Vuurwarm Harte!

Avatar photo

Wanneer laas was jou hart vuurwarm aan die brand? Dalk , voel jy,  is daar tans geen rede waarom jou hart vuurwarm moet wees nie. Inteendeel – daar is soveel rede waarom jou hart koud en swaar is. Jy voel glad nie lekker vandag nie! Luk 24 vertel van twee manne wat oppad was na Emmaus, so 12 km vanaf Jerusalem. Hulle liggaam en gees is uitgeput  – daar het net te veel dinge gebeur die afgelope tyd wat hul hoop en verwagtinge geskok het. Hulle kon nie al die spanning en teleurstellings van die afgelope week hanteer nie. Hulle harte is swaar! 

‘n Man sluit toe by hulle aan – ‘n totale “vreemdeling”. Hulle het hom nog nooit gesien en ontmoet nie. Hy is dalk ‘n ekstrovert, ‘n spontane geselser – wat sommer ongevraagd kom geselskap soek. Hy stel belang en vra uit waaroor hulle so intens gesels. Hy kan sien daar is baie wat hulle pla. Die man lyk na ‘n “toeris” wat sommer hier deur beweeg, want hy weet skynbaar niks van die dinge van die afgelope naweek in Jerusalem nie. Hy vra uit en hulle vertel hom alles, ook van die nuutste  berig van sommige hoogs emosionele vroue – dat Jesus se liggaam weg is uit die graf…

Maar, daar’s iets anders aan hierdie man – hy luister goed en diep…..dis asof hulle harte ligter word soos hulle vertel.  En toe begin hy te praat – hulle is verbaas – hy is toe al die tyd BAIE GOED ingelig!  Hy praat so met gesag. Hy spreek hulle sommer aan oor hulle gebrek aan geloof en traagheid van begrip. Hy begin te gesels oor al die profetiese uitsprake oor die Messias wat sou kom en hoe alles die afgelope naweek in vervulling gegaan het. Hulle is verstom oor sy insig. Hulle het dit nog nooit so gehoor nie. Hulle wonder of die ander dissipels dit ook so verstaan – hulle kan nie wag om dit met die ander te deel nie. Hulle is so opgewonde oor hierdie man se insig, dat hulle hom nooi om oor te bly by hulle. Toe hy die seën vra by die ete, gaan hulle oë oop. Dis Jesus! – en toe verdwyn Hy!

“Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” Hulle harte was so aan die brand – dat hulle daar en dan teruggegaan het na Jerusalem om vir die ander te vertel wat gebeur het.

So stap Jesus saam met ons – soms voel dit of Hy ver is, maar Hy is nie. Hy stap saam met ons. Soms “sien” ons Hom nie – ons omstandighede is te veel – ons harte te swaar. Ons laat toe dat ons probleme ons so oorheers dat ons Hom nie sien nie, maar Hy stap saam om ons te bedien en ons voete te was. Hy lê die Skrifte vir ons uit sodat ons kan verstaan en bemoedig kan word. Hy bekragtig ons deur sy Gees en vul ons met inspirasie en nuwe visie. Hy neem die swaar weg en maak ons harte weer brandend. Sien jy vir Jesus langs jou? Hy het opgestaan en die dood oorwin! Hy sal jou nooit los nie. Haal jou oë vir ‘n slag af van jou probleem en kyk na Hom! Jy sal sien Hy is BAIE groter as jou probleem. Hy verander ‘n swaar hart na ‘n vuurwarm hart wat oorloop van geloof, hoop en liefde. Hy gee my sommer nuwe krag vir my lewe elke dag.


Recommended Posts

css.php