Tag: Vertroue


Blaf jy by die regte boom?

“Laat die Gees ook nou ons gedrag bepaal”  (Gal 5:25)

Die wêreld is begryplik in rep en roer met die pandemie wat oral kop uitsteek. Wat dit nog erger maak is die ander onaangename dinge wat die nuus haal: die oormatige vergrype van wetstoepassers, soveel so dat lewensverlies plaasvind aan die hand van sommige geweldadige lede van die “beskermingsdienste”. Hierdie vergrype kan natuurlik nie geduld word nie. Ook die uiterste geweld teen vroue in Suid-Afrika, dit is alles skokkende tendense! Hierdie misbruike was nog altyd by ons, maar die situasie rondom Covid-19 maak dit nog erger. Die situasie werk op mense se spiere. Dit bring angs, vrees en onsekerheid wat altyd die slegste uit ons na vore bring. Ons raak gefrustreerd en geïrriteerd, ons raak ongeduldig, ons oorreageer, ons word ongeskik, onsensitief, oorsensitief en die mees sagmoedigste Neelsies verander in die mees aggressiewe bullebakke. Kyk maar hoe mense hulle agter die stuurwiel gedra. Daar is dieperliggende dinge wat ons pla en dan borrel dit uit na die oppervlakte op onaangename wyses. So ontstaan ‘n gees van onbeheersdheid wat sleg is vir onsself en die mense op ons. Ons almal ly hier onder een of ander tyd.

In so ‘n tyd is dit nodig om net te gaan stilsit en te dink. Wie is ek en Wie s’n is ek? Wat is my waardes? Is ek op die oorlogspad? Is ek dalk met ‘n verkeerde oorlog besig? Ek baklei met die mense om my, maar eintlik is ek ongelukkig en gefrustreerd met myself en my lewensituasie? Ek blaf dalk by die verkeerde boom. Eintlik moet ek by my eie boom blaf. Dis dan wanneer ek moet onthou dat ek ‘n Gees-mens is. Ek het die Gees in my. Hy wil my rustig maak. Hy wil my leer hoe ek my frustrasies kan hanteer. Ek moet my oorgee aan die Gees, sodat Hy van my besit kan neem en ek sy vrug van selfbeheersing kan dra. Hy is nog altyd by my. Ek moet net bewus wees van Hom. So maak ons dit nie vir mekaar meer kompleks nie, maar eerder makliker.

Daar is ‘n wonderlike saamwerk tussen dit wat God doen en dit wat ek doen – ‘n heilige samewerking! God doen altyd eerste: Hy skep, onderhou, sorg en koester, Hy neem inisiatief! As Hy gedoen het, roep Hy vir my om ook te doen. Ek kan dan reageer in gehoorsaamheid, diens en liefde. God reik elke dag na my uit in sy liefde. Wanneer ek ‘n tree in die geloof begin neem na Hom, gebeur daar groot dinge.  Die Bybel is vol sulke verhale. Met een tree in die geloof word die krag van die Heilige Gees in my lewe geopenbaar.  Toe Josua gekonfronteer is met die vloedwaters van die Jordaanrivier  (Jos 3), neem die leiers net een tree in die water  –  in gehoorsaamheid en geloof – en die waters droog op om ‘n pad vir hulle oop te maak deur die Jordaanrivier.

God het gedoen – Hy wag nou vir jou om te doen!  Moenie wag totdat jy sterk of moedig voel nie. Beur voort in jou swakheid terwyl jy die regte dinge begin doen,  ten spyte van jou vrees, onsekerheid en frustrasies. So werk jy saam met die Heilige Gees – so word jou karakter gevorm.

