Wag op die Here!
“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink…” (Efes 3:20)
Ons bestee baie tyd in ons lewens deur te wag dat God ons gebede sal beantwoord. Ons ervaar dit ook veral in hierdie tyd waar ons vra dat die Here vir ons op verskillende vlakke uitkoms sal gee. Ons wag vir God se tydsberekening in ons eie persoolike lewens, ons families, by die werk en ook in ons geestelike lewens.
Wanneer ons vra dat God ons gebede sal beantwoord, is dit belangrik dat ons Hom sal toelaat om ons gebede te beantwoord wanneer en hoe Hy ookal dink die beste vir ons is. God se weë is altyd beter, groter en hoër as ons weë.
Wat sou in Sagaria en Elisabet se verhaal gebeur het as God dadelik hulle gebedsversoek sou toestaan van ‘n baba. Hulle sou inderdaad ‘n pragtige babatjie ontvang het wat hulle kon koester en liefhê. Maar God het die voldoening aan hierdie versoek uitgestel vir ‘n klompie jare. Toe Hy wel aan die versoek voldoen het, het Hy vir hulle Johannes die Doper gegee, die neef van Jesus. Hy was die enigste profeet wat die vervulling van die profesieë aanskou het en hy het ook opgetree as die voorloper en wegbereider vir Jesus.
Ons het twee probleme as dit gaan oor gebedsversoeke: ons vra te min en ons wil dit te gou hê. Efes 3:20 sê dat God oneindig meer kan doen as wat ons ooit kan bid of dink. Dink aan die grootste ding wat jy kan uitdink in jou verbeelding. God kan nog beter en groter as dit doen. Ja, ons kan maar kreatief wees in ons gebede. Ons kan maar vra vir wonderwerke, groot of klein – ja, selfs groter as ons verbeelding! As God ons gebede sou beantwoord presies soos wat ons dit sou vra of verwag het, sou dit beteken dat ons ingedoen word, want God kan baie meer en beter as dit.
Ons moet dankbaar wees dat God nie voldoen aan al ons gebedsversoeke nie. Hy weet beter en sy tydsberekening is perfek. Sy antwoorde is altyd baie beter en groter as ons versoeke.
Recommended Posts
POPI Wet
02/08/2021
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021