Vyf wenkeuses!
In 2 Kor 5:17 lees ons hierdie besondere woorde: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”
Almal wonder oor Rassie se strategie hierdie komende saterdag – wat sal dit wees? ‘n Vorige kaptein van die Engelse span praat met lof van sy pragmatiese benadering. Ons sal saterdag sien – want teen die Engelse sal daar ‘n besliste plan moet wees. Daardie plan sal neerkom op ‘n paar keuses wat die Springbokke as span moet maak – ons noem dit wenkeuses – keuses om te kan wen. Ons sien daarna uit om dit mee te maak.
Daar is ook wenkeuses wat ons as die Here se kinders moet maak – keuses wat ons kan uitoefen om by ‘n oorwinnende lewe te kom. Hier is so ‘n paar wenkeuses:
- Jy kan kies om gesonder te leef. In plaas daarvan om te kla dat jy nie ‘n Olimpiese liggaam het nie, vind jy ‘n paar planne om jou energie te verhoog, jou stres te verminder, meer slaap in te kry en gesonder te eet. Die Psalmdigter herinner ons in Ps 119:73 dat God ons met sy eie hande gemaak en gevorm het. Jou liggaam is God se gawe aan jou! Verbeter die beheerbare faktore in jou lewe – dit verminder die impak van die onbeheerbare faktore wat oor jou pad kom.
- Kies om jou verhoudinge te verdiep. Die vrees vir verwerping verhoed dikwels dat ek ‘n goeie konneksie maak in my verhoudinge. Die manier om van vrees ontslae te raak is om soms juis die ding te doen wat jy die meeste vrees. Leer kommunikasie vaardighede aan, vervang swak verhoudinge, reik uit en neem die risiko om met iemand vriende te maak. Laat ons die liefde nastreef in ons verhoudinge (1 Kor 14:1).
- Kies om God te vertrou, maak nie saak wat gebeur nie. Dis wat die Psalmdigter wil doen in Ps 34:1, “Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.” Wanneer jy dit kan sê, ongeag jou omstandighede, het daar in jou hart ‘n geloofsvrymoedigheid ontwikkel wat jy nie in Hollywood of in Wallstraat gaan kry nie. Dis geloof wat gebou is op ‘n verhouding met God!
- Jy kan kies wat in jou gedagtes aangaan. Deur die loop van die 20e eeu het wetenskaplikes geglo die brein kan nie verander nie. Die wenner van die 2002 Nobel Vredesprys het egter bewys dat jy instaat is om jou brein te “herbedraad”. So het die wetenskap uiteindelik die Bybel ingehaal: “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” (Rom 12:2). Jou “self” word geskep deur jou herinneringe en jou herinneringe word geskep deur jou denk-gewoontes. Voed jou brein met die beste wat daar is – die Waarheid van God, sy Woord.
- Laastens, jy kan Jesus kies as jou Verlosser. Hy verlos ons nie net van ons sonde nie, Hy is ook my Verlosser van elke dag. Wanneer jy toelaat dat Jesus jou verlos, gee Hy jou die vermoë om elke dag jou wenkeuses deur te voer. Wanneer ek aan Jesus behoort, is ek ‘n splinternuwe skepping – die oue is verby – die nuwe het gekom!
God wil so graag seen. Hy kan nie wag om jou Metgesel en Begeleier te wees nie. Dis nooit te laat om hierdie verandering te beleef nie. Wanneer jy hierdie wenkeuses uitoefen, word jy ‘n wenner saam met Hom.
Recommended Posts
POPI Wet
02/08/2021
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021