Ons geloof word getoets!

Avatar photo

Ons geloof word getoets in hierdie tyd. Ons gelowiges neem deel aan een van die grootste eksamens van ons lewens. Ons is in die skool van Jesus en ons skryf nou toets op toets. Gaan ons ons eie geestelike matriekeksamen slaag in hierdie tyd? Soms ervaar ons dat ons ons geloofstoetse erg dop. Ons besef ons swakheid en gebrokenheid. Ander kere is dit so ‘n wonderlike oorwinningsgevoel as ons deurkom, omdat ons daardie harde lesse goed geleer het. Ons begin nou agterkom hoe ons sekere situasies kan hanteer. Ons het die toets deurstaan!

In Deut 8:2 staan hierdie interessante vers: “Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.”

Hier staan dit nou duidelik: God het die Israeliete vir 40 jaar deur die woestyn gelei om hulle nederig te maak, om hulle te beproef en om te sien of hulle aan sy gebooie gehoorsaam sal wees. ‘n Beproewing is eintlik maar ‘n toets. Ons word getoets in ons verhouding tot die Here. Toetse kom na vore in alle tye, in goeie tye maar ook veral in moeilike tye. Daarom beteken dit ook dat nie alles wat die Here van ons vra op ‘n gegewe tydstip altyd maklik gaan wees nie. Dit is waarom Hy ons toets om te sien of ons gereed is vir verantwoordelikhede wat Hy op ons skouers plaas. Hy wil ook kyk of ons gereed is om te vorder na ‘n hoër vlak van verantwoordelikheid. Soveel dinge wat elke dag met ons gebeur is eintlik maar toetsinge van ons geloof.

Wanneer ons gemasker in ‘n lang tou moet wag en die diens is boonop vrotsleg, is dit ‘n toetsing van ons geloof. Wanneer my werkgewer van my verwag om iets te doen wat ek nie graag wil doen nie, is dit ‘n toets. Jak 1:2-4 sê dat beproewinge eintlik dit wat werklik in ons is na vore bring. Ons leer onsself en ons eie vermoëns die beste ken juis in tye van teëspoed. Petrus het nooit gedink dat hy Jesus ooit sou verloën nie, maar toe hy getoets is, was dit presies wat hy gedoen het (Matt 26:69-75). God word nie beïndruk deur dit wat ons sê ons gaan doen nie; Hy word beïndruk deur wat ons doen wanneer ons onder druk verkeer.

Ons word nie bevorder tot hoër vlakke van verwantwoordelikhede deur allerlei uiterlike takies wat ek uitvoer nie, maar omdat ons beproef en getoets is en ons volhard het en die toets geslaag het, al was dit hoe moeilik. Jakobus verwys hierna as hy sê: “Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinnaarsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. (Jak 1:12). Toetsinge wys hoe broos en swak ons in werklikheid is. Maar dit bied ook aan ons die potensiaal om te groei en standvastig te wees, omdat God vir ons help om sterk “geestelike bene” te ontwikkel.

Daarom: weet dat ons deur ‘n tyd van toetsing gaan. God wil ons “geestelike bene” sterk maak. Soms gaan ons die toets dop, maar ons gaan nie moed verloor nie, ons gaan nie tou opgooi nie. Ons gaan leer deur al hierdie ervaringe sodat ons geestelik sterker anderkant kan uitkom. Jesus is die Leermeester duisend! Hy help ons om elke beproewing te deurstaan sodat ons saam met Hom meer as oorwinnaars kan wees (Rom 8:37).


Recommended Posts

css.php