Vrugte wat sal hou!
Jesus sê vir sy dissipels in Joh 15:16: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.”
God se sending is bedoel vir almal wat aan Hom behoort. Hy het ons gekies om uit te gaan en vrugte te dra. Daar is nie genoeg sendelinge in die wêreld om God se missie te vervul nie. Daarom wil Hy vir my en jou ook gebruik waar ons woon en werk. Ons is ook sy sendelinge wat vrugte sal dra.
Vrugte is ‘n metafoor vir ‘n suksesvolle, groeiende, florerende, produktiewe lewe. Jesus wil hê dat ons vrugte sal dra wat sal hou. Hier teen die einde van die jaar word ons moeg, uitgeput en oorlaai. Ons is nie altyd lus om vrugte te dra nie, ons wil nou net die werksjaar eindig dat alles klaarkom en ons kan gaan rus. Nee, Jesus gee vir ons vrugte wat sal hou – deur elke tyd van ons lewens. Ook wanneer ons met vakansie gaan, gaan ons nogsteeds goeie vrugte dra wat sal hou.
Meeste van dit wat ons doen sal nie hou nie. Dit sal ook nie vir altyd onthou word deur ander nie. Niemand sal na tien jaar vanaf my afsterwe die meeste dinge onthou van wat ek gedoen het nie. Hulle sal nie omgee vir die flieks wat ek gesien het, die boeke wat ek gelees het, die vakansies wat ek geniet het nie. Dit sal alles vergete wees. Jesus wil egter hê dat ek iets sal doen wat sal hou en wat vir altyd onthou sal word. Daar is twee dinge wat regtig sal hou: die waarheid en mense.
Dink aan die volgende situasie: iemand kom na jou toe eendag in die hemel:
“Ek wil net vir jou baie dankie sê!”
“Vir my dankie sê?” “Ek ken jou nie eers nie?”
“Jy’s reg, jy ken my nie, maar jy was betrokke by ‘n bediening, ‘n uitreik- of noodsorgprojek by jou kerk. Jy het iets gedoen wat my moed gegee het, jy het my help glo in God, dat ek Hom beter kon leer ken. Ek is in die hemel as gevolg van jou! Ek is vir altyd jou vriend, jou broer en suster in Christus!”
Niks wat jy doen is meer belangrik as om mense te help om die bestemming van hulle lewe te bereik nie. Dit is vrugte wat sal hou! William James het gesê: “The greatest use of your life is to invest it in that which outlasts it.” Niks wat jy doen is meer belangriker as om mense te help om die ewige lewe te ontvang. Met jou lewe gaan jy hulle aanraak en inspireer om hulle verhouding met God reg te maak. Wat ‘n onuitspreeklike voorreg!
Jy mag dalk ‘n onderwyser wees, ‘n boekhouer, ‘n tuisteskepper, afgetree, ‘n nutsman. Jou grootste roeping is om die gawes wat God vir jou gegee het te gebruik om ander mense te help om hulle harte oop te maak vir God se nuwe lewe. So dra jy vrugte wat sal hou.
Recommended Posts
POPI Wet
02/08/2021
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021