Blaf jy by die regte boom?
“Laat die Gees ook nou ons gedrag bepaal” (Gal 5:25)
Die wêreld is begryplik in rep en roer met die pandemie wat oral kop uitsteek. Wat dit nog erger maak is die ander onaangename dinge wat die nuus haal: die oormatige vergrype van wetstoepassers, soveel so dat lewensverlies plaasvind aan die hand van sommige geweldadige lede van die “beskermingsdienste”. Hierdie vergrype kan natuurlik nie geduld word nie. Ook die uiterste geweld teen vroue in Suid-Afrika, dit is alles skokkende tendense! Hierdie misbruike was nog altyd by ons, maar die situasie rondom Covid-19 maak dit nog erger. Die situasie werk op mense se spiere. Dit bring angs, vrees en onsekerheid wat altyd die slegste uit ons na vore bring. Ons raak gefrustreerd en geïrriteerd, ons raak ongeduldig, ons oorreageer, ons word ongeskik, onsensitief, oorsensitief en die mees sagmoedigste Neelsies verander in die mees aggressiewe bullebakke. Kyk maar hoe mense hulle agter die stuurwiel gedra. Daar is dieperliggende dinge wat ons pla en dan borrel dit uit na die oppervlakte op onaangename wyses. So ontstaan ‘n gees van onbeheersdheid wat sleg is vir onsself en die mense op ons. Ons almal ly hier onder een of ander tyd.
In so ‘n tyd is dit nodig om net te gaan stilsit en te dink. Wie is ek en Wie s’n is ek? Wat is my waardes? Is ek op die oorlogspad? Is ek dalk met ‘n verkeerde oorlog besig? Ek baklei met die mense om my, maar eintlik is ek ongelukkig en gefrustreerd met myself en my lewensituasie? Ek blaf dalk by die verkeerde boom. Eintlik moet ek by my eie boom blaf. Dis dan wanneer ek moet onthou dat ek ‘n Gees-mens is. Ek het die Gees in my. Hy wil my rustig maak. Hy wil my leer hoe ek my frustrasies kan hanteer. Ek moet my oorgee aan die Gees, sodat Hy van my besit kan neem en ek sy vrug van selfbeheersing kan dra. Hy is nog altyd by my. Ek moet net bewus wees van Hom. So maak ons dit nie vir mekaar meer kompleks nie, maar eerder makliker.
Daar is ‘n wonderlike saamwerk tussen dit wat God doen en dit wat ek doen – ‘n heilige samewerking! God doen altyd eerste: Hy skep, onderhou, sorg en koester, Hy neem inisiatief! As Hy gedoen het, roep Hy vir my om ook te doen. Ek kan dan reageer in gehoorsaamheid, diens en liefde. God reik elke dag na my uit in sy liefde. Wanneer ek ‘n tree in die geloof begin neem na Hom, gebeur daar groot dinge. Die Bybel is vol sulke verhale. Met een tree in die geloof word die krag van die Heilige Gees in my lewe geopenbaar. Toe Josua gekonfronteer is met die vloedwaters van die Jordaanrivier (Jos 3), neem die leiers net een tree in die water – in gehoorsaamheid en geloof – en die waters droog op om ‘n pad vir hulle oop te maak deur die Jordaanrivier.
God het gedoen – Hy wag nou vir jou om te doen! Moenie wag totdat jy sterk of moedig voel nie. Beur voort in jou swakheid terwyl jy die regte dinge begin doen, ten spyte van jou vrees, onsekerheid en frustrasies. So werk jy saam met die Heilige Gees – so word jou karakter gevorm.
Die Bybel vergelyk geestelike groei met ‘n saadjie, ‘n gebou en ‘n kind wat groot word. Elke metafoor weerspieël aktiewe deelname van my kant af: die saad moet geplant en versorg word, die gebou moet gebou word – dit verskyn nie eendag uit niks uit nie. Kinders moet eet en oefening kry om te kan groei. Ons eie inspanning het niks te doen met ons verlossing nie – dit het God alleen gedoen aan die kruis. Ons het geen rol gespeel by ons verlossing nie. Ons inspanning kom wanneer ons die groeipad begin stap saam met die Gees. Ons word sommer baie kere in die Nuwe Testament aangemoedig om moeite te doen om te groei om soos Jesus te word. Kyk maar na verse soos Luk 13:24; Rom 14:19; Efes 4:3; 2 Tim 2:15; Heb 4:11; Heb 12:14; 2 Pet 3:14; Fil 3:12-14. Jy kan nie rond sit en wag dat alles vir jou moet gebeur nie.
Paulus verduidelik vir ons in Efes 4 :22-24 dat ons 3 verantwoordelikhede het in ons geloofsreis om soos Jesus te word:
1. Ons kies om die ou manier van doen agter te laat (Efes 4:22 “Hou dan op om te lewe soos julle vroeer gelewe het”.)
2. Ons verander ons manier van dink (Efes 4:23 “Julle gees en gedagtes moet nuut word”.) Paulus sê in Rom 12:2 dat ons getransformeer word deur die vernuwing van ons gedagtes. Die Griekse woord vir verander / transformeer is die woord: “metamorfose” – dit word gebruik in Rom 12:2 en 2 Kor 3:18. Vandag word hierdie woord gebruik om die wonderlike verandering te beskryf wat ‘n ruspe ondergaan na ‘n skoenlapper. Wanneer God die koers aandui in ons gedagtes, vind hierdie geestelike transformasie plaas in ons lewens. Ons word van binne af verander, ons word mooier, ons word vrygelaat om na groot hoogtes te vlieg.
3. Ons trek die karakter van Jesus aan Hoe doen ons dit? Deur nuwe bevrydende gewoontes te ontwikkel. Jou karakter is eintlik maar die somtotaal van jou gewoontes – dit is maar hoe jy op grond van ‘n klomp gewoontes optree. Efes 4:24: “lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig”.
Ons hoef nie met die Gees te “kompeteer” nie. Ons hoef nie sy werk vir Hom te probeer doen nie. Ons hoef nie sy werk “oor te vat” nie. Ek kan maar net doen wat ek moet doen. Ek werk saam met die Gees, sodat ek kan groei om soos Jesus te wees. Hierdie tyd is groeityd! Word bemoedig – en groei deur al jou laagtepunte. Die Here vat jou by die hand! Kom ons maak dit makliker vir mekaar en nie moeiliker nie.
Recommended Posts
POPI Wet
02/08/2021
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021