VRY OM JOUSELF TE WEES

Avatar photo

Sosiale mobiliteit verwys na die tendens dat mense dikwels ‘n sterk drang het om hoër te klim op die sosiale leer in terme van sosiale status, inkomste, woonbuurte, motors, blyplek ensomeer. Quentin Crisp het die volgende gesê oor sosiale mobiliteit: “Keeping up with the Joneses was a full-time job with my mother and father. It was not until many years later when I lived alone that I realized how much cheaper it was to drag the Joneses down to my level.”

Sommige mense probeer beïndruk – hulle wil hulself verhoog bó ander op grond van hul sosiale stand, opleiding en leefstyl. Hulle glo dat wanneer jy “well-bred, well-fed, well-read and well-wed” is, sal jy ware geluk vind. Dit maaks my anders en beter as ander mense. Dit plaas my in ‘n spesiale kategorie.

Dan kry jy ander mense. Hierdie simbole beteken nie veel vir hulle nie. Hulle is min bekommerd oor hoe mense hulle sien. Hulle poog om die standaarde uit te leef wat hulle vir hulself gestel het. Hulle probeer om elke dag getrou te wees aan die persoon in die spieël. Hulle weet wat dit beteken om vry te wees. Hulle is vry van dit wat ander mense van hulle dink. Hulle hoef nie ander mense die heel tyd te “please” nie. Hulle is nie geprogrammeer om op ‘n sekere manier op te tree net omdat mense dit van hulle verwag nie. Onthou die volgende: “Be yourself. Everybody else is already taken.”

Leo Buscaglia het die volgende gesê: “The easiest thing to be in the world is you. The most difficult thing to be is what other people want you to be. Don’t let them put you in that position.”  Dit is advies wat die moeite werd is om na te volg. Wie sal besluit wat jy sal doen? Wie sal besluit wie jy sal wees? Wie sal besluit wat is vir jou belangrik? Wie stel jou standaarde? Wie wil jy regtig beïndruk? Iemand anders of jouself? Jy kan nie almal gelukkig hou nie – jy moet ook nie probeer nie.

Die beste weg is om die mens te wees wat God wil hê jy moet wees. Hy het jou mos uitgedink nog lank voor jou geboorte. Hy het vir jou die persoonlikheid, talente en gawes gegee om jy te wees, anders as ander mense. Groei na jou ware self. Groei na jou beste weergawe, soos God jou beplan het. Dit is ware vryheid! Onthou dat God jou geskep en gevorm het – jy is vir Hom kosbaar – Hy ag jou hoog – Hy is baie lief vir jou soos jy is. Ontdek die skatte in jouself en omhels dit. Lees tekste soos Jes 43:1-4; Jer 31:3; Jos 1:9; Matt 5:8-12; Spr 3:5-6. Word geïnspireer deur dit wat God in jou geplaas het. Leef jou eie identiteit in Christus.


css.php