Die Bybel vergelyk geestelike groei met ‘n saadjie, ‘n gebou en ‘n kind wat groot word. Elke metafoor weerspieël aktiewe deelname van my kant af: die saad moet geplant en versorg word, die gebou moet gebou word – dit verskyn nie eendag uit niks uit nie. Kinders moet eet en oefening kry om te kan groei. Ons eie inspanning het niks te doen met ons verlossing nie – dit het God alleen gedoen aan die kruis. Ons het geen rol gespeel by ons verlossing nie. Ons inspanning kom wanneer ons die groeipad begin stap saam met die Gees. Ons word sommer baie kere in die Nuwe Testament aangemoedig om moeite te doen om te groei om soos Jesus te word. Kyk maar na verse soos Luk 13:24; Rom 14:19; Efes 4:3; 2 Tim 2:15; Heb 4:11; Heb 12:14; 2 Pet 3:14; Fil 3:12-14. Jy kan nie rond sit en wag dat alles vir jou moet gebeur nie.

Paulus verduidelik vir ons in Efes 4 :22-24 dat ons 3 verantwoordelikhede het in ons geloofsreis om soos Jesus te word:

1.   Ons kies om die ou manier van doen agter te laat (Efes 4:22 “Hou dan op om te lewe soos julle vroeer gelewe het”.)

2.   Ons verander ons manier van dink (Efes 4:23 “Julle gees en gedagtes moet nuut word”.) Paulus sê in Rom 12:2 dat ons getransformeer word deur die vernuwing van ons gedagtes. Die Griekse woord vir verander / transformeer is die woord: “metamorfose” – dit word gebruik in Rom 12:2 en 2 Kor 3:18. Vandag word hierdie woord gebruik om die wonderlike verandering te beskryf wat ‘n ruspe ondergaan na ‘n skoenlapper. Wanneer God die koers aandui in ons gedagtes, vind hierdie geestelike transformasie plaas in ons lewens. Ons word van binne af verander, ons word mooier, ons word vrygelaat om na groot hoogtes te vlieg.

3.   Ons trek die karakter van Jesus aan Hoe doen ons dit? Deur nuwe bevrydende gewoontes te ontwikkel. Jou karakter is eintlik maar die somtotaal van jou gewoontes – dit is maar hoe jy op grond van ‘n klomp gewoontes optree. Efes 4:24: “lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig”.

Ons hoef nie met die Gees te “kompeteer” nie. Ons hoef nie sy werk vir Hom te probeer doen nie. Ons hoef nie sy werk “oor te vat” nie. Ek kan maar net doen wat ek moet doen. Ek werk saam met die Gees, sodat ek kan groei om soos Jesus te wees. Hierdie tyd is groeityd! Word bemoedig – en groei deur al jou laagtepunte. Die Here vat jou by die hand! Kom ons maak dit makliker vir mekaar en nie moeiliker nie.


IS JY ‘N “WORRY-ER”?

Vandag vier ons die hemelvaart van Jesus. Hy het ons nie aan ons eie lot oorgelaat nie, want Hy het dadelik reëlings getref om sy Gees te stuur. Vader, Seun en Gees is by ons, midde-in ons huidige omstandighede. 

Ja, Covid-19 het ons skielik oorrompel. Ons het skaars Kersfees en Nuwejaar gevier, toe is hy op ons …en bekommernis is besig om sy tol te eis. Hier is die statistieke in die VSA – soos saamgestel deur die American Psychiatric Association. Amper die helfte van Amerikaners is angstig dat hulle dalk die virus sal opdoen. Amper twee-derdes is bekommerd dat ‘n familielid dit sal optel. Twee-derdes van mense is ook bekommerd oor die langtermyn implikasies ten opsigte van die ekonomie.

Hierdie statistiek kom nie as ‘n verrassing nie! Jy weet wat diep in jou eie hart aangaan. Het jy al voorraadopname gedoen oor jou eie “worries”? Dit kan nogal oorweldigend wees. Jy weet dit reeds, maar kan ek jou net weer herinner: bekommernisse sal jou niks in die sak bring nie. Jesus het vir ons kom sê in Matt 6:27: ”Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?”  Die antwoord is: Jy kan nie jouself verhoed om Covid-19 op te tel deur bekommernis nie. Bekommernisse sal ook nie keer dat my familie daardeur geraak word nie. “Worry” maak net ons probleme erger – jy neem nie ‘n tree nader aan die oplossings van jou probleme nie. Bekommernisse kan nie jou verlede of jou toekoms verander nie. Al wat dit kan doen is om jou vandag op te mors.

Spr 12:25 sê: “Bekommernis druk ‘n mens neer.”  Ons is nie gemaak om dit alles te verduur nie. Dit put jou uit tot in jou siel. Om op jou beste in hierdie tyd te funksioneer, gaan jou bekommernis jou beslis nie van hulp wees nie.

Hoe kan jy bekommernisse oorwin in hierdie seisoen van stres?

Laat Jesus jou Herder wees

Onthou jy het ‘n Herder! ‘n Herder neem die verantwoordelikheid vir die behoeftes van die skape: vir weiding, leiding en beskerming. Dis ook ons Goeie Herder se verantwoordelikheid. Daarom herhaal ek dit elke dag vir myself: “Die Here is my Herder – U is ‘n goeie Vader!”  Sê dit sommer baie keer op ‘n dag, want dit herinner my aan die feit dat ek ‘n goeie Herder het. Hy is die Jesus wat opgevaar het na die hemel en vir ons intree by die Vader. Deur sy Gees is Hy bewus van elke gedagte, emosie en beweging van elke spier en orgaan in jou liggaam. Hy is instaat en bekwaam om ‘n goeie Herder te wees.

Gee Jesus beheer van elke area van jou lewe

Bekommenisse is ‘n rooi liggie wat aangaan en jou herinner dat jy nog nie elke deeltjie van jou lewe aan God oorgegee het nie. Wanneer God nie nommer EEN is nie, sal jy begin bekommer in daardie aspek  van jou lewe. As jy iets meer as God liefhet, word dit ‘n bron van stres en angs in jou lewe. Dit is soos ‘n wonderlike kaggelvuutjie wat sy ruimte oorskrei, ‘n vonk wat op die sitkamer se mat beland en die potensiaal het om die hele sitkamer af te brand. Ook goeie dinge soos ons huwelike, kinders, ensomeer kan bronne van bekommernis word as dit vooropstaan in ons lewens. God het daarvoor ‘n bepaalde ruimte gegee in ons lewens. Dit mag nie daardie ruimte oorskrei nie. Wanneer iets of iemand God se plek begin inneem in ons lewens, skep dit onveiligheid en bekommernis.

Ontspan en gee vir God jou bekommernisse in gebed

Dis belangrik om altyd jou seëninge te tel. Veral in tye soos nou is dit goed om altyd jouself te herinner aan alles wat God al vir jou gedoen het. Maar dis ook belangrik om jou bekommernisse te tel. Soms het ons maar net ‘n algemene gevoel van angstigheid, maar ons weet nie wat dit veroorsaak nie. Voordat jy jou bekommernisse vir die Here kan gee, moet jy eers ‘n helder idee hê van wat dit is. Skryf dit neer – en gee dit een vir een vir God. Petrus sê: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle”  (1 Pet 5:7). Jy is nie ontwerp om jou bekommernisse self te dra nie – dis onnatuurlik. God is groot en sterk genoeg om al jou bekommernisse te hanteer.

Vertrou God vir een dag op ‘n slag

Moenie dat bekommernisse jou toekoms kom steel deur more se bekommernisse  vandag te dra nie. Jesus het dit so gestel: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want more bring sy eie bekommenis” (Matt 6:34). Jy het genoeg op jou bord vir vandag. Moenie meer oplaai nie. Dis goed om te beplan vir more. Ons gaan tans deur ‘n baie unieke situasie deur ons ganse geskiedenis. Dit sal nodig wees om te beplan vir wat jou te doen staan in die dae, weke en maande wat kom. Jy kan beplan vir more, sonder om nou reeds te leef in jou more. Jy kan net vandag leef. God toets ons voortdurend oor hoe ons Hom vertrou. Hy wil hê ons moet besluit of Hy regtig die eerste plek in ons lewens inneem. Hierdie unieke stukkie geskiedenis is tans een van die grootste toetsinge wat ons dalk ooit in die gesig sal staar wanneer dit gaan oor ons vertroue in God. God het belowe dat Hy vir jou sal sorg. Hy sal in jou behoeftes voorsien.

Sal ek Hom vertrou daarvoor?

Groete

Gavin