Kyk weer ‘n slag na die sterre!

Wanneer laas het jy op jou rug gelê en sterre kyk? Vanweë die veiligheid hier in die stad, asook die koue van die winter, sluit ons onsself veilig agter slot en grendel toe, en kuier veel eerder voor ‘n warm kaggelvuurtjie – vir sterrekyk is daar nie veel tyd nie. Maar dalk is dit juis nou nodig om jou warm baadjie aan te trek, die buitelig af te sit, en met ‘n warm beker koffie/tee/milo vir ‘n tydjie buite te gaan sit en net die sterre te bewonder.

Jy sien – heelwat navorsing is al deur die jare gedoen, en onlangse studies bevestig opnuut weer dat wat ons “sien”, ‘n direkte invloed het op wat ons dink, hoe ons voel en wat ons doen! Daarom is dit wat ons met ons oog sien, baie belangrik. Juis hierin lê die uitdaging vir ons in die tyd waarin ons tans leef, aangesien dit wat ons met die oog sien dikwels met uitdagings en probleme te make het: nog ‘n nuusberig oor die stygende COVID getalle, nog ‘n uitstaande rekening van ‘n instansie wat met regstappe dreig as ek hulle nie binnekort betaal nie, nog ‘n plaasaanval, nog korrupsie, nog ‘n nuwe boemelaar gesig by ‘n robot, my toetsuitslae wat wys my kanker is terug, en nog meer. Ons sien daagliks met ons eie oë hoe ons geliefdes en medemens swaarkry. En dit maak dat ons ver moet soek na iets wat ons eie gemoed opbeur en ons hoop gee vir die toekoms. Wat is dan die alternatief? Is daar ‘n alternatief?

Gaan sit buite en kyk na die sterre!!! Dit is die raad wat die Psalmdigter vir ons gee:

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring. As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? (Psalm 8:1-5)

Natuurlik gaan dit oor meer as sterre kyk. Dit gaan eerder oor waaraan ek en jy herinner word wanneer ons tyd neem om na die sterre te kyk. Sterrekyk herinner ons dat die God wat alles in die hemelruim geplaas het, dit onderhou en daarvoor sorg dat nie een enkele ster uit sy plek is nie, ook uit liefde vir my en jou sorg! Nog meer – jou waarde is soveel meer as hierdie hemelliggame, jy is vir God soveel werd dat Hy jou Sy kind noem en Sy eie Seun gestuur het uit liefde vir jou! Paulus sê dit ook mooi as hy sê dat “as hierdie God dan vir ons is, wie of wat kan dan teen ons wees”!

Wat jy sien bepaal jou emosies, gedagtes en hele lewe. Wees daarom versigtig om nie heeldag vas te kyk in die uitdagings rondom jou nie. Neem eerder die tyd (en doen dit sommer as gesin) om sterre te kyk en sien met jou eie oë hoe almagtig ons God is! En weet: hierdie almagtige God is jou God! Hy is in beheer! Jou lewe is in Sy hand! En mag jy, soos die Psalmdigter, hoop en vreugde vind in die wete dat hierdie God na jou – Sy mensekind – omsien.

Mag jy in die week wat kom, God ontmoet en loof onder die sterrehemel.


Recommended Posts

css.php