VERKEER JOU VRIEND / VRIENDIN IN PYN?
“Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.” (Rom 12:15) In die Message staan dit so: “Laugh with your happy friends when they’re happy; share tears when they’re down.”
Daar is nou baie mense om ons wat treur en pyn ervaar. Hoe kan ek en jy help? Dalk ervaar jy wat hier lees jou eie pyn vandag. Daar is iets interessants rondom pyn en vreugde. Wanneer jy vreugde deel, word dit verdubbel. Maar dis die teenoorgestelde met pyn. Wanneer jy jou seer en pyn deel, word dit gehalveer. Wanneer vriende deur ‘n krisis gaan het hulle vir jou nodig om hulle te help om die vrag te dra en sodoende die pyn te verminder.
Om jou vriend / in se pyn te deel is nie dieselfde as simpatie nie. Simpatie sê: “Ek is jammer jy kry seer.” Mense het nie jou simpatie nodig nie, hulle het jou empatie nodig. Empatie sê: “Ek kry saam met jou seer.” Simpatie staan op ‘n afstand, maar empatie kom nader.
Die hoogtse vorm van liefde is medelye – “compassion”. Medelye sê: “Ek sal enigiets doen wat ek kan om jou seer te stop.”
Jesus is telkens beweeg tot medelye in sy bediening hier op aarde. Hy het gedeel in mense se seerkry. Hy was gewillig om enigiets te doen om ander se seerkry te stop – Hy het selfs na die kruis gegaan. Hy was gewillig om aan die kruis te sterf om die seervan mense te stop. Dit is medelye!
Wat doen vriende vir mekaar? Hulle daag op! Hulle is daar vir mekaar. Wanneer hulle vind dat hul vriend/in hartseer is, is hulle ook hartseer – hulle sit en huil saam met hulle vriende. Hulle het nie goedkoop, kits opmerkings nodig nie, net om iets te sê nie: “alles gebeur vir ‘n rede; alles gebeur vir die beste; tyd sal die wonde genees; wanneer God ‘n deur toemaak, sal Hy weer ‘n venster oopmaak; daar is baie vis in die see; kyk hoe slegter gaan dit met dié of daai….” Hulle gee ook nie advies wanneer iemand nie gereed is daarvoor nie, of as iemand nie gevra het daarvoor nie. Jy praat ook nie ‘n vriend of vriendin uit hul pyn nie. Jy belowe ook nie dat alles okay sal wees nie, want jy kan nie so iets belowe nie. Jy daag op, praat baie min en luister baie en deel jou vriend se pyn en seer. Wys die medelye van Jesus!
Recommended Posts
POPI Wet
02/08/2021
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021