Honger na God!

Avatar photo

D

“Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry” (1 Pet 2:2).

Honger jy na God? Het jou geestelike aptyt verflou? Dink aan die volgende paar gedagtes – dalk help dit jou om die honger na God se geestelike dinge weer aan te wakker.

  1. Herinner jouself hoe lief God jou het

Hoe meer jy verstaan hoe baie God jou liefhet, hoe meer sal jy vir Hom liefhê. Paulus roep ons op in Efes 3:18-19 om te begryp hoe wyd, hoe ver, hoe hoog en hoe diep Christus se liefde strek – dat ons sy liefde sal ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, dat ons heeltemal vervul sal word met die volheid van God.

  • Vermy die gemorskos

Jy is ‘n geestelike wese met ‘n spesiaal-ontwerpte hart wat net deur God gevul en bevredig kan word. As jy probeer om daardie hart te vul met jou salaris, status, sukses, besittings, mag, prestige of enigiets anders as God, sal dit nie geestelik vervullend wees nie. Spr 15:14: “’n Verstandige mens is op soek na kennis; ‘n dwaas voed himself met dwaasheid”.

  • Maak God jou nommer een doel

Dis wat Paulus gedoen het – sy doel was om Jesus meer en meer te leerken en met Hom een te wees (Fil 3:10). Vreugde is ‘n by-produk van ‘n verhouding met God. Soek eers vir Hom en sy koninkryk en dit wat Hy wil hê, dan sal God in al jou behoeftes voorsien (Matt 6:33).

  • Eet die Woord elke dag

Die Bybel gee kos vir jou siel. Om net eenkeer per week te eet sal nie jou liggaam gesond hou nie. Net so moet jy ook elke dag van God se Woord eet, sodat jy geestelik kan groei ( 1 Pet 2:2).

  • Aptyt word beïnvloed deur assosiasie

As jy met mense assosieer wat net belangstel in politiek, sal dit jou beïnvloed om soos hulle ook politiek te gesels. As jy net met mense meng wat met sport te doen het, gaan jy ook soos hulle net oor sport praat. Daarom, sluit aan by ‘n groeigroep vir geestelike ondersteuning. Dit gaan jou honger na die Woord stimuleer, want hulle praat oor ons geloofsreis en oor die Woord. Spr 2:20 moedig ons aan om die pad van goeie mense en die regverdiges te loop. Loop daardie pad en stil jou honger ook saam met geestelike vriende.


css.php