JOU REËNJAS IN DIE STORM
Pred 4:9-10 “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.”
Verhoudinge is soos ‘n reënjas deur die storms van die lewe. Die maak nie saak watter van ons vriende of familie deur storms gaan nie, ons is daar om mekaar te help. Mense wat tot mekaar verbind is – beskerm mekaar in die stormtye.
Daar is drie soorte storms van die lewe waarteen ons mekaar moet beskerm: tye van verandering en oorgang, wanneer mense ons probeer beïnvloed met skadelike idees en wanneer ons verwerping ervaar. Wanneer jou naby mense (jou huweliksmaat, jou kinders, jou vriend of vriendin) verwerp voel is dit nodig om rondom hulle saam te kom om soos ‘n reënjas te wees in die storm. Wanneer hierdie gevoelens opduik is dit tyd om saam met daardie persoon te sit, te luister, saam te huil, en te probeer verstaan wat gebeur het en wat innerlik ervaar word. Dalk onthou jy die keer toe jou eie hart vir die eerste keer gebreek het – in die laerskool, toe jou beste maatjie besluit het dat jy nie meer goed genoeg is nie. Daar was toe ‘n nuwe maatjie wat jou plek ingeneem het.
Dan is dit nie tyd vir vinnige raad en oplossings nie, hulle het nie advies nodig nie, ook nie ‘n preek of ‘n lesing of kommentaar nie. Dit help nie om te sê: “Moenie so voel nie, moenie huil nie, dis nie so erg nie, dis maar die lewe!” Dit is waarskynlik baie erg vir daardie persoon. Soms het hierdie mense net ‘n oor en ‘n hart nodig – ‘n bietjie tyd wat ek kan afstaan om daar te wees en te luister. Dis die grootste geskenke wat ek vir iemand kan gee – my tyd, my oor en my hart. Baie keer verstaan ons nie wat aangaan nie – baie kere verstaan die persoon self nie hul eie emosies en ontsteltenis nie. ‘n Verstaan van die werklike krisis kom mettertyd soos wat die tyd aanstap.
So word ek ‘n reënjas vir daardie persoon in die storm. As gesin, familie of vriendekring word ons saam ‘n groot reënjas vir daardie persoon. Ek word ‘n “stormvanger” vir daardie persoon, ‘n beskermer, ‘n wagter, ‘n bewaker. Wanneer iemand om my swaarkry, moet ek nie die situasie vererger en die persoon verder laat ly deur my optrede en woorde nie. Dit help nie om die situasie te ontken of om so ‘n persoon vinnig te probeer opbeur nie. Nee, jy voel saam met daardie persoon – jy huil saam! Hartsfamilies en hartsvriende beskerm mekaar in die storm – soos ‘n reënjas!
Recommended Posts
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021
Die finale gesag in jou lewe
15/04/2021