JY WORD ELKE DAG DEUR IETS BEHEER

Avatar photo

Wie dryf jou regtig in hierdie tyd? Wat dryf jou? Hierdie vraag gaan selfs verder as ons. Ons het alle rede om te vra wie presies in beheer is van ons land? Wie is in beheer van die Covid-Plan? Wie is in beheer van ons stadsraad met al die chaos van stakings. Wie is in beheer van al die motors wat deur die rooiligte jaag en nie by die stopstrate stop nie. Waarheen is ons oppad as alles so buite beheer raak? Ons word tans getoets tot die uiterste toe en dit is soms moeilik om kop bó water te hou. Ons word nie net getoets nie, ons word ook gedryf en beheer, maar deur wie of wat?

Lees opnuut Rom 6:12-13: “Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”

Jy word elke dag deur iets beheer. Jy word dalk beheer deur jou ego of die verwagtinge van ander mense. Dalk word jy beheer deur vrees, skuldgevoelens, wrewel of bitterheid. Dalk word jy beheer deur een of ander substans of gewoonte, maar jy word elke dag deur iets of iemand beheer.

Vryheid kom wanneer ek besluit wat my gaan beheer. As God nie nommer een in jou lewe is nie, dan is iets anders nommer een, en dit sal jou beheer met negatiewe gevolge. Wanneer Christus in beheer van jou lewe is, sal Hy jou altyd in die regte rigting lei. Dit begin alles by ‘n nuwe oorgawe aan God sodat God my lewe, my liggaam kan gebruik tot sy eer.

Wat is die weg om die beheer oor te gee aan Jesus?

  • Erken dat jy probeer het om God te speel in jou lewe
  • Erken dat jy nie jouself kan verander nie
  • Vra God nederig om jou te verander
  • Wees eerlik en vra iemand wat jy kan vertrou om vir jou te bid oor die dinge wat moet verander
  • Gee aan Jesus die eienaarskap van jou lewe – Hy het jou immers gemaak en gekoop met sy bloed

Wil jy regtig verander? Dalk sê jy oor en oor: “Ek is so moeg om te probeer en te misluk…”  Hou op om te probeer. In plaas daarvan, gee oor en vertrou die Here. Óf jy gaan op Hom vertrou, óf jy gaan op jouself vertrou. Die resultaat is óf vryheid óf frustrasie. Hoekom gee jy dit nie alles vir God nie. Jy het niks om te verloor nie.


Recommended Posts

css.php