Bemoedig sodat ons ander kan bemoedig!

Avatar photo

Ons almal kan doen met bietjie bemoediging in die tye waarin ons onsself bevind. Die voortslepende COVID pandemie het aanvanklik grootliks ‘n fisiese en finansiële tol geeïs, maar hoe langer dit voortduur word die emosionele letsels daarvan al meer duidelik. Dalk is dit by jou wat hierdie lees ook die geval. Moedeloos, wanhopig, gefrustreerd, kort van draad, bekommerd, hartseer – hierdie is woorde wat al meer gebruik word as antwoord op die vraag: “Hoe gaan dit daar by julle?”

In die tweede Korintiërs brief, skryf Paulus aan die gelowiges in Korinte, wat verskeie vorms van uitdagings, teleurstellings en vervolging moes verduur, en self in die proses die emosionele letsels daarvan begin wys het. En dan skryf Paulus aan hulle hierdie brief, en begin met die volgende woorde:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig…(2 Kor.1:3-4)

In hierdie woorde, wat vandag ook aan my en jou gerig word, is daar beide ‘n belofte en opdrag opgesluit. In die eerste plek word ons daaraan herinner dat God die Vader Hom oor ons elkeen ontferm en daarom in alle omstandighede vir ons moed gee. Hierdie woorde verseker my en jou opnuut weer dat God jou werklik liefhet, en aangesien God jou liefhet is Hy intiem bewus van elke deel van jou lewe. Hy weet waardeur jy tans worstel, Hy ken jou gedagtes, Hy weet wat jy nodig het – en vanuit Sy onbeskryflike liefde belowe God dat Hy vir jou sal sorg! God bemoedig ons deur Sy Gees, met ‘n bemoediging wat gegrond is op Sy getrouheid! Hierdie moed, hoop en vrede wat God ons gee is groter as wat ons menslike verstand kan begryp en verklaar – dit is Goddelike moed, en daarom kan ons weet dat alles ten goede sal uitwerk! God belowe dit! En hierdie hoop strek selfs verder as ons aardse omstandighede, en sluit die belofte van ‘n lewe na die dood in! God is ‘n ewige God, en daarom bemoedig Hy ons met beloftes van Sy trou wat in alle ewigheid met ons sal wees.

In die tweede plek, word ek en jy daaraan herinner dat God ons nie net bemoedig ter wille van onsself nie! Kinders van die Here dink nie aan hulself nie, maar gee hulself vir ander. En daarom word ons bemoedig, SODAT ONS ANDER KAN BEMOEDIG. In hierdie uitdagende tye waarin ons onsself bevind, is die groot gevaar dat sosiale afstand sal aanleiding gee tot algehele isolasie – en persone wat wel al hierdie virus geveg het, getuig daarvan dat die simptome nie die moeilikste is nie, maar om geïsoleerd te moet wees van jou geliefdes. Ons is nou maar eenmaal nie gemaak om alleen deur hierdie lewe te gaan nie. Ons het mekaar en ander nodig. Juis daarom moet ons as gemeente juis in hierdie tyd fyn ingestel wees op die welstand van ander rondom ons, en moet ons voortdurend soek na maniere om ander te bemoedig, wat hopeloos voel.

Mag jy in hierdie week vreugde en nuwe hoop vind in die wete dat God met jou is! Mag jy op ‘n baie tasbare wyse ervaar hoe God jou bemoedig, en met Sy liefde en ontferming styf toevou. En mag jy ‘n instrument van bemoediging in ander se lewe wees.

Saam in diens van Jesus Christus


Recommended Posts

css.php