GELOWIG IN ‘N ONGELOWIGE WÊRELD

Avatar photo

Jesus vra in Luk 18:8, “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”

Ons verkeer in ‘n toenemende ongelowige wêreld. Dis ‘n sekulêre wêreld van verskuiwende waardes en groeiende egosentrisme. As Jesus vandag sou terugkeer na die aarde, hoeveel mense van geloof sal Hy vind? En hoe lyk dit met jou en my?

God soek gelowige mense wat Hom met oorgawe sal vertroue en dien. 2 Kron 16:9 stel dit so: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”

God soek getroue gelowiges want Hy wil hulle seën. Hy wil sy liefde aan hul wys deur sy groot mag. Ons geloof is die sleutel wat sy seëninge in ons lewens ontsluit.

Jesus sê in Matt 9:29 aan die blindes wat na Hom gekom het: “Wat julle glo, sal gebeur.”  God wil sy seëninge in elke area van jou lewe stort, jou familie, jou beroep, jou finansies, jou gesondheid, jou verhoudinge. Hierdie seën lyk dalk anders as wat ons verwag het dit moet lyk, maar God werk dit uit in ons lewens. God vra dat ek Hom totaal sal vertrou met alles in my lewe – so ontvang ek ook sy besondere seën vir elke situasie. Soms lyk dit asof hierdie gelowige, vertrouende mense maar skaars is in ons dag. (Spr 20:6: “Baie gee te kenne dat hulle getrou is, maar wie kan ‘n werklike betroubare mens vind?”)

Ons almal is geraak deur die sondeval van Adam en Eva. Nie een van ons doen altyd die regte ding nie, maar geloof is die sleutel tot oorwinning. Ons word aangemoedig om te groei in die geloof sodat ons groot oorwinnings sal ervaar in die Naam van Jesus. Johannes sluit hierby aan in 1 Joh 5:4 met hierdie woorde: “enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur die geloof.”

Vertroue volkome op God te midde van ‘n ongelowige wêreld. Hy lei ons van oorwinning tot oorwinning – van heerlikheid tot heerlikheid!


css.php