‘n Sterk fondament!

Avatar photo

Hierdie tyd verg ‘n geloofshuis met ‘n stewige fondament. Die winde waai, die storms woed – en my geloofshuis moet hou. Ons voel onseker oor baie dinge. Ons beleef soms emosies wat ons ondertoe wil trek, na wanhoop en moedeloosheid. Elkeen van ons beleef dit anders. Vir sommige is dit ‘n tyd van rus en ontspanning. Vir ander pak die donker wolke saam as hulle dink oor hoe hulle vorentoe moet oorleef.

My geloofshuis het ‘n sterk en stewige fondament nodig. Vir die goeie tye en vir die Covid-19 tye. Ons moet juis die goeie tye benut om sterk huise te bou op ‘n stewige fondament, sodat dit kan hou in die stormtye. 

Jesus vertel in Matteus 7 die verhaal van twee bouers; die een was wys en die ander een was dwaas. Die dwase man het sy huis net op sand gebou. Toe die storms kom het die huis ineengestort. Jesus verwys hier na mense wat sy waarhede hoor en ontvang, maar dit nie laat oorgaan na die praktyk van hulle lewens nie. Hulle maak nie daardie waarhede die praktyk van hul lewens nie. Hulle gaan doen dit nie. Hulle is soos hierdie dwase bouer wat op sand bou.

Die wyse bouer het egter sy huis op rots gebou. Toe die winde en storms kom het sy huis sterk gestaan. So is die persoon wat nie net Jesus se woorde hoor en ontvang nie, maar dit ook in praktyk gaan doen en uitleef.

In elke tyd het my geloofshuis ‘n sterk fondament nodig. Dit beteken dat ek goed sal nadink oor wat Jesus vir my sê, ook in hierdie Covid-19 tyd. Oor myself, my eie lewe, my vrese en bekommernisse, die onnodige skadelike dinge waaraan ek vashou, die dinge wat die mense om my raak, my kinders, kleinkinders, skoonkinders, ouers, skoonouers, broers en susters en ander familielede, my kollegas, my vriende, my verlede, my hede, my toekoms, my werk, my planne, drome en vooruitsigte. Jesus roep my op om sekere dinge af te lê en seker dinge te omarm. Daar is sekere dinge wat ek moet los, en sekere dinge wat ek van Hom moet ontvang en koester. Wat is daardie dinge vir jou? Dis gaan die verskil maak of ek in hierdie tyd geestelik gaan groei of nie. Dit gaan bepaal watter tipe fondament ek onder my geloofshuis gaan bou. Sal die fondament sand wees, of die Rots, Jesus!

Jakobus het nogal baie klem gelê om die praktiese deel van ons geloof, dat ons die woorde van Jesus ter harte moet neem, dit sal uitleef en sal doen, omdat dit vir ons die weg baan tot ware innerlike vryheid en vrede. In die eerste hoofstuk noem Jakobus drie voorbeelde van hoe ons God se waarhede in praktyk kan uitleef:

1. Jou tong sal onder beheer wees! “As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy himself. Sy godsdiens is waardeloos.” (Jak 1:26).

2. Jy sal ‘n omgee-hart hê!  “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan”. (Jak 1:27)

3. Jy sal ‘n skoon gemoed hê!  “en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”  (Jak 1:27)

Hierdie dinge is bewyse van ware Christen-wees. Dis juis die dinge wat ons nou in ons binneste en in ons huise moet begin beoefen: ‘n Gees-beheerde tong, ‘n omgee hart vol medelye en ‘n skoon en rein gemoed, vry van negatiwiteit en angs. In Joh 13:17 sê Jesus vir sy dissipels: “Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.” 

Kan jy sien wie is die gelukkige en geseënde mense? Dis hulle wat doen wat Jesus sê. Die seëninge van die hemel word op jou uitgestort wanneer jy dit doen. Ons kan verseker hiervan wees – dat ons baie baie, baie meer weet van God se waarhede as wat ons nou uitleef….Daarom begin vandag waar jy is met die mense wat saam met jou is! Begin sommer nou daar! Begin om dit te beoefen wat jy nou reeds weet. Soos wat jy meer begin weet, doen dit ook sommer! Nou is die tyd om ons geloof in praktyk oor te sit. Ek oefen dit in by my huismense rondom my. So bou ek my geloofshuis op ‘n baie stewige fondament, want ek volg Jesus in sy woorde.

Groete vir eers!

Gavin


Recommended Posts

css.php