BASAAR 2020!

Avatar photo

Augustus maand is altyd ‘n hoogtepunt in ons gemeente se jaar, want Augustus beteken dit is basaartyd! Soos met alle aspekte van ons gemeentebediening, het die COVID pandemie ons genoodsaak om ook nuut te dink oor ons basaar vir 2020.  Na baie gesprekke en deegliks oorweging het die Gemeenteraad dit goed gedink om ons basaar uit te stel tot later in die jaar, in die hoop dat ons dan reeds op ‘n groter wyse bymekaar sal kan kom. Dus is daar goeie nuus: die basaar is nie afgestel nie, maar bloot uitgestel en is ons sameroepers reeds besig met die beplanning vir hierdie geleentheid. Hier is die belangrikste inligting rakende hierdie jaar se basaar:

‘n Familiefees

Garsfontein gemeente is ‘n geloofsfamilie! En hierdie jaar verlang ons na mekaar aangesien ons nie mekaar gereeld kon sien en saamwees nie. Daarom wil ons ‘n ruimte skep waar ons weer saam met mekaar kan feesvier. Om hierdie rede is daar besluit op ‘n feesnaweek! Hierdie feesnaweek word beplan vir die naweek van 20 tot 22 November (in die hoop en geloof dat die inperkingsvlak teen daardie tyd nog verder verslap sal word en die klimaks van die pandemie dan reeds verby sal wees). Hierdie feesnaweek sal as volg verloop:

Vrydag, 20 November: Ons hou basaar!

Saterdag, 21 November: Joshua na die Reën vertoning

Sondag, 22 November: Kerssangdiens

Joshua na die Reën

Tydens die Saterdagaand van die gemeentefees, besoek Joshua na die Reën ons vir ‘n spesiale en intieme aand van musiek.

Joshua is een van Suid Afrika se topmusikante, en is veral bekend vir liedjies soos: Vir altyd (temalied van die film met dieselfde titel), Lig op die horison, Alles gee, en sy verwerking van Voshaarnooi (vir die film Ballade vir ‘n Enkeling).

Familie Pretdraf/Fun-Run

Nog ‘n nuwe toevoeging tot hierdie jaar se feesnaweek, is ‘n pretdraf (Fun-Run) vir die hele gesin. Hierdie pretdraf sal deel vorm van die basaarprogram op Vrydag, 20 November.

Ons sien uit om ‘n moeilike jaar, vol uitdagings, af te sluit deur ordentlik as familie saam fees te vier. Bid saam met ons dat dit wel moontlik sal wees. Indien die pandemie ons teen daardie tyd nie toelaat om saam te mag kom nie, sal ons alternatiewe reëlings vir die familiefees aan u kommunikeer.

Maar feesvier gaan ons beslis feesvier!


Recommended Posts

css.php