Die finale gesag in jou lewe
Jer 17:9 praat oor die hart van die mens: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?” Hierdie woorde van Jeremia herinner ons aan die vloeibaarheid en wisselvalligheid van die hart van die mens.
Daar is een fundamentele vraag in die lewe wat kop en skouers bó ander uitstaan: Waar lê die finale gesag in jou lewe? By wie of wat lê die finale sê in jou lewe? Is dit jou ouers? Jou kollegas? Jou vriende? Jou beroep? Die boeke wat jy lees, die koerant? Die mense wat jy volg op sosiale media? Die TV programme waarna jy kyk? Die internet?
Al hierdie bronne sal jou waardes vorm indien jy dit toelaat. Jou waardes sal uiteindelik bepaal wat die finale gesag in jou lewe het. Wie of wat het die finale gesag in jou lewe? God laat jou toe om te besluit want jy het ‘n vrye wil ontvang.
Meeste van jou opsies val in drie kategorieë:
Jou opinies: Jy kan staatmaak op jou eie insigte om vir jou te sê wat jy moet doen, maar daar is ‘n probleem met dit. Ons persepsies is dikwels foutief, subjektief en gekleur deur selfbelang, sodat ons dit soms regkry om vir onsself te lieg. Daarom die woorde van Jeremia in Jer 17:9.
Die wêreld: Jy kan staatmaak op wat ander mense dink om jou waardes te bepaal. Mense heg egter dikwels waarde aan verkeerde dinge. Die wêreld beklemtoon byvoorbeeld skoonheid bó karakter. Die wêreld spoor jou aan om dinge wat jou goed laat voel na te jaag, en wie ookal die meeste besittings het, is die wenners! Jy word daagliks met hierdie wêreldse waardes gebombardeer deur al die media. Nou kan mens maklik aflei dat God jou op hierdie planeet geplaas het om goed te lyk, goed te voel en om goed in die hande te kry. Dit is egter nie waar nie!
God se Woord: God se Woord is objektief en waar – anders as jou eie persepsies of die wêreld se opinies. Jesus sê in Joh 8 dat ons die waarheid sal ken en die waarheid sal ons vry maak.
Die keuse is baie duidelik. Daar is net een gesag wat altyd betroubaar is en wat jou nooit sal laat afdwaal of mislei nie. Laat God se Woord jou waardes vorm. Gee sy Woord die finale gesag in jou lewe.
Recommended Posts
POPI Wet
02/08/2021
Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!
01/07/2021
Kyk weer ‘n slag na die sterre!
24/06/2021