Koester selektiewe herinneringe!

Avatar photo

Paulus het ‘n besondere verhouding met Filippi gemeente gehad. Daar het ‘n vrou met die naam van Lidia, asook andere hul huise vir Paulus oopgemaak toe hy in die stad aangekom het. Die Filippi gemeente het ook gehelp om by te dra tot Paulus se sendingreise.

In Fil 1 dank Paulus die Here elke keer as hy aan die mense van Filippi dink, ook omdat hulle van die eerste dag af saam met hom gewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Wat interessant is, is dat die stad Filippi eintlik nie ‘n baie gelukkige plek vir Paulus was nie. Hy het eintlik baie vervolging en lyding ervaar gedurende sy verblyf in die stad.

Paulus is besig om hier selektiewe geheue toe te pas. Hy kies om nie te fokus op pynlike herinneringe in sy bediening in die stad nie. In plaas daarvan kies hy om sy opregte dankbaarheid uit te spreek vir die goeie dinge wat mense aan hom gedoen het.

Ons sit dikwels met hierdie probleem: ons is geneig om eerder die slegte dinge te onthou eerder as die goeie dinge. Klou jy nog vas aan sekere pynlike ervarings met mense in die verlede? Dalk het jy hierdie groot visse nog nooit van die hoek afgehaal nie. Jy kan nie daardie verhoudinge geniet nie want jy hou nog vas aan die verlede. Jy hou nog aan die pyn van die verlede vas. Jy kom agter dat dit eintlik jy is wat nog aan die hoek vas is. Jy het nie jouself van die hoek afgehaal nie.

Jy moet verstaan dat jou herinneringe ook ‘n keuse is. Clara Barton het die Amerikaanse Rooi Kruis gestig. ‘n Vriend het haar herinner aan ‘n baie wrede ding wat iemand teenoor haar ‘n paar jaar gelede gedoen het. Die vriend vra haar toe of sy dit onthou? Haar antwoord was: “No, I distinctly remember forgetting it.”

My herinneringe is ‘n keuse. Indien jy nog wil vashou aan jou pynlike herinneringe, gaan gerus voort…maar jy gaan nie gelukkig wees nie en jy sal nie floreer nie. Paulus het baie rede gehad om te fokus op pynlike herinneringe. In plaas daarvan het hy gekies om dankbaar te wees oor die mense in sy lewe en die rol wat hulle in sy lewe gespeel het.

Kom ek en jy doen dieselfde vandag. Ons fokus op die goeie dinge van gister en vandag en koester dit met ons hele hart. So bou ek aan ‘n florerende vandag en more!


Recommended Posts

css.php