Klim die leer van nederigheid!
Sint Benediktus het in die sesde eeu al vir ons sy leer van nederheid as ‘n gawe gegee. Hierdie leer is vandag net so relevant as in sy tyd. Hy wys vir ons hoe ons kan ‘n groei in die genade van nederigheid – hoe ons kan groei in die liefde van God sodat ons totale menswees daardeur geraak word. Ons wil nie graag hierdie leer klim nie. Dit word nie bedoel as ‘n metode of resep tot nederigheid nie. Dit gee vir ons egter ‘n aanduiding van hoe moeilik dit is om soms die pad van nederigheid te stap. Alles in ons bied weerstand teen elke tree wat ons neem, maar dit is egter die weg tot ware liefde en vryheid.
Trap 1, heel onder: ‘n Heilige respek en eerbied vir God – ‘n bewus wees van sy teenwoordigheid, want ons tree dikwels op asof Hy nie teenwoordig is nie.
Trap 2: Doen God se wil, nie jou eie of ander s’n nie. Dis die begin van innerlike transformasie.
Trap 3: Wees gewillig om jou te onderwerp (sonder enige murmurering) aan die raad en leiding van ander. God se wil kan ook deur ander na ons kom – so gee ek my arrogansie en magsgevoel prys.
Trap 4: Wees geduldig met die probleme van ander. Die lewe met ander is nie altyd maklik nie. Ons gee ander ‘n kans om hul eie swahhede uit te sorteer op hul eie manier en op hul eie tyd.
Trap 5: Radikale eerlikheid teenoor ander oor ons swakhede en foute. Ons hou op om ons te verbeel ons is iets wat ons nie is nie. Ek erken my swakhede en beperkinge teenoor ‘n vriend / in, huweliksmaat, ouer of iemand anders wat omgee vir my ontwikkeling.
Trap 6: Wees diep daarvan bewus dat jy die grootste sondaar is (1 Tim 1:16). Ek sien myself as potensieel swakker en meer sondig as al die ander om my. Dit maak ons sag en menslik.
Trap 7: Om minder te praat. Dis naby die top van die leer – want dit gaan oor ‘n lewe wat God soek en gevul is met sy wysheid. Wyse mense is bekend met hul min woorde.
Trap 8: Getransformeer in die liefde van God. Daar is geen hoogmoed, sarkasme, arrogansie, gevoel van belangrikheid. Ek omhels my beperkinge en dié van ander. Ek weer hoe broos en breekbaar ek is. Ek is tuis met myself en gelukkig om te vertrou op die genade van God. Alles is vir my ‘n gawe.
Om die leer van nederigeheid te klim is nie maklik nie. Hierdie leer laat ons opnuut nadink oor my plek voor God en die mense. Waar wil ek wees en waar wil God my hê? Sal ek en jy nie aanstap agter Jesus aan nie. Hy is die voetewasser! Hy is sagmoedig en nederig van hart (Matt 11:29).
Recommended Posts
POPI Wet
02/08/2021
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021