Geestelike hand-higiëne!

COVID-19 – Uitdaging of geleentheid?

Liewe Garsfontein gemeentefamilie

Op 15 Maart 2020, het president Cyril Ramaphosa,  ‘n dringende oproep tot alle Suid Afrikaners gerig om saam te werk in die stryd teen die Corona-Virus (COVID-19). Een van die maatreëls wat ingestel is, is ‘n algehele verbod op samekomste wat meer as 100 mense behels, aangesien sosiale distansiëring een van die doeltreffendste voorsorgmaatreëls vir die verspreiding van die COVID-19 virus is. As geloofsfamilie, is ons gemeente by hierdie oproep ingesluit en is die welstand van alle mense vir ons belangrik. Hierdie maatreëls hou besliste uitdagings vir ons gemeente, veral ten opsigte van ons samekomste as geloofsfamilie in.

Ons erken die behoefte van gelowiges om in hierdie tyd juis die gemeenskap van gelowiges te beleef. Alhoewel die nuutste navorsing daarop dui dat infeksie in meeste gevalle nie tot ernstige simptome lei nie, dit nogtans gevaar vir ‘n spesifieke deel van ons samelewing inhou. Ons wil elke moontlike voorsorg tref om verspreiding te probeer bekamp, sodat die mees weerlose onder ons na die beste van ons vermoë beskerm kan word. Ons bely ons vertroue in die HERE se sorg en beskerming in hierdie uitdagende tye, asook ons oortuiging dat die HERE ons deur Sy Gees aanspoor om ons naaste lief te hê, soos onsself soos dit in Filippense 2:1-5 geskrywe staan:

Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was…

Om hierdie rede is besluit op die volgende reëlings en doen ons ‘n oproep aan die hele gemeente, om ons hierin te ondersteun, dat u uself sal beskerm, ander se vrese sal respekteer en dat ons steeds as kerk diensbaar sal wees tot mekaar en ons gemeenskap.

Eredienste en ander samekomste

Om hierdie rede is daar besluit dat, tot en met verdere kennisgewing, daar geen eredienste by die kerkterrein sal plaasvind nie. Eredienste sal voorts op video, asook klank formaat beskikbaar gestel word. Gesinne, groeigroepe of individue kan by die huis aan hierdie eredienste deelneem. Digitale uitsendings sal op ons webblad (nggars.org.za), NG Garsfontein Facebook blad, Youtube kanaal, asook nuwe Whatsapp groep beskikbaar gestel word teen 09:00 op elke Sondag. Volledige skakels vir hierdie uitsendings sal later in die week gekommunikeer word.

Alhoewel die Corona-Virus ‘n uitdaging vir ons gemeente, in terme van enkele aspekte van ons gemeentebediening inhou, is ons daarvan oortuig dat hierdie uitdagende tye juis ‘n ideale geleentheid bied om ons roeping as liggaam van JESUS CHRISTUS uit te leef, en ook in ons omgang met hierdie pandemie die voorbeeld van JESUS te volg. Alhoewel ons vir ‘n kort tydjie verhinder mag word om soos ons daaraan gewoond is kerk toe te “gaan”, bied die Corona-Virus aan ons ‘n besondere geleentheid om kerk te “wees”.

Binne ‘n tyd wat die fokus op ons hand-higiëne geplaas word, wil ons gesonde, Bybelse hand-higiëne toepas – anders gestel: ons wil JESUS se hande wees. Hier is praktiese wyses waarop ons dit kan doen:

Hande wat bid

In Jakobus 5 word ons herinner aan die belangrikheid van gebed in uitdagende tye, en dat die gebed van gelowiges ‘n kragtige uitwerking het. As gemeente wil ons intree in gebed vir ons land en sy mense, en baie spesifiek vir elkeen wat reeds direk deur die Corona-Virus geraak word, asook vir ons dokters en mediese personeel. Ons gaan vir die komende tydperk weekliks gebedspunte kommunikeer, waarvoor ons as gemeente (hetsy individue, gesinne of groepe) kan bid.

Hande wat dien

Die kerk was nog altyd geroep om in krisistye, nie uit vrees in hulself te onttrek nie, maar juis uit liefde uit te reik na ander in nood – hierdie moet ook waar wees vir ons gemeente. As gemeente wil ons ons gemeenskap dien op die volgende wyses:

  • Deur te hou by die riglyne vir persoonlike higiëne, sodat ons nie ons eie, of ander se welstand in gedrang bring nie. Indien jy simptome toon, is dit beter om enige sosiale samekomste te vermy en dadelik die COVID-19 hulplyn-nommer te skakel: 0800 029 999.
  • Deur die skenking van hand-skoonmaak-middels, immuun-medikasie, handskoene en ander mediese hulpmiddels aan persone wat nie hiertoe toegang het nie, byvoorbeeld: hawelose persone, motorwagte, huishulpe, ensomeer.
  • Vanweë die skielike sluiting van die skole in ons omgewing, kan ons werkende lidmate help deur hul kinders op te pas.
  • Indien jou firma se werksaamhede ongedeerd kan voortgaan, kan jy persone wie se werk weens COVID-19 maatreëls gestaak is, in diens neem – eerder as om te “out-source”.
  • Bejaardesorg, veral in terme van hulp met inkopies en basiese benodighede, aangesien bejaardes deel van die hoë-risiko groep uitmaak.
  • Kontak asb. die kerkkantoor indien u op enige van hierdie of ander wyses kan help, of indien u hulp benodig.

Hande wat gee

Die tydelike afskaffing van eredienste hou finansiële uitdagings vir gemeentes en hul dienswerk in. Ons is ook daarvan bewus dat baie mense tans sonder inkomste is, vanweë die COVID-19 maatreëls, en dus finansiële ondersteuning benodig. Daarom versoek ons u om steeds voort te gaan om op een van die volgende wyses u weeklikse erediens-dankoffers, en enige finansiële bydraes te gee, sodat ons gemeente op volhoubare wyse met ons werksaamhede kan voortgaan en ander se nood kan help verlig.

Indien enige iemand hulp of ondersteuning benodig, kan julle gerus die kerkkantoor of enige van ons leraars kontak. As gemeente sal ons mekaar in hierdie tyd omarm, ondersteun en dien – saam met Christus en saam met mekaar sal ook hierdie stormagtige tye weer tot bedaring kom,

Tot dan – kom ons pas gesonde, geestelike hand-higiëne toe.

Baie liefde en groete

Dr. Gavin Meistre en Dr. Jaco Barnard

Spesiale reëlings rondom dienste tydens Paasnaweek word nog gefinaliseer en sal binnekort aan die gemeente gekommunikeer word.


Recommended Posts

css.php