Dis basaartyd!
More is dit basaartyd in Garsfontein! Dis een van die lekkerste kuiergeleenthede van ons gemeente. Daar is natuurlik ander kuiergeleenthede wat ook baie lekker is, maar hierdie een is besonders. Al word daar hard gewerk en hard gekuier, gebeur dit altyd met uitbundige vreugde. Want die lewe is ‘n fees en moet ook altyd ‘n fees bly, al gaan dit soms hoe swaar. Die geheim is juis om te midde van die swaar nie die goeie dinge te vergeet in die lewe nie. Kom deel jou vreugde met ons more!
Kom ons ook dink opnuut oor die belangrike geestelike gewoonte wat ons baie nodig het in SA vandag – en dit is vreugde – joy! Dis ook deel van die vrug van die Heilige Gees!CS Lewis het iets besonders gesê: “Joy is the serious business of heaven”. Het jy al kleutertjies dopgehou wat sing en dans – om so uitbundig uitdrukking te gee aan hul opgekropte vreugde? Soms word ons in die lewe ook uitgenooi tot ‘n bietjie vreugde – en dan mis ons dit, want ek is te haastig, besig, gefokus, vasgevang in my eie program om te beweeg van die een taak na die ander taak. Daar was dalk ‘n uitnodiging om saam te dans, die vreugde van die lewe het voor my gebeur, maar ek het dit vir altyd gemis.
Soms leef ons en soms wag ons om te leef…so leef ons ons lewens die hele tyd in transito – ek probeer om êrens te kom, ek wag om ‘n begin te maak, ek reis êrens heen, ek staan en wag in ‘n tou, ek wag vir ‘n vergadering, ek wag dat die vergadering klaarkry, ek maak vinnig om ‘n taak klaar te maak, ek is bekommerd oor iets wat verkeerd kan loop, ek is kwaad oor iets wat gebeur het. In sulke tye is ek nie mooi teenwoordig nie, ook nie bewus van die stem en doel van God met my lewe nie. Ek is ongeduldig – so wens ek my tyd en lewe om. Ek wil net so vinnig as moontlik deur alles kom.
Behebtheid met myself – is ‘n groot struikelblok om vreugde te beleef. Selfsugtigheid en selfbeheptheid weerhou my daarvan om klein vreugdetjies uit te deel aan ander – en so sien ek ook nie die vreugdetjies raak wat God elke dag vir my gee nie. Vreugde lê aan die hart van God se plan vir ons. Vreugde lê aan die hart van God self. Ons vreugde en God se vreugde gaan hand aan hand. Ons onderskat God se kapasiteit vir vreugde.
GK Chesterton skryf oor die sentrale karaktereienskap van vreugde waaroor God beskik. Vreugde is ook God se plan vir mense. Jesus is die Vreugde-Brenger. Die vreugde wat ons sien in die gelukkigste kind is ‘n fraksie van die vreugde wat in God se hart woon. God is die gelukkigste en vreugdevolste wese in die ganse skepping. God ken ook droefheid, maar dis ‘n tydelike reaksie op die gevalle wêreld. Dit sal ook finaal verdwyn wanneer Hy sy koninkryk totaal herstel. Vreugde is God se basiese karakter. God se doel is dat sy skepping sy vreugde weerspieël (vgl die bruidegom in Ps 19).
Dit is God se wil is dat ons gehoorsaam sal wees, maar gevul veral sal wees met sy volkome vreugde (Joh 15). Hy oordeel dat ons nie gelukkig genoeg is nie. “To miss out on joy is to miss out on the reason for your existence”, sê Lewis Smedes.Beoefen die gewoonte van vreugde. Die Here gee dit vir jou – gaan leef dit elke dag. God wil hê dat ons vreugdevolle mense sal wees, want so wys ons iets van sy karakter. So word ons vir Hom ook ‘n vreugde!
Kom deel jou basaarvreugde met ons almal more! Ons sien jou daar!
Recommended Posts
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021
Die finale gesag in jou lewe
15/04/2021