Ons stap deur die vallei!

Avatar photo

Op Dag 21 van die inperking is die hele storie nie meer so snaaks nie… So voel baie van ons altans – juis omdat dit so onnatuurlik is om ontneem te word van normale beweegruimte. Ons breine en liggame soek daardie uitbeweeg, rondbeweeg en ruimtelike diepte-perspektiewe om ons. Ons wil nie net naby sien nie, ons wil ook ver sien, maar nou kan ons nie altyd nie. Dis hoe ons gemaak is – om spontaan te leef en te beweeg. Die eerste week het dit amper soos ‘n vakansie gevoel en was dit lekker om vir ‘n slag bymekaar te wees en mekaar te geniet. Maar nou begin ons te wonder oor hoe hierdie saak verder gaan uitspeel. Ons raak bietjie bekommerd oor praktiese dinge, oor ons werksituasies, ons land se ekonomie, ons bejaarde ouers, ons kinders en die skoolwerk. Ons raak veral bekommerd oor ons innerlike welsyn, dat ons nie sal verval in gedagtes van angs en paniek nie. Nou verstaan ons hoe mense in ons gevangenisse moet voel wat vir jare agter slot en grendel sit. Nou verstaan ons hoe Noag en sy mense in die ark moes gevoel het. Gelukkig het hulle baie diere gehad wat hulle besig gehou het.

Hoe sal ons dit maak om so in isolasie te wees – wat sal gebeur na 30 April? Gaan die President dan weer mooi met ons praat?

Jy het Psalm 23 al baie gelees. Vandag moet jy dit weer lees. Psalm 23 bied vir ons soveel troos ten opsigte van die vallei wat ons nou in die gesig staar. Soos wat hierdie pandemie oor die aarde versprei word ons bewus van die mediese en finansiële uitdagings wat dit aan ons almal bring.

Psalm 23 bring troos en hoop vir dit wat ons nou beleef! Ons stap nou almal deur ‘n vallei vol donker skaduwees. Hou vas aan hierdie belangrike waarhede in hierdie tyd van inperking:

Jy is nie alleen nie

God stap saam met ons deur die vallei. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.” (Ps 23:4). Hoe hanteer ek die lewe se skaduwees? Deur na die lig te draai. Jy kan nie tegelyk die skaduwee en die lig sien nie. Jesus het gesê Hy is die Lig vir die wêreld. Wie Hom volg sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee (Joh 8:12).

Daarom, moenie fokus op dit wat jou bangmaak nie. Fokus op Jesus! Hy is daar by jou waar jy nou is. Wanneer jy op Hom fokus, stel jy jouself oop dat God in jou en deur jou kan werk op ‘n kragtige wyse. Jy sien Hom nie, maar Hy is daar by jou. Valleie is anders vir gelowiges as vir ongelowiges. Vir gelowiges beteken dit nie die afwesigheid van die skaduwees nie, maar die aanwesigheid van die Herder.

God het ‘n doel met hierdie vallei

Psalm 23 vertel ons oor en oor dat God aan die werk is vir ons eie beswil. Hy gee vir ons alles wat ons nodig het in elke tyd van ons lewens, ook in hierdie valleityd (vs 1): Hy gee rus (vs 2), Hy gee krag (vs 3), Hy lei ons op die regte paaie (vs 3), sy goedheid en liefde is altyd by ons (vs 6). God kan nie enige kwaad doen nie. Dis die boodskap van die Bybel. God gebruik hierdie moeilike dae vir ons eie goed. Hy gebruik die moeilike tye van ons lewens om ons karakter te bou. Paulus sê dit in Rom 5:3-4: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie.” Ons vallei word ‘n poort na ‘n nuwe toekoms (Hos 2:15). Dit sal God ook met hierdie vallei doen! Dit sal vir ons ten goede meewerk. Daar is ‘n doel agter dit alles. Deur die valleie kom ons uiteindelik by die oorvloedige weivelde van rus en die Herder se geestelike oorvloed.

Ons beloning sal vir altyd hou.

Dit maak nie saak wat met ons aardse liggame gebeur nie, hierdie is nie die einde van die storie nie. Die hemel is die moeite werd as ons nou deur die valleie moet beweeg. Ons sal beloon word vir ons getrouheid hier op aarde. Die hemel is rêrig en ons sal daar vir ewig wees. Geen vallei-ervaring sal ooit so lank wees soos ons tyd in die hemel nie. 2 Kor 4:17: “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”  Daarom eindig hierdie psalm op ‘n hoogtepunt: ons sál tuis wees in die huis van ons Vader vir altyd en ewig. Wat ‘n wonderlike vooruitsig!

Ek weet nie hoe jy tans hierdie vallei ervaar nie. Ek weet nie watter vrees jou soms in die nag wakker hou nie. Dalk is jy bang om siek te word. Dalk is jy bang ‘n geliefde word siek. Dalk is jy bang omdat jy jou werk kan verloor, of jou inkomste. Ek weet egter dat ‘n Herder saam met jou stap deur hierdie vallei. Ek weet dat God alles ten goede vir jou en my sal laat uitwerk. Ek weet die vallei sal nie vir altyd aanhou nie.

Neem tyd en week jou siel in Ps 23 vandag, ter will van jouself en jou dierbares.

Ons stap deur hierdie vallei en sien dit in die lig van die ewigheid. Open 21:4: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Hierdie is nie die einde van die verhaal nie. Moed hou vir die tydjie wat kom!


Recommended Posts

css.php