Vyf Kernwaarhede wat jou sal vry maak!
Die gebeure in ons erediens op doopsondag, het my opnuut laat nadink oor die vyf kernwaarhede wat die Franciskaanse teoloog Richard Rohr ‘n tyd gelede gedeel het. Wanneer ons hierdie waarhede aanvaar, bring dit ongekende vrede en vryheid. Ons leef in ‘n selfgesentreerde tyd waar mense al meer op hulself fokus. Hierdie waarhede is goeie medisyne ten opsigte van meer realistiese verwagtinge in ‘n beperkte en onvolmaakte wêreld. Dink goed na oor die volgende:
- Die lewe is hard
Ons lewe in baie gemaklike tye met baie geriewe rondom ons. Ons hou nie van ongerief en lyding nie. Ons voorouers het verstaan dat lyding deel van hul lewens was. Wanneer ek besef en aanvaar dat die lewe soms hard kan wees, berei dit my voor om swaartye met grasie te hanteer. Dit bring ‘n vreemde soort vrede. Ons word vry van onrealistiese verwagtinge. Ons word dankbaar vir die vreugdes wat ons beleef (Joh 16:33).
- Jou lewe gaan nie oor jou nie.
As jy God wil laat glimlag, vertel Hom van jou planne. Hy het dalk ander planne vir jou. Soms dink ons dat ons lewens net gaan oor dit wat ons wil doen. My lewe raak ook God – en ander mense om my. Ware geluk kom nie wanneer ek begin kry wat ek wil hê nie, maar wanneer ek die Here begin vra wat Hy wil hê. Ek volg nie my eie ster nie, maar vir God. Dis waar ware vrede te vinde is. Dit sal goed wees om uit te vind hoe pas ek by God se plan in, nie waar pas Hy by my planne in nie (Matt 6:33).
- Jy is nie in beheer nie.
Beheer is ‘n illusie. Ek mag dink ek is in beheer, maar dis nie waar nie. More mag nooit kom nie. Ons pogings om te beheer en uitkomste te manipuleer is komies en dikwels skadelik. Beheer bring maar net meer angs en woede. Dit bring ‘n vreemde rustigheid wanneer jy besef jy kan nie alles beheer nie. Dit maak jou ‘n slaaf wanneer jy kommer oor onvoorspelbare dinge. Om te te laat gaan, is bevrydend (Jak 4:13-16).
- Jy is nie so belangrik nie.
Ek het gedink die hele wêreld draai om my. Ek het gedink dis net my gevoelens en gerief wat saak maak. Natuurlik het God my besonders lief, maar ek moet besef dat Hy ander ook net so liefhet. Daarom moet ek hulle respekteer. Die harde waarheid is dat ander mense soms belangriker is as ek. Hulle het my aandag en liefde intens nodig. Ek staan terug en dien hulle met Jesus se liefde. Die wêreld is nie daar net vir my nie. Wanneer ek dit verstaan en aanvaar, bring dit ongekende vrede en vryheid. Nou kan ek ook ander mense se belangrikheid vier (Fil 2:3).
- Jy gaan sterwe.
Dis hard, maar waar! Gaan stap vir ‘n slag deur die begraafplaas. Hulle wat daar te ruste gelê is was ook almal, soos ek en jy, opgewerk oor wat die lewe na hulle gegooi het. Hulle stryde is nou verby! Indien hulle getrou was, sal hulle nou by God wees. Hulle besef nou dat swaar tye nie vir altyd hou nie. Dus, maak gereed om God te ontmoet. Dis is my dringendste prioriteit. Dit maak ons vry van die oordrewe en teenstrydige eise van die wêreld om ons. Ons fokus op die één ding wat ons moet doen. My lewe word eenvoudiger en ek neem die lewe nie so ernstig op nie. Dit alles sal verbygaan.
Dink na oor hierdie waarhede. Trek hulle weer nader wanneer die lewe hard en vinnig na jou toe kom met sy agenda van beheer, self-belangrikheid, leë beloftes en perfekte gerief op die aarde. ‘n Eenvoudige, sober, nederige en gefokusde lewe bring vrede en vryheid.
Recommended Posts
POPI Wet
02/08/2021
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021