JOU TONG PRAAT DIE TAAL VAN JOU HART
Jesus het hierdie woorde in Matt 12:34 gesê: “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor”.
Hoe verander ek van ‘n baie kwaai persoon na ‘n vreedsame persoon? Dis eintlik nie ‘n geheim nie. Daar is net Een wat jou daarmee kan help, en Hy is die Heilige Gees. Hy vul jou met God se krag en liefde. Hy is die Wag in jou hart en die Wag voor jou mond!
1 Kor 13:5 sê dit duidelik: “[Love] is not easily angered” (NIV). Dus, as jy vol woede en aggressie is, kan omtrent enigiets jou ontstel. Maar wanneer jy met God se liefde gevul is, verander jou perspektiewe. Om met God se liefde gevul te wees vereis dat jy ‘n verhouding met God sal hê. Jou verhouding met Jesus sal bepaal hoe geduldig jy is en hoe goed jy jou woede bemeester.
Dit beteken dat jy kan verander. Jy kan dit doen deur die Heilige Gees. As Christen het jy God se krag in jou. Selfs in hierdie krisistye, wanneer mense hul werk verloor hetis, kinders dalk tuis is, mense in isolasie is – het jy al die krag en mag wat jy nodig het om die harde veranderinge in jou lewe aan te bring.
Dit begin by ‘n nuwe kyk na jou hart. Wat in jou hart omgaan kom na vore uit jou mond. Jou tong praat die taal van jou hart. Die tong kan baie dinge openbaar van die hart:
• ‘n Harde tong openbaar ‘n woedende hart
• ‘n Negatiewe tong openbaar ‘n angstige hart
• ‘n Grootpraterige tong openbaar ‘n onveilige hart
• ‘n Ooraktiewe tong openbaar ‘n onrustige hart
• ‘n Veroordelende tong openbaar ‘n skuldige hart
• ‘n Kritiese tong openbaar ‘n bitter hart
As jou tong ‘n hart openbaar wat kwaad is, vra God dan om jou seer hart te genees met sy liefde. Die woede in jou hart mag kom van gevoelens van verwerping, mishandeling, misbruik of ‘n gebrek aan liefde vanuit die verlede.
Jy moet weet dat Jesus omgee vir jou pyn. Hy kan die seer in jou hart vervang met sy vrede. Hy kan die onveilige gevoel vervang met sy krag. Soos wat jy aanvaarding ervaar in God se liefde, so sal jou hart verander om die vrug te dra van geduld en vriendelikheid. God het ons mos ‘n nuwe hart belowe in Eseg 36:26, “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee.”
Recommended Posts
POPI Wet
02/08/2021
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021