God gebruik selfs die foute wat ek begaan het….

Avatar photo

Rom 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Kom ons wees maar eerlik  – ek en jy kan maar simpel goed aanvang van tyd tot tyd. Ons begaan baie foute. Maar daar is niks wat jy kan doen wat buite God se kapasiteit val om selfs dit tot sy guns te gebruik nie. Ons maak foute, maar God nie. Wanneer ons foute begaan, kan God ook dit laat inpas ten goede.

Hierdie is egter nie ‘n belofte vir almal nie. Dit geld nie vir mense wat in rebellie leef teenoor God of mense wat nie leef volgens God se doelstellings nie. Hierdie is ‘n belofte vir mense wat graag na God se doel wil leef, al begaan hulle foute. Ek wil graag die regte ding doen, ek wil graag Jesus volg en op Hom vertrou. Wanneer dit my gesindheid is, sal God al my foute ten goede gebruik.

Dis ‘n belangrike rede om bly te wees! Wanneer jy jou lewe in God se hande plaas beteken dit nie dat jy skielik foutloos word of nooit foute sal begaan nie. Jy sal nogsteeds swak besluite neem – jy sal nogsteeds soms opmors, maar God pas dit alles in by sy plan vir my lewe. Is dit nie wonderlike nuus nie?

Daar is nie ‘n Plan B vir jou lewe nie. Voor jy gebore is het God al klaar geweet van al die foute wat jy gaan maak. Hy het ook geweet hoe Hy daardie foute sou inpas by sy groot plan met jou lewe. Wat beteken dit alles? Jy kan maar ontspan en ophou angstig wees oor jou lewe en die foute wat jy begaan het. Doen jou bes met dit wat God vir jou gegee het. Jy kan leef met vertroue en vreugde, wetende dat God alles in jou lewe sal inwerk in sy plan vir jou lewe.


Recommended Posts

css.php