se genade.

Is jy nou in ‘n krisistyd – volg Daniël se voorbeeld en bid.


GELOWIG IN ‘N ONGELOWIGE WÊRELD

Jesus vra in Luk 18:8, “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”

Ons verkeer in ‘n toenemende ongelowige wêreld. Dis ‘n sekulêre wêreld van verskuiwende waardes en groeiende egosentrisme. As Jesus vandag sou terugkeer na die aarde, hoeveel mense van geloof sal Hy vind? En hoe lyk dit met jou en my?

God soek gelowige mense wat Hom met oorgawe sal vertroue en dien. 2 Kron 16:9 stel dit so: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”

God soek getroue gelowiges want Hy wil hulle seën. Hy wil sy liefde aan hul wys deur sy groot mag. Ons geloof is die sleutel wat sy seëninge in ons lewens ontsluit.

Jesus sê in Matt 9:29 aan die blindes wat na Hom gekom het: “Wat julle glo, sal gebeur.”  God wil sy seëninge in elke area van jou lewe stort, jou familie, jou beroep, jou finansies, jou gesondheid, jou verhoudinge. Hierdie seën lyk dalk anders as wat ons verwag het dit moet lyk, maar God werk dit uit in ons lewens. God vra dat ek Hom totaal sal vertrou met alles in my lewe – so ontvang ek ook sy besondere seën vir elke situasie. Soms lyk dit asof hierdie gelowige, vertrouende mense maar skaars is in ons dag. (Spr 20:6: “Baie gee te kenne dat hulle getrou is, maar wie kan ‘n werklike betroubare mens vind?”)

Ons almal is geraak deur die sondeval van Adam en Eva. Nie een van ons doen altyd die regte ding nie, maar geloof is die sleutel tot oorwinning. Ons word aangemoedig om te groei in die geloof sodat ons groot oorwinnings sal ervaar in die Naam van Jesus. Johannes sluit hierby aan in 1 Joh 5:4 met hierdie woorde: “enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur die geloof.”

Vertroue volkome op God te midde van ‘n ongelowige wêreld. Hy lei ons van oorwinning tot oorwinning – van heerlikheid tot heerlikheid!


BID ASOF GEBED VIR GOD SAAK MAAK

Die boek 1 Kronieke begin met ‘n lys van meer as 600 name. Jabes se naam staan nogal uit, want hy het gebid en God het aan sy versoeke voldoen. Dis ‘n gebed wat ons vir onsself ook kan toe-eien. Sy gebed was eenvoudig: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” ( 1 Kron 4:10) Hierdie drie gebedsversoeke is belangrik vir elkeen van ons:

  1. Hy bid vir God se krag

Jabes het geweet dat hy niks in sy eie krag kon doen nie. Hy bid vir meer grondgebied. So wil die Here hê dat jy ook spesifiek sal wees wanneer jy bid vir rondom jou doelwitte. Nothing becomes dynamic until it becomes specific. Dalk dink jy dit was ‘n selfsugtige gebed. Jabes was wel ambisieus, maar hy het die regte motiewe gehad, want die Here gee vir hom wat hy vra. Dalk is daar iets groots wat jy ook van die Here wil vra. Paulus sê in Efes 3:20: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink…” Gebed kan doen wat God kan doen. Laat jou geloof oorgaan in aksie- kom en vertrou die Here vir iets groots in jou lewe.

  • Hy bid vir God se teenwoordigheid

Ons het ook God se teenwoordigheid nodig. In die ou vertaling vra hy dat die Here se hand met hom sal wees. Dis belangrik dat ons God se teenwoordigheid sal ken. Te midde van groeiende eise wat gestel word aan jou, verantwoordelikhede, konflik, versoekings, verhoudinge en uitdagings besef ons dat ons God se teenwoordigheid nodig het. Jy kan nie alles op jou eie hanteer nie. Ons is egter tot alles instaat deur God wat ons krag gee (Fil 4:13). Moenie vir God vra vir meer grondgebied sonder om te vra vir sy kragtige teenwoordigheid.

  • Hy bid vir God se beskerming.

Hy vra: “weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.”  Hierdie derde gebed van Jabes is ‘n natuurlike uitvloeisel van sy twee vorige gebede. As jou grondgebied vergroot, sal jou kritici vermeerder. Benewens dit, wanneer jy nader aan God beweeg, hoe meer sal die Satan jou aanval. Wanneer ons aangeval word begin ons vlakke van angs en vrees styg. So word ons fokus en aandag afgelei met die gevolg dat ons minder effektief word. Ons het God se beskerming nodig sodat ons sonder vrees kan leef.

Jabes het God se krag, teenwoordigheid en beskerming nodig gehad. Wat ook uitstaan is sy nederigheid in al hierdie versoeke. Kom ons volg Jabes in die versoeke wat hy tot God rig, maar ook die nederige houding wat hy aanneem. Hy weet dat hy God baie nodig het. Hy vertrou volkome op die Here!