View online

 

 

Waar die Stroom vloei ….Daar is lewe

Familienuus: 28 November 2019

 

KERSFEES GAAN OOR PA en SEUN

Ons dink meestal, as dit Kersfees word, aan Jesus en sy geboorte; dat die Seun van God sy hemelse heerlikheid prysgegee het om mens te word en onder ons te kom woon. En dit is ook reg so. Dit is die wonder van Kersfees.

Daar is ook ‘n verdere dimensie. Kersfees gaan nie net oor Jesus se geboorte nie. Dit gaan ook oor God die Vader en sy liefde; ’n Vader wat sy Seun die wêreld instuur, maar Hom nie los nie. Die Seun kom aarde toe omdat Hy weet sy Vader sal Hom dra en vir Hom voorsien.

In die Evangelies lees ons op ‘n paar plekke van die besondere verhouding wat die Vader met Jesus het. By Jesus se doop, en later op die berg van verheerliking, hoor ons dit duidelik (Matt 3:17 en 17:5): “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” Die Vader se liefde vir die wêreld het nie sy liefde vir sy Seun afgewater nie. Die band tussen Pa en Kind was so sterk soos altyd. Daarom was dit ook, heel gepas, dat Hy met sy Pa in sy sterwensoomblikke gepraat het (Luk 23:46): “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

Omdat die Seun ’n Pa gehad het wat Hom onvoorwaarlik liefhet en dáár was vir Hom, kon Jesus sy taak met toewyding verrig; Hy het geweet sy Pa is daar vir Hom, selfs in sy swaarste lyding. Selfs in sy oomblikke van Godverlatenheid, het Hy geweet dat sy Vader alles onder beheer het, alles sal ten goede meewerk. Die lydensverhaal sal uiteindelik goed eindig, want die opstanding en heerlike hemelvaart wag  (Heb 12:2). Hy werk saam aan sy Vader se ewige plan om die mensdom te red. Daarom gee Hy Homself oor aan die wil van sy Vader.

Hoe anders sou die wêreld gelyk het as ons aardse pa’s soos ons hemelse Pa was, as ons kinders geweet het ons het hulle onvoorwaarlik lief, as ons dáár was vir ons kinders. Hoe anders sou ons kinders se huwelike gelyk het. Hoe anders sou ons kinders se geloofsverbintenisse aan God gelyk het. Dis nie toevallig nie dat baie mense wat die rug op God draai, uit huise kom waar hulle ’n gebrek aan vaderliefde, ‘n gebrek aan tyd en aandag gekry het. As jou aardse pa afwesig is in jou lewe, sukkel jy om jou hemelse Pa te vertrou. Daarom het ons ook ‘n groot taak om Pa’s in ons gemeente op te roep om ons hemelse Vader te volg in sy liefde vir sy Seun. Hoe die Vader sy Seun begelei en ondersteun is vir ons ‘n voorbeeld en inspirasie. Hierdie besondere hemelse Pa-Seun verhouding hou ook vir ons baie troos in met ons aardse reis na ons bestemming. Ons het die versekering dat die Vader ons nie aan ons eie lot oorlaat nie. Hy dra ons van dag tot dag.

Kersfees gaan oor Jesus, ja! Maar dit gaan ook oor ’n hemelse Vader wat sy Kind die wêreld instuur en steeds daar is vir Hom. Dit is hoe ek en jy in die jaar wat voorlê, ook teenoor ons kinders sal wees.

 

DEURKOLLEKTE : 1 DESEMBER 2019

Neem asseblief kennis dat komende Sondag se deurkollekte gaan vir Alimentasie/Noodsorg.

 

KERKKANTOOR SLUIT VIR DIE JAAR

Die kerkkantoor sluit op Vrydag, 13 Desember 2019 en open weer op 2 Januarie 2020.

Indien daar enige noodgevalle is gedurende hierdie tyd kan u vir Michelle Raubenheimer kontak by 082 057 8370.

 

KERSSANGDIENS

Baie dankie vir elkeen wat ‘n bydrae gelewer het om hierdie aand ‘n feestelike geleentheid te maak. Die koor, orkes en voorsangers was fantasties! Baie dankie aan die Kruisvroue vir die pragtige dekor, verversings en kuier na die diens, dit was alles pragtig! Dankie ook aan gemeentelede wat verversings geskenk het. Dit is ‘n tradisie wat verseker sal voortduur. Volgende jaar maak ons weer so. Baie dankie!

 

FLIEKAAND: VRYDAG 6 DESEMBER 18h30

Kom geniet ‘n heerlike aand op die gras saam met u gesin. 

Bring ‘n piekniekmandjie en kom kyk die film “Breakthrough”.

Kyk gerus op die afkondigings vir meer inligting.

 

LEIERVERRYKINGSGELEENTHEID

Aandag alle Gemeenteraadslede, Bedieningsleiers, Netwerkvoorsitters, Diensgroepleiers, Groeigroepleiers, Dienswerkers en Jeugleiers!

Onthou gerus die Leiersverryking aangebied deur Ds Christoph Müller op Sondag, 26 Januarie 2020, 08:30 – 10:30.

 

HUWELIKVERRYKINGSKAMP 2020

Kom woon ‘n naweek by waarin jy belê in die belangrikste verhouding in jou en jou gesin se lewe…… jou huwelik!

Datum: 4-6 September 2020

Plek: Effata kampterrein

Aangebied deur Ds Jaco Barnard en Dr Johan Pienaar.

Kostes: R1600 per paar vir die naweek. Sluit alle etes ook in (die kos is van hoogstaande gehalte)

Daar is slegs plek vir 18 paartjies.  Betaal nou reeds R200 om jou plek te bespreek.  U kan dan afbetaal maandeliks tot en met die kamp.

Verblyf opsies is tente en privaatkamers, asook ‘n huis met 4 kamers vir iemand wat wil deel.

Kontak vir Michelle in die kerkkantoor om julle plek te bespreek!

 

KONINGSOFFER

Baie dankie vir die Koningsoffers wat reeds ontvang is.  U is egter welkom om u koevert enige tyd by die kerkkantoor in te handig.  U is ook welkom om te EFT met die verwysing Koningsoffer.  Baie dankie!

 

GEDENKTUIN

Soek u dalk na ‘n spesiale plek vir u geliefde se stoflike oorskot? Kom kyk gerus na die gedenktuin by die kerk. Doen gerus navraag by die kerkkantoor oor die kostes en beskikbaarheid.

 

KURSUS IN DIENS-EVANGELISASIE (GETROUE GETUIES)

Wil jy graag weet hoe jy op ‘n praktiese en diensbare wyse mense om jou kan bereik met God se liefde? Dalk het jy ‘n behoefte om met ‘n familielid, ‘n vriend(in), ‘n kollega of selfs ‘n vreemdeling gesprek te voer oor geloof, maar jy weet nie hoe nie. Waar begin mens, hoe pak jy dit aan, wat sê mens? Hierdie is alles vrae waarmee ons dikwels       worstel. Ons wil so graag ons geloof met iemand deel, maar ons voel nie toegerus en bekwaam genoeg nie. Tog vra die Here van ons almal om sy getroue getuies te wees.   Hier is ‘n uitstekende geleentheid om saam met ‘n groep mense hierdie reis aan te pak sodat ons saam kan leer hieroor. Kom wees deel van hierdie kursus wat naastenby weekliks sal loop (vakansie uitgesluit). Ons begin met die kursus op 19 Feb 2020 en eindig op 3 Jun 2020. Vul asb ‘n registrasievorm in by Michelle in die kerkkantoor.  Die inskrywingsfooi is R85 vir die kursusboek.

 

TERREINPLAN VIR PARKERING

Na aanleiding van ons Gemeentebou Doelwit wat werk aan ‘n oop en toeganklike gemeente, het die taakspan wat daarvoor verantwoordelik is ‘n terreinplan vir parkeing saamgestel wat sal bydra tot meer funksionele parkering en verkeersvloei op ons terrein. Dit sal in drie fases gebeur. Die GR het reeds Fase 1 goedgekeur, asook Fase 2 in beginsel. Kyk gerus na die Plan op die kennisgewingbord. Indien daar enige navrae is, gesels gerus met Louis ons Naweekkoster. Hy is die Voorsitter van die Taakspan.

 

SKRYFBEHOEFTES PROJEK (Reënboogprojekte)

Die Reënboogprojek-span wil graag weer hierdie jaar die behoeftige kindertjies van Soshanguve help om graad 1 te begin met die nodigste skryfbehoeftes.

Ons versoek skenkings vir HB-postlode, skerpmakers, uitveёrs, 30cm liniale, klein skêrtjies, prit, inkleurpotlode en pennesakkies.

Kontak gerus vir Amanda Groenewald by 073 178 0513

 

FONDSE:
Hoe kan ek my bydrae vir die gemeente gee?

1) Debietorder (Vorm is in die portaal en kerkkantoor beskikbaar. Indien u al ‘n vorm ingevul het vir ‘n debietorder maar die bedrag gaan nie van u rekening af nie, kom stel dit asb reg in die kerkkantoor.

2) EFT (oorbetaling via ‘n bank)

3) SNAPSCAN (selfoon)

4) Bankkaarte (masjien is in die kantoor beskikbaar)

5) Kontant (koeverte/kollekte bordjie)
Ondersteun asb ook ons inisiatief vir ‘n klein ekstra inkomste deur u afval papier in ons groen Ronnie Bin te kom gooi!

Die finansies dokter houertjies is ook nog beskikbaar in die voorportaal of in die kerkkantoor. Vul hom gerus met R5’e en gee dit in by die kerkkantoor.

 

POSDIENS:  
GEEN dankoffer koeverte of nuusbriewe word meer gepos nie weens die hoë finansiële implikasie.
Indien u geen korrespondensie via u huis ontvang nie, is die rede dat daar nie ‘n dienswerker beskikbaar is in u omgewing nie.  Alle korrespondensie is beskikbaar in die portaal.

Lidmate word versoek om ASB te onthou om u besonderhede by die kerkkantoor ook te verander sou u adres/kontaknommers verander.

 

EREDIENSTYE:

1 Desember 2019

09:00  -  Dr Jaco Barnard (Doop)

Geen aanddiens!

Geen Kategese en Tienergroepe!

 

U is hartlik welkom by ons eredienste en aktiwiteite.

Dr Gavin Meistre
(Moet asb nie op hierdie epos antwoord nie –  Kontak gerus die kerkkantoor vir enige  verdere inligting by admin@nggars.org.za)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  


 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 


  Klik hier vir Afkondigings 1 Desember 2019
NG Gemeente Garsfontein
285 Emmie Hartmann Straat, Garsfontein
Kopiereg NG Gemeente Garsfontein 2018+
Om jou subskripsie te verander, klik hier